Jongste aktiwiteit:

Holi-fees: Fees van kleure in Indië. (SILVER)

Holi-fees: Fees van kleure in Indië.

ʼn Land waar daar ʼn verskeidenheid van feeste plaasvind, is Indië. Een van die wêreld se kleurrykste feesvieringe vind in Indië plaas. Die fees staan bekend as die Holi-fees. Die fees word gevier ter herdenking van ʼn oorwinning van “goed oor sleg”. Tydens die fees word die Hindoe-god geprys as “God van Bewaring” omdat hy volgens hulle oortuiging daarin kon slaag om die duiwel uit te wis.

Die Holi-fees is ʼn tradisionele fees waar kleure gebruik word om goddelike liefde en triomf te simboliseer. Die fees het groot aantrekkingskrag en spoor mense wêreldwyd aan om aan die feestelikheid deel te neem. Die fees staan in baie ander lande bekend as die “Color festival” of “Kleur-fees”.

In die artikel gaan ons die oorsprong ondersoek en ook aandag gee aan die tradisies van hierdie Holi-fees. Ons gaan ook kyk na die verandering van hierdie ou tradisie in ons hedendaagse tydgleuf. Ons gaan spesifiek raak aan die geslagsdinamika in die feesvieringe asook die kommersialisering en kulturele implikasies van die fees wat vandag regoor die wêreld plaasvind.

Die Holi-fees duur oor die tydperk van twee dae. Tipies vind die fees plaas na die verskyning van die volmaan in Maart, wat by implikasie elke jaar op alternatiewe datums kan geskied.

Oorsprong van die Holi-fees.

Dag 1: Holika Dahan.

Holika Dahan, oftewel “Holika se dood” sinspeel op die oorwinning van goed oor sleg. Op die dag word die jaarlikse vreugdevure aangesteek, dit vind plaas op die aand voor die groot Holi-fees.

Die groot vreugdevuur verlig die naghemel. Groot skares toeskouers stook die vuur met stukke hout of voorwerpe wat hulle as onnodig mag beskou in hulle lewens. So word Holika, ʼn Hindiese demoon, wat met die hulp van die Hindiese god: Vishnu doodgebrand is, herdenk. Die spesiale puja – “ritueel van lofprysing” word gedoen , daar word ook gesing en gedans deur die mense rondom die vuur en die mense stap ook drie keer rondom die vuur.

Die gebeurtenis van Holika Dahan, staan ook bekend as die Narada Purana. Volgens oorlewering het Holika se broer, die duiwel King Hiranyakashyap aan Holika opdrag gegee om sy seun, Prahlad, te verbrand omdat hy ʼn aanhanger van Lord Vishnu geword het en hom nie by sy vader geskaar het nie. Holika het toe vir Prahlad op haar skoot getel en vasgehou toe sy in die verterende vuur gaan sit het. Sy het vas geglo dat geen vuur haar kan skade kan berokken nie. Wat toe gebeur het was dat Prahlad, wat toegewyd was aan Lord Vishnu, die vuur oorleef het en Holika doodgebrand het.

Anders as meeste van die ander feeste in Indië is daar op dag 2, die hoofdag van die Holi-fees, geen godsdienstige rituele beoefen nie. Die dag was uitsluitlik net ʼn gewone dag om pret te geniet!

Dag 2:

Met dag 2 word die aanbreek van lente ook gevier deur die feesgangers. Die fees word baie intens gevier met die gebruik van kleurvolle droë verf en die spuit van water op die vrolike feesgangers. Mense van alle ouderdomme kom na die strate om deel te neem aan gooi van kleurpoeier, lag en eet van tradisionele eetgoed – Gujya (soet kluitjies gebak in diep olie) en Imarti (blomvormige kluitjies gemaak van ʼn tipe soet swart boontjie).

Tydens dag 2 trek alle feesgangers wit klere aan want hulle word die skilderdoek vir kleurvolle “skilderye”. Die geverfde liggame simboliseer ʼn ode aan gode en godinne. Die helder kleure word Gulal-kleure genoem en is vroeër gemaak van bome se blomme. Mettertyd is sintetiese kleurstowwe gebruik toe bome minder geraak het in die stedelike gebiede. Die nuwe kleurstowwe is vervaardig deur paar chemiese prosesse wat gevolglik ook skadelik vir die gesig en vel kon wees. Daar is toe weer bewusmakingsveldtogte geloods om meer eko-vriendelike poeiers te vervaardig. ʼn Verskeidenheid veilige kleurstowwe word gebruik soos Cucuma longa (borrie), Indigofera (indigo) of Bixa orellana (annatto). Dit is alles bestanddele wat teen matige pryse maklik beskikbaar is.

Die verskillende kleure simboliseer verskillende temas.

Blou:

Simbool vir die god: Krishna, wie se gelaat donkerblou was nadat ʼn demoon hom sou probeer vergiftig het. Blou verteenwoordig ook die volgende eienskappe: vermoë om moeilike situasies te hanteer, vasbeslotenheid, moedigheid asook goeie karakter.

Rooi:

Verteenwoordig oordra van goeie wense aan die gode. In die Hindoe-kultuur is dit ook die kleur vir liefde en troues. Rooi poeier op die vrouens se voorkoppe is om ʼn gelukkige huwelik te vertoon.
Geel:

Dui op ʼn manifestasie van die god Vishnu wat na die bos verban is. Groen is ook die simbool van nuwe begin en nuwe lewe.

Oranje:

Alhoewel dit nie een van die tradisionele Holi-kleure is nie, word dit in die hedendaagse feeste baie algemeen gebruik. Oranje simboliseer die son wat dui op die begin van nog ʼn nuwe dag. Dit word ook gesien as die verterende vuur wat die ou dinge verbrand om plek te maak van die nuwe dinge.

Hoe het die Holi-fees oor die jare verander?

Die tradisionele fees se oorsprong was in die 4de eeu voor Christus. Die tradisies is egter ontkoppel van die oorsprong en het die geslagdinamika ook baie verander. In die ou tradisionele feeste is mans op die voorgrond geplaas maar hedendaags neem ʼn steeds groeiende aantal vrouens deel aan die fees. Dan het die Holi-fees ook regoor die wêreld begin plaasvind.

Die geslagsdinamika:

Tradisioneel is mans in die middel van die feesvieringe geplaas en in sommige dele van die land, Indië is die feeste dikwels geassosieer met dronkenskap en seksuele teistering! In vroeëre Hindoe-tradisies is daar die idee geskep dat vrouens afstand moes doen aan plesier en moes hulle ʼn vaal, onderdanige stil lewe lei. Die vrouens het in sommige dorpe van die Kumaun streek teen die oeroue tradisies rebelleer en ook aan die kleurvolle vieringe begin deelneem.

Kommersialisering en kulturele implikasies van die fees:

Die oorspronklike Holi-fees het baie gewild geword regoor die wêreld. In Londen staan die bekend as die ‘Color Run’-fees. Die mense hardloop en neem deel aan ʼn wedren en word gegooi met kleurvolle verf. In ander land soos Melbourne, Kuala Lumpur, Maleisië en selfs in Suid-Afrika en Namibië word dit gevier met die hou van musiek- en danspartytjies. Die mensdom hou nou eenmaal van feesvier.

Kultureel was daar geleenthede waar die Holi-geleentheid se organiseerders onder skerp kritiek deurgeloop het vir kulturele toe-eiening! Die eens Hindu-fees is regoor die wêreld vrylik ingespan en gebruik as ʼn “geldmaakonderneming”. Sodoende het die betekenis van die Holi-fees verander in ʼn fees wat deur die Westerse tradisies geskep is.
Kleur as handelsware.

Die ‘Color Run’ is bekend vir winsgewendheid en noem slegs die Holi-fees in vae verduideliking. Vir die joernalis Ruchira Sharma, werksaam vir “i-Newspaper’ is dit ʼn belediging dat die organiseerders van die ‘Color Run’ melding maak van die Holi-fees. Sy hou voet by stuk dat hulle die Holi-fees vir hulle eie kommersiële motiewe gebruik en dat die geensins hulle bedoeling is om Indië se Holi-fees as hulle godsdienstige fees met kulturele tradisies te bevorder nie.

Vir sommige geskiedeniskenners pleeg die organiseerder van hierdie sogenaamde kleur-feeste ʼn skreiende daad van kulturele toe-eiening. Aan die ander kant is daar ook Caru Das van die Verenigde State wat nie saamstem met die opinie van kulturele toe-eiening nie. Volgens hom is kleurfeeste ʼn geleentheid tot ʼn atmosfeer van feesviering. Vir die ‘Color Run’-deelnemers is die feeste net die geleentheid tot ʼn onvergeetlike ervaring van plesier in volkleur!

As die geleentheid hom aan jou voordoen om weer aan ʼn kleur-fees deel te neem, dink aan die kulturele oorsprong daarvan en soek na die rede waarom jy daaraan deel wil hê.

Hou dit vir jou verband met ander kulturele tradisies of is dit vir pure plesier?

©Marlene Erasmus
31/10/2021

(1257 woorde)

Bron: https://time.com/5799354/what-is-holi/

Bron: https://www.india-visa-online.com/af/holi-fees-Indië

Bron: https://af.traasgpu.com/8-mees-gewilde-feeste-in-indie/

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed