Oktobermaand – is dit al tyd vir Kersfees? (SILVER)
Oktobermaand – is dit al tyd vir Kersfees?
Ek is versot op Kersfees en al die lekker dinge wat daarmee gepaardgaan. Ek kan gewoonlik nie wag dat die spesiale seisoen van die jaar aanbreek nie. Aan die anderkant vang die idee van Kersfees my hierdie jaar my amper bietjie onverwags. Hier in die tweede week van Oktober stap ek niksvermoedende in die winkelsentrum in, my gesprek van flussies nog vars in my geheue. Ek word in my spore tot stilstand geruk toe ek myself baie skielik in die middel van Kersfees bevind!
Terwyl ek nog staan en wonder of my oë my nie dalk bedrieg nie, weergalm “Mary’s boy child …” oor die luidsprekers om my te laat besef ek sien en hoor definitief reg.
Dit voel net vir my of die besighede en winkelsentrums al vroeër begin om Kersversierings af te stof en op te hang. Hier vroeg in Oktober word die meeste van die winkels omgetower met wit, rooi en groen linte en die liggies flikker vrolik orals waar jy kom.
Jy sal vind dat sommige mense nie die vroeë vertoon van Kersfees goedkeur nie en dan bestaan die gevoel dat winkels mense uitlok om meer geld uit te gee en dat die ware rede vir Kersfees heel verlore gaan.
Baie mense wag vir 25 Desember om Kerstyd te geniet. Alles wat dan voor die dag en tyd gebeur voel of dit te vroeg is. Daar is ook die mense wat mens ander wil laat verstaan dat dit verkeerd is om Kersfees te vier.
Die stigma aan die idee om Kersfees te vier, is eintlik hartseer. Ek glo Kersfees se boodskap moet eintlik reg deur die jaar gevier word. Die goeie tyding van Jesus se geboorte geld nie net vir Kersdag nie en is elke dag goeie nuus!
Ek staan vir ʼn oomblik doodstil in die winkel voor die rak met bevrore groente en ek voel ʼn groot vrede oor my spoel. Ek besef opnuut dat Jesus aarde toe gekom het in die gestalte van ʼn gewone mens sodat ons doodgewone lewens nuut gemaak kan word! Ek weet meteens dat die vrede en blydskap van die verlossing nie net vir die 25ste Desember bedoel is nie.
Dit vul my met ongelooflike opgewondenheid om te dink dat ons mag deel hê aan die goeie tyding van Kersfees.
Al is dit net die tweede week in Oktober, as jy voel die gejaagdheid vang jou, of dinge voel donker, brand jou Kersliggies en luister na Stille nag …
Soos ek deur die winkelsentrum stap en die blink liggies en Kersversierings aanskou, dink ek aan die Kersboodskap soos in die Bybel aan ons vertel. Ongeag of dit nou eers Oktober is, hou ek van Kersfees en geniet ek die versierings wat my vandag stilweg kom herinner aan die Goeie Tyding aan ons gebring.
Geseënde Kersfees in die tweede week van Oktober.
©Marlene Erasmus
31/01/2021
(481 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2021 – Akrostiese projek