
Die laaste bus
“Ek het niks anders as skaduwees geken nie en ek het gedink dit is werklik.” – Oscar Wilde
Gewone, wetsgehoorsame mense soos ek en jy ken nie die nag nie. Ons dink ons weet, maar ons weet nie. Ons slaap rustig agter geslote deure, onbewus van dit wat afspeel in die donker skaduwees daar buite.
Daar was ‘n tyd wat Pretoria se middestad snags ‘n bedrywige spilpunt van pret en plesier was. Studente, enkellopendes, paartjies het na werk in die strate die lewe geniet. Dit was ‘n soet, ryp appel en almal wat opsoek na genot was, het kom proe. Maar as jy ‘n appel lank genoeg los, kom die wurms en ander goggas. Met die tyd saam het die appel vrot geword, en die mense het die vrot begin vermy; ander nuwer en veiliger appels gaan soek.
Vandag is die middestad iets wat jy nie in die nag probeer aandurf nie. Nie in ‘n groep nie, en nog minder alleen. Net die wat geen heengaan het nie probeer so onopsigtelik as moontlik ‘n goeie nagrus kry. Haweloses wat nêrens anders het om heen te gaan nie. Gedwing om skuiling by winkeldeure te soek, hul koue lywe in ou slaapsakke toe te draai en te bid dat hulle deur die nag kom. Want die strate is vol roofdiere. Bendes wat die strate patrolleer opsoek na bloed. Opsoek na ‘n slagoffer wat dwaas genoeg is om van die kudde af te dwaal. As hy nie beroof word nie, word hy aangerand of doodgemaak. Meer male as nie, is die dwaas se lot al drie.
Nog erger is die roofdier wat stil in die skadu’s skuil en wag vir ‘n dame wat weens onverklaarbare omstandighede haarself alleen buite vind. Die wellus soos die van ‘n wilde dier is háár noodlot.
‘n Dag of twee later lees jy in die nuus van die slagoffer. ‘n Kort, onbeduidende berig. Die polisie vra die publiek vir ooggetuies om na vore te tree. Soms vang die polisie die vreksel, maar meeste van die tyd verdwyn die slagoffer uit ons geheues binne minute. Net nog ‘n misdaad.
Ek was ‘n student by Tukkies, in my tweede jaar. Die stad was iewers tussen ryp en vrot. Daar was nog een of twee nagklubs wat brawe jongmense gelok het met beloftes van pret. Ek en my vriend – wat ook my kamermaat was – was van daardie naïewe jongmense. Solank daar drank en musiek was, het niks anders saak gemaak nie. Misdaad was iets wat met ander mense gebeur het. Ons het gedrink, gedans, geflankeer met die mooiste meisies – en na onsuksesvolle probeerslae, met die minder mooi meisies – en nog gedrink. My vriend het op ‘n stadium met ‘n blonde meisie na ‘n donker hoek, weg van die dansvloer en die geraas verdwyn. Ek het geweet ‘n gevryery en uiteindelik ander onheilighede sou volg. My vriend, wat my vervoer terug huis toe was, het my uitgelewer aan my eie lot.
Iewers na twaalf het ek by die nagklub uitgestrompel; met my lewer wat verwoed probeer het om die oormaat alkohol te verwerk, voordat ek vergiftig word. Die strate was verlate. Geen huurmotor in sig nie – en dit was natuurlik lank voordat jy ‘n Uber kon laat kom het om jou op te laai. Ek het een of twee mense, wat ook uit die nagklub uit gekom het, gevra of hulle my sou huis toe neem. Ek neem aan die dronk toestand waarin ek was het hulle afgeskrik. Die enigste oplossing was om die bus te neem. Ek het ‘n rigting ingeslaan opsoek na ‘n bushalte. As jy genoeg alkohol in het, dink jy nie logies nie. Jy wonder nie eers of busse nog daardie tyd van die nag loop nie.
Ek weet nie hoe ver ek geloop het nie, maar ek het uiteindelik op die groen afdakkie van ‘n bushalte afgekom. Die skedules was toegeplak met plakkate wat rock-konserte en dames aande by kroeë adverteer het. Ek het my skouers opgetrek, op die grond gaan sit en my kop teen ‘n paal laat rus. Gewag.
Ek weet nie wat presies my wakker gemaak het nie, maar wat dit ook al was, het my hart vinniger laat klop as wat ek gewoond was. Toe ek besef dat ek plat op die sypaadjie lê, het ek myself orent probeer kry. Toe ek na ‘n paar probeerslae orent is, het ek gekyk hoe laat dit was. ‘n Kaal gewrig kan jou nie sê hoe laat dit is nie. My horlosie was weg. Angstig het ek in my sakke begin voel, en bevestig wat ek reeds geweet het. My beursie en my selfoon was ook weg. Misdaad was toe nou nie iets wat net met ander mense gebeur nie. Voordat ek egter verder kon reageer, word ek bewus van die roggel van ‘n dieselenjin. ‘n Trekker? ‘n Trok? Ek het in die regting van die geluid gekyk en maar die pad was verlate. Alhoewel daar hier en daar ‘n straatlig gebrand het, was die hele straat donkerder as wat mens sou verwag. Die gehoes en geproes van die enjin het harder geword, en ‘n stel ligte het om die draai die donkerte verdryf. Die ligte is gevolg deur ‘n bus. Dit was nie een van die stadsraad se busse nie. Dit was ‘n voertuig wat dalk eerder in ‘n museum moes wees. Iets uit ons ouers se kinderjare. Die bus was pikswart, en alhoewel die straat donker was, kon ek ‘n swart wolk rook uit die uitlaatpyp sien kom met elke hoes van die ou enjin. Daar was ook geen bordjie aan die voorkant van die bus wat die roete of bestemming aangedui het nie. Ek het met groot oë geretireer en probeer verdwyn in die skaduwee van die busstop. Die bus het egter voor die halte tot stilstand gekom met remme wat moeisaam gekla het. Daar was geen lig in die bus self nie, so ek kon glad nie sien wat binne aangaan nie. Ek het besef dat ek myself vasgekeer het in die hoek van die bushalte, en het gevoel soos ‘n haas wat deur ‘n dreigende roofdier vasgekeer is.
Uiteindelik het die deur oopgegaan met ‘n sis en ek kon sien wat binne aangaan. Agter die stuur was ‘n man in ‘n kakiekleurige uniform, ‘n welige snor en ‘n kant-paadjie wat styf in plek gehou was met te veel haar produkte. Hy het na my gekyk met ‘n vriendelike glimlag; sy oë het geglinster op ‘n ondeunde maar tog verwelkomende manier. Toe praat hy in ‘n sagte, amper vaderlike stemtoon en sê, “Goeie naand my vriend. Kom jy aan boord?”
Ek was skielik sober, my oë soos pierings en my hart klaarblyklik in ‘n resies – hoorbaar in my ore.
“Kom,” het hy weer gepraat “hierdie is die laaste bus van die aand.”
“Ek… ek het nie geld nie…”, het ek verskoning gemaak – nie dat dit ‘n leuen was nie. Die hare in my nek het regop gestaan en my gewaarsku dat iets nie pluis was nie. Of eerder, dat alles wat ek voor my gesien het, nie pluis was nie.
Die man het ‘n oomblik gedink, en toe nóg vriendeliker gesê, “Toemaar, vanaand se rit is gratis.”
“Watse roete ry jy?” het ek wanhopig na nog ‘n verskoning gegryp.
“Huis toe. Natuurlik.” Hy het ‘n oomblik stilgebly en bygevoeg, “Onthou die lewe gaan nie oor die bestemming nie, dit gaan oor die reis. Soms moet jy jou oë toeknyp en spring. So, wat sê jy my jong vriend? Sal jy saam met ons ry?”
Ek het gevries gestaan, maar my gedagtes het op en af deur my kop gehol. Uiteindelik het ek by ‘n slotsom gekom. Dit was ‘n bus. Ek moes by die huis kom. Wat kon moontlik gebeur?
Ek het versigtig die trappies bestyg asof ek bang was ek breek iets. Toe ek voor die busbestuurder kom, sien ek dat sy glimlag dalk bietjie aangeplak was. Agter die verwelkomende masker het iets sinister geskuil. Ek wou nog omdraai om af te klim en weg te hardloop, toe die deure agter my toemaak met die sis soos ‘n massiewe slang. Die man het sonder verdere praatjies vorentoe gekyk, die bus met sy roggelende enjin aan die gang gekry en weggetrek.
Ek het maar senuweeagtig my lot aanvaar en omgedraai om ‘n sitplek te kry. Ek was verras om te sien dat daar enkele ander passasiers ook op die bus was. Dit het my dadelik kalmer gemaak. Wat kon gebeur? Veral as daar ooggetuies was.
Ek het my neergeplak op die sitplek naaste aan die deur. Oorkant die paadjie het ‘n jong meisie gesit met gitswart hare. Sy was beeldskoon, en ek het haar skaamteloos bestudeer. Ek het haar in haar middel 20’s geskat. Sy het ‘n noupassende rok, gemaak van een of ander blink materiaal, aangehad. Onder haar arm het sy ‘n bypassende handsak vasgedruk en die uitrusting was afgerond met ‘n paar hoëhakskoene. Sy het seker gevoel sy word dopgehou, want sy het skielik omgedraai en my reg in die oë gekyk. Haar grimering was dalk vroeër die aand mooi gewees, maar tekens dat sy gehuil het, het in die vorm van swart kronkelpaaie oor haar wange geloop.
Daar was iets in haar oë wat fassinerend was. Ek kon nie my vinger mooi op dit sit nie. Dalk onskuld of kwesbaarheid? Ek was vasgevang in haar oë en ek het skoenlappers in my bors voel fladder, soos wat jy voel as jy verlief is.
“Hallo.”, het sy my effe onseker gegroet.
“Haai.” Ek het myself voorgestel en bietjie nader aan haar geskuif. Haar soet parfuum het my laat diep asemhaal deur my neus. Agter die reuk van die parfuum was daar egter die walms van alkohol. Seker nie dat ek een was om te praat nie. Sy het my uitgevra oor wat ek studeer, waar ek bly, waar ek vandaan kom en alles wat jy moontlik vir iemand kon vra wat jy nou net ontmoet het. Toe haar vrae min word, toe begin ek weer die gesprek lei om haar te leer ken. Die gesprek het egter skielik donker geword. Sy het begin praat van haar kinderlewe en hoe sy mishandel is, ‘n vorige kêrel wat haar ook mishandel het en haar verloofde wat onlangs oorlede is. Ek het my kop hartseer in empatie geskud, en toe sy begin huil het ek nader geskuif om haar vas te hou en te troos. Sy het egter teruggedeins voordat ek aan haar kon raak, en ek kon die spyt van haar reaksie dadelik in haar oë sien.
“Sal jy saam met my huis toe kom?”, het sy onverwags gevra. “Asseblief. Ek het vertroosting nodig. Ek wil bietjie vergeet van al die hartseer…”
Ek was stomgeslaan dat so ‘n pragtige meisie, enigsins sou belangstel in my. Ek wou onmiddellik ‘Ja!’ sê, maar die haartjies in my nek het weer regop gestaan. Iets was nie reg nie. Iets was glad nie reg nie.
Ek het ‘n oomblik geaarsel, en besluit om eerder my sesde sintuig te volg. “Ek is jammer. Ek kan nie. Ek moet… by die huis kom.”
Dit was asof die hartseer in haar oë nog erger geword het. Sy het haar kop laat sak en weer begin huil, maar bykans onhoorbaar. Ek het my hand uitgesteek om aan haar skouer te vat, maar sy het sonder om op te kyk haar lyf weggetrek van my uitgestrekte hand.
Ek het skuldig gevoel en met die ongemaklike atmosfeer wat skielik in die lug gehang het, het ek besluit om haar eerder spasie te gee. Ek het opgestaan en ‘n ander sitplek gaan soek – weg van die wenende meisie. My oog het ‘n jong seun gevang wat op die heel agterste sitplek gesit het. Hy moes seker graad agt of nege gewees het. Sy oë het myne gevang, en die uitdagende woede en afsku in sy oë het my dadelik laat wegkyk. Duidelik wou hy nie geselskap hê nie.
Ek het op die naaste sitplek aan my weer my sit gekry. Oorkant my het ‘n ou dame gesit. As jy jou oë toeknyp en aan ‘n liefdevolle ouma dink – dit is presies hoe sy gelyk het. Tussen haar bene op die grond was een van daardie seilsakke met wieletjies, wat senior burgers gebruik om hul inkopies rond te sleep.
Ek kon uit die hoek van my oog sien dat sy na my staar. Die reuk van ‘n parfuum, wat net ouer dames sal dra, het swaar in die lug gehang. Vir ‘n oomblik het die reuk van ‘n verrottende dier ook my neusgate binnegedring, maar bykans onmiddellik weer verdwyn.
“Seun, sal jy asseblief help om my inkopies na my huis toe te dra?”, het die bejaarde vrou die stilte gebreek. “Ek sal vir jou iets lekker gee om te eet. En ‘n geldjie.”
‘n Koue rilling het by my rug afgerol. Iets was nie reg nie. Hoekom is ‘n ou vrou so laat op die bus met haar inkopies? Hoekom wou almal hê ek moet saam met hulle na hulle huis toe gaan. Ek het haar grootoog aangekyk en my kop stadig heen en weer geskud.
“Jou onvergenoegde bliksem!” Haar gelaatstrekke het skielik verander. Sy het amper soos ‘n heks, met ‘n gemene uitdrukking op haar gesig, gelyk. ‘n String vloekwoorde en beledigings het uit haar mond geborrel soos ‘n pot wat oorkook.
Ek het sonder om weer na haar te kyk opgestaan en verder agtertoe ‘n nuwe sitplek gekry. ‘n Bottel drank het oor my skouer verskyn en ek het vraende omgekyk. ‘n Middeljarige man het met ‘n wrang glimlag die halwe bottel whiskey na my toe uitgehou. Sy klere was gekreukel, sy hare deurmekaar en hy het ‘n paar dae laas geskeer. Die reuk van drank het swaar oor hom gehang.
“Vat ‘n sluk. Dit sal jou beter laat voel.”, het hy sy aanbod probeer verduidelik.
Ek het meer as genoeg drank vir die aand gehad. Ek het woordeloos weer vorentoe gedraai. Iets was nie reg nie!
“Jy gaan spyt wees. Spyt wees oor wat kon gewees het. Spyt oor almal wat jy seergemaak het. Spyt oor gister, vandag en more.”, het hy in my oor gefluister.
Die stank van drank en dood het my amper laat braak, maar ek het my asem opgehou en hom geïgnoreer. Ek móés van die bus af. Ek het die donkerte buite ingestaar. Dit wat ek deur die venster kon sien was totaal onbekend. ASof dit ‘n ander wêreld was. Dit het amper soos ‘n woud gelyk, maar ek kon nie met sekerheid sê nie. Ek het my oë op skrefies getrek en hard gekonsentreer op die skaduwees wat buite verbygeflits het. Daar was geen straatlig of ligte van huise of besighede nie. Net donker skaduwees met donkerder silhoeëtte. Elke nou en dan het ek iets gesien wat soos ‘n dier of ‘n verwronge mensefiguur gelyk het, maar dit het so vinnig verbygegaan dat ek nie kon seker wees of dit werklik en of dit net ‘n illusie van lig en donker was nie. Ek het die gevoel gekry dat ek dopgehou word en vorentoe gekyk. Die busbestuurder het my in die truspieëltjie dopgehou. Ek het moedswillig teruggestaar met die hoop dat hy ongemaklik sou voel en weg kyk. Maar hy het steeds bly kyk na my, so dat ek self ongemaklik begin voel het, en weer by die venster uitgekyk het.
Die wêreld buite het heel anders gelyk as oomblikke vantevore. Dit het gelyk soos die oorblyfsels van ‘n wêreld waar alles deur ‘n brand verwoes was. Daar was ‘n rooi gloed op die horison, so ek kon die toneel redelik goed sien. As. Verbrande bome. Swart grond sover as wat die oog kon sien. Rook het soos ‘n kombers oor die landskap gehang. Ek het begin wonder of ek werklik wakker was. Was ek dalk in ‘n koma as gevolg van alkohol vergiftiging? Het iemand dalk dwelms in my drankie gegooi? Sekerlik was dit ‘n droom.
Die bus het stadiger begin ry en uiteindelik by ‘n bushalte gestop. ‘n Figuur in swart het bewegingloos by die halte gestaan.
“Ry meneer saam?”, het die bestuurder gevra nadat die deur oopgesis het. Nie met ‘n verwelkomende stem soos vroeër nie. Senuweeagtig.
Die figuur het woordeloos die trappies opgeklim en twee sitplekke voor my gaan sit. Die bus het feitlik onmiddellik weer begin beweeg.
My oë was genael op die figuur in swart. Ek kon nie agterkom of dra hy ‘n mantel, of ‘n swart jas, of ‘n loshangende swart pak nie. Asof hy geweet het ek bestudeer hom, het hy sy kop kant toe gedraai en met ‘n bariton stem gesê, “Kom sit hier by my.” Of eerder ‘beveel’, as ‘gesê’.
Ek het gevoel hoe ek opstaan en met wankelrige bene tot by die man stap. Dit was asof iemand anders in beheer van my liggaam was, en ek kon niks doen om dit te keer nie. Ek het langs hom op die sitplek gaan sit.
“Nog ‘n braaf lewende om dit te durf om hiernatoe te kom… Of is dit domheid?” Sy stem was so diep dat dit gevoel het asof alles vibreer toe hy praat.
Ek het angsbevange na hom gekyk. Dit het gelyk of sy irisse pikswart was. Dalk was dit bruin, maar het swart gelyk in die donker van die bus? Sy oë was emosieloos, maar hoe langer ek in sy oë gekyk het, het dit gelyk asof daar iets ver agter in sy oë gedans het. Asof ek in ‘n tonnel was en ver weg aan die einde van die tonnel iets sien beweeg het.
“Jy soek seker jou beloning, sterweling?”, sê hy toe hy agterkom ek gaan niks sê nie.
“Wat? Ek verstaan nie…” Alles was deurmekaar. Niks het enigsins sin gemaak nie.
“Jy het… geslaag.” Hy het stadig van een passasier na die ander een gekyk. Ek het sy oë gevolg. Die meisie, die tannie, die tiener en die man het nou doodsbleek gelyk. Hulle oë was gesonke in hulle oogkaste en dit was asof hulle in hulle sitplekke probeer verdwyn het. Die stank van ontbintende vrot vleis het soos ‘n golf oor my gespoel, en ek het my hand voor my mond gehou uit vrees dat ek sou naar word.
“Jou beloning is…” sê hy toe sy oë weer op my rus. Hy bly ‘n oomblik stil asof hy mooi daaroor nadink. “Jy kan my enige iets vra. Ek ken elke antwoord op elke vraag wat jou klein verstand kan uitdink.” Daar was ‘n ongeduldigheid in sy stem.
Ek het hardop gelag. Dit was ‘n totale verspotte situasie. Maar in my agterkop het ek geweet dit is werklik.
“Wie is jy?” Ek het nie regtig gedink oor die vraag nie. Ek het dit eintlik glad nie bedoel as my vraag nie. As ek nou terugdink dan raak ek sommer weer kwaad vir myself. Ek kon gevra het wat die volgende Lotto wen nommers sou wees. Of wat die toekoms vir my inhou. Of daar iets soos ruimtewesens bestaan. Of hoe ek sou doodgaan… Ek wou eintlik net nog inligting kry voor ek my vraag vra.
“Wat ‘n vermorsing van ‘n vraag. So voorspelbaar. Kan niemand bietjie oorspronklik wees nie?” Hy het diep gesug asof dit ‘n groot straf was om te praat. “Jou nuttelose verstand sal nooit kan begryp wie en wat ek is nie.”, het hy geantwoord met wat moontlik ‘n spottende ondertoon was. “Maar as ek dit in jou taal moet sê, sou ek seker gesê het ek is Die Einde. Hierdie is my koninkryk. Hier is ék alles. Ek is jou grootste vrees. Ek het ‘n afspraak met elke liewe sterweling.” Weer was daar ‘n toon in sy stem asof hy eintlik vir my gelag het.
Die bus het skielik tot stilstand gekom en die deur het oopgegaan. Sonder enige verdere verduidelikings of antwoorde het die man in swart verby my geskuur. Hy’t ‘n oomblik gestop en met ‘n onheilspellende toon gepraat. “Jy kan nog vrae vra, maar dan moet jy saam met my uitklim. Of jy kan stilbly en aanvaar. Of… volgende keer…”
Soos hy by die paadjie afgeloop het, het dit geklink asof hy klopdansskoene aangehad het. Ek het met ‘n frons afgekyk en waar sy skoene moes wees, was daar hoewe. Soos die van ‘n perd. Of ‘n bok. Ek het dit egter net vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde gesien. Die ander passasiers het hom gevolg en ek kon nie lank genoeg sy voete sien om seker te maak dat my oë my nie bedrieg nie.
En toe was ek alleen in die bus. My ore het getuit van die skielike stilte. Die drywer het my steeds dopgehou in die spieëltjie. Toe hy uiteindelik oortuig is ek bly sit, het hy die bus weer al roggelend die donkerte ingestuur. Ek het probeer sin maak van die gebeure.
Was dit wie – of wat – ek gedink het dit is?
Ek het ingedagte na buite gestaar. Die toneel buite was weer bekend. Straatligte. Geboue. Vulstasies wat die nag verlig. Die bus het by die straat ingedraai waar ek gebly het en stilgehou by ‘n bushalte nie te ver van my woonstel af nie. Die bus se deur was skaars oop, toe staan ek buite. Ek het my longe vol vars lug getrek. Geen walgende reuke. Geen dood. Ek het omgedraai om ‘n laaste keer na die busbestuurder te kyk, maar die deur het reeds gesis. Die bus het weggetrek en al roggelend en met ‘n laaste harde hoes om die draai verdwyn.
‘n Blou skynsel in die lug het aangekondig dat die nag tot ‘n einde sou kom, en dat die dag weer lig op alles sou werp. Dit wat in die skaduwees van die nag geskuil het se tyd was verstreke. Vir nou.
Ek het my pad gevind tot by my woonstel, ingedagte oopgesluit en ingestap.
Skielik staan my vriend voor my.
“My hel, ou… Waar was jy?” sê hy opgewonde en omhels my asof hy my jare laas gesien het.
“Wat bedoel jy? Jy het my gelos om self te sien en kom klaar. Toe moes ek maar self plan maak… Jy is ook maar ‘n vriend se gat. Ek hoop sy was die moeite werd.” Ek was nie regtig kwaad vir hom nie. Ek is nie seker wat die emosie was wat ek gevoel het nie. Dalk iewers tussen opgewondenheid en doodsvrees. Maar dit was nie oor hom en wat hy gedoen het nie. Dit was alles die bus. Die laaste bus.
Hy het sy greep om my nek verslap, ‘n tree agteruit gegee en my aangestaar, voordat hy gepraat het. “Maar… dit was ‘n week terug, ou. Waar was jy? Almal soek jou…”
‘n Rit in die laaste nagbus is onvergeetlik. Ek dink konstant aan daardie aand. Ek weet nou wat dit is om ‘n obsessie te hê. Obsessie met ‘n hoofletter.
Ek het al ophou tel hoeveel keer ek intussen die laaste nagbus ingewag het.
Maar ek dink nie jy vang die bus nie. Die bus vang jou.
Ek móét weer op die bus kom! Hierdie keer is ek gereed met my vrae. Ek gaan ryk wees. Ek gaan beroemd wees. Ek móét die antwoorde kry!
Maak nie saak hoe vreesaanjaend die hele ondervinding is nie. Ek stem nie saam met die drywer nie. Dis die bestemming wat saak maak, nie die reis nie.
Nog net een rit op die laaste nagbus.
Hopelik lees jy nie ‘n onbenullig nuusberig van nóg iemand wat spoorloos verdwyn het nie. Nóg iemand wat deur die stad in die nag opgeëet en uitgespoeg is. Of ingesluk is…
Maar verskoon my vir eers, liewe leser. Ek dink ek hoor die geroggel van ‘n ou dieselenjin.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2021 – OOP projek