WOORDE SONDER REDE
Wys my jou wysheid as die son se strale
deur ons menswees vensters dros
en gister se spoke
kruiwa ry om ons foute aan te dra.
Kom soek my tussen jou laaste seermaak woorde
gekwes bebloed tussen krulgras teen die lewensrand;
gaan bêre jou dinamietstok woorde
in woordebunkers sonder rede
terwyl genesing op die vingerpunt van ‘n sonstraal kom
Ek verdwaal tussen die spoeg spore van die winter
sit eenkant stil met as in my hande
en die son wat skaam-skaam aanskuif na die weste
te bang om te kom vra
met woorde sonder rede
wat dit is wat my so pla
Die wind se wegloop kinders kom terg my
terwyl hy wegdraf met ‘n lag
en hy sy dag se jagtog prys
op my voorstoep as poeier neer kom plas.
Wys my die wipspring in die oggendson se woorde
die mossies wat kom water by die ysbak drink
wys my jou woorde sonder rede
dan wys ek jou hoe die dou
op elke dag se blomblaar lewe.
Woorde sonder rede
bly woorde sonder rede
en as ‘n meerkat op parade
voor sy grond paleis bly staan
is daar geen rede
om te vra oor gister se verlede
4 Kommentare
-
Evelyn van der Merwe
Hierdie is uitmuntend gepen. Ek het dit weer gelees. Jou beskrywings is weereens uit die boonste gestoeltes.
-
Cornien
Ek verdwaal tussen die spoeg spore van die winter... Is so!! Pragtig gepen
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
borrels
Woorde sonder rede ... interessante titel. Mooi geskryf.