Woorde tussen jou en my
Ek wou nog vir jou…
‘n Fênsie gedig skryf
en spog met my taal
en ‘n ou digterslyf
laat pronk – toe my muse verdwaal
en daar laat ek die aap uit die mou.
Ek wou nog vir jou…
klank met klinkers
en waardig afdraand waggel
met rymende woorde en tooi’ende blinkers
sonder om woordloos te hakkel –
toe vergeet ek hoe… wat nou?
Ek wou nog vir jou…
die sinnigheid leer van ‘n sonnet
of miskien ‘n kwasi – kwatryn
of dalk ‘n koester koeplet
toe skink ek daai wyn
en raak bedruk en huil toe gou.
Ek los toe maar die oktaaf
vir laaste…
en raak liries soos ‘n prediker
met ‘n vers deel uit spreuke
en sê : “Laat staan jou streke
en woeker met jou woorde,
wees lief vir jou naaste,
want ‘n sagte antwoord keer die grimmigheid af!”
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.