Brand jou fakkel, my held
Jare reeds verloop, maar ons praat dieselfde taal –
anders op die oor, maar in die hart is ons een…
van Klara Majola, Dirkie Uys of Racheltjie de Beer
bly ons helde, al verskil ons kulture
is ons nog vandag mekaar se bure.
Klein Klara Majola lê verkluim, sy’t haar blinde pa gaan soek…
hul sê dit was in die Bokkeveld agter die Witzenberg,
kon sy nie hoor toe die ska-wagter roep,
sy’t gegly op rivier klip en was te koud vir die nanag vloek.
Dirkie Uys se pa swaar verwond met assegaai,
het hy dapper geskaar om hul lewe te bewaar
teen die oormag en dodelike lawaai
van helse kreet tot ‘n bleke staar.
Racheltjie de Beer, het haar lewe gegee…
Frikkie die kalfie was op soek,
en sy en haar boetie verlore in die weer,
met koue op die been en lewe in ‘n hoek
het sy als geoffer vir haar bloed.
Ster op die arm, staal in die hand…
soek jy tussen riool en koue beton,
hul sê sy’s jonk, gebroke met vandag se gemors,
soek jy onder elke sak en verslete karton,
na ‘n liggaam verweer en bros –
bid jy vir lewe of totale verlos.
Jy gee meer as net die ekstra myl,
soekend met elke tree wat jy loop…
moeg moet wag met sy eie heil
want in jou hart brand hoop –
soos ‘n eeue oue fakkel van lig
skyn jou flits soos ‘n lewenslyn
wat nie teen onheil swig.
So is die hart van ‘n held
sommige in geskiedenis vermeld,
die ander loop tussen ons elke dag
‘n fakkel lig in die donker nag.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.