Die EKG
Die EKG
So met verloop van tyd begin jou lyf mos stelselmatig te protesteer teen jou herhaalde misbruik van sy goedhartigheid. Jou oë wil nie meer lekker fokus nie, en jou ruggraat versteen stelselmatig. Buk raak werk, en jou toonnaels is skielik van ʼn besonders harde titaan allooi gemaak. Dit wil my voorkom of ek en my lyf nou by dáárdie plek in ons verhouding gekom het. Dit is in hierdie tydvak van jou lewe wat dokters begin frons as hulle jou dun leërtjie deurkyk en vra wanneer het jy laas vir ʼn ondersoek gekom. Daardie frons verdiep as jy hul dan vertel dat jy hulle drie jaar gelede gesien het toe jy Liefie ingebring het met longontsteking om medisyne te kry. So ʼn maand of wat gelede het ek myself in so ʼn medisinale frons vasgeloop daar in die dokter se spreekkamer. Maar ek loop my storie nou so vooruit ek sal moet spoorsny om weer die begin daarvan te kry.
Jare gelede tydens diensplig het ek skielik hoë bloeddruk ontwikkel. Dit het egter sonder medikasie reggekom nadat ek my diensplig voltooi het, of so het ek gedink. In my familie is hoë bloeddruk mos so algemeen soos bruin oë onder die Zoeloes. Ma het al donkiejare terug ʼn bloeddrukmasjientjie gekoop sodat sy self kan oog hou op almal se prestasies – en ons kan presteer! Hoewel ek vir jare geen las van bloeddruk gehad nie, het dit wel effe hoog getoets op ma se masjientjie. Dit was darem meestal nie so hoog soos die ander deelnemers sin nie, en mens kan dit miskyk as jy jou een oog toehou en anderpad kyk. Dit is wat ek maar gedoen het, en dit het uitstekend gewerk tot so vier weke gelede.
Ek word die Donderdagoggend wakker en maak niksvermoedend my oë oop. Stadig dring dit tot my slaapbenewelde verstand deur dat iets fout is, want my linkeroog wil net nie sien nie. Ek vat my wysvinger en trek die ongehoorsame ooglid oop, maar kom met ʼn skok agter dat my oog klaar oop is. Dit vat ʼn oomblik vir my om te besef dat ek oornag blind geword het in my linkeroog. Ek skrik amper-amper daardie liggaamsdeel af wat so vreeslik belangrik is vir toilet toe gaan. Dit vat ʼn paar diep asemteue voor ek my hartklop en my verbeelding onder beheer kan kry. Ek sit die bedliggie aan en besef dat ek darem tussen lig en donker kan onderskei met die oog wat nie wil werk nie. Ek begin pynlik jammer vir myself te voel, en ek wend my na my beminde wederhelfte vir ʼn bietjie simpatie. Ek wil nou nie vir Liefie so skrikmaak met my mediese toestand dat sy dalk ook ʼn dokter nodig kry en dan nie aan my behoeftes aandag kan gee nie, so ek probeer maar so traak-my-nie-agtig as moontlik vir Liefie oor my predikament inlig. Ek faal liederlik in hierdie ridderlike daad van my. Liefie skrik so groot ek moet haar eers kalmeer, en ek kan sien as ek nou haar bloeddruk toets wen sy die hele familie se topscores. Toe sy uiteindelik oor die skok is, toe word sy warm onder die kiewe! Maar ek meen warm soos in staalsmelt warm. Volgens haar het ek die blindheid aan myself te danke. Vir jare al kerm en kla sy soos Salomo se druppende kraan dat ek moet gewig verloor, en nou is dit te laat! Terwyl sy so tiervis oor my oorgewig en die gevolge daarvan, begin ek darem myself te bejammer. Ek soek simpatie, en Liefie lees Leviete voor. Ek is amper lus en bel Ma, maar besluit dit sal olie op die reeds brandende vuur wees. Hoewel die land van die blindes my soos een man tot koning sal salf, voel ek erg besorgd en beswaard. Ek kan op geen manier sien hoe my effense oorgewig wees my oog met blindheid kon slaan nie, maar hoe meer ek Liefie van my onskuld probeer oortuig, hoe meer oortuig raak sy van haar eie opinie. Gelukkig is Liefie se tirade soos ʼn stoompot se uitlaatklep; hoe meer sy praat, hoe meer stoom verloor sy. Nadat die ergste hoëdruk uit Liefie se sisteem ontsnap het, skop die omgee uiteindelik in en ek kry die simpatie wat ek so desperaat na smag. Teen die tyd sit selfbejammering al op my soos ʼn nat kombers.
Liefie en ek gaan sien ʼn optometris wat die middag diep in my oë kyk, so diep dat sy sien ek het ʼn beroerte agter my oog gehad. Dis wat sy sien; wat ek sien is Liefie se gesig wat spierwit word. Ek is skielik baie jammer ek het haar saamgenooi na die afspraak, want te oordeel aan die kleur van haar gesig gaan dinge vir my moeilik gaan as ons eers weer alleen is. Daardie meisie wat so diep in my oë geloer het neem toe my bloeddruk. Ek slaan die metertjie daar waar geen een van my familie nog ooit by uitgekom het nie. Ek vang Liefie se oog en die selfbejammering begin soos ʼn honger hond aan my hart te knaag – ek weet sommer ʼn streng gekontroleerde dieet gaan van nou af my voorland wees. Van die optometris af is Liefie met my reguit dokter toe; ek het nie eers tyd om by ‘Begin’ verby te gaan en my R200 te kollekteer nie. By die spreekkamers gekom wil ek my nog aan ons huisdokter (ʼn baie mooi meisie, so met die een oog gesien) voorstel, maar Liefie dink blykbaar daar is nie nou tyd vir groet en familiebande uitlê nie, en vertel kortliks die hoogtepunte aan haar. Dit is toe dat ek daardie frons sien toe die doktertjie my leër optel en begin soek na inskrywings oor my mediese geskiedenis. Daar en dan doen sy elke moontlike en onmoontlike mediese toets. Sy laat trek bloed dat ek sweer die bloedbank sal moet kom terugsit as sy nog ʼn onttrekking uit my wil laat doen. Na sy lank en aandagtig na my hart geluister het en my bloeddruk drie keer geneem het, stuur sy my huis toe met ʼn voorskrif pille wat die apteker sal verseker sy gesin se kostes vir die maand is gedek. Sy maak seker dat Liefie my oor drie dae terugbring vir ʼn EKG en ʼn prostaat kanker toets. By die hoor van die prostaat toets knak my knieë. Ek was nog nie persoonlik by een van daai betrokke nie, maar ek het al gehoor daar word vingers ingedruk by plekke wat gemaak is vir eenrigting verkeer. Ek sien nie kans vir die mooi meisie om so ʼn delikate prosedure met my te doen nie, en opper luidkeels my besware. Ek word gerusgestel dat hul net bloed gaan trek, maar ek is nou so leeg getrek ek moet eers ʼn dag of wat gaan bloed produseer voor hul weer aan my gaan vampier.
Drie dae later sit ek en Liefie in die EKG kamer en wag dat hulle my moet kom opkoppel aan die komper. Ek begin effe bekommerd te raak, want daar staan ʼn oefenfiets langs die bed. Ek glo die motor met sy binnebrandenjin is hier om te bly, so ek is nie ʼn fietsryer nie. Paulus waarsku dan ook dat fisiese oefening weinig nut inhou – en ek glo vir Paulus! Ek wil net begin verskonings uitdink toe kom daar ʼn mooi dametjie daar ingewals. “Trek maar die hempie uit Oom” vra sy sommer so met die inloop. So met net een oog is dit moeilik om ouderdom te skat, maar ek dink darem nie dis nodig vir die nooi om my ‘Oom’ te noem nie. Ek trek my hemp gedwee uit en probeer om my maag in die fatsoen te hou wat hy jare gelede in was, maar dit sukkel. Sy beduie vriendelik na die fiets, “Sit sommer op die fiets dan plak ek gou die elektrodes.” Toe begin die meisie my te beplak met stickers terwyl ek met my maag en gravitasiekragte stoei, en toe druk sy drade aan die stickers. Voor sy uitstap verduidelik sy vir my ek moet die fietsie trap vir twee minute, terwyl ek die tempo op ’n sekere vlak probeer hou. Sy maak eers seker ek kry die fiets op die regte spoed voor sy uitstap en my en Liefie alleen los. Verlig laat skiet ek die paar maagspiere wat ek nog oor het na jare van verwaarlosing. Dit smaak my die fiets begin op ʼn steil afdraande, want ek moet eintlik effe briek om nie die tempo te hoog te kry nie, maar toe tref ek die een of ander berghang! Die fiets se pedaal word kliphard hier onder my voet en ek moet so half my dinges uit die saal lig om die pedaal afgetrap te kry. Angssweet slaan verwoed op my voorkop uit, want ek weet nie of ek besig is om ʼn mynhopie uit te ry en of ek besig is om Tafelberg of selfs Mount Everest te bestyg nie. Na so ʼn minuut is ek egter oor die berg se piek en ek arriveer op die Kaapse Vlaktes. Ek voel hoe die bewerasie my bene verlaat en my asemhaling keer terug na normaal. Liefie, wat my die heeltyd dopgehou het asof sy verwag ek gaan omdop en die begrafnispolis laat uitbetaal, begin ook ontspan. Dit is op die Vlaktes dat die mooi meisie weer ingestap kom, net reg om ‘Oom’ se grand finale te sien. Die nooi se instap befoeter egter my asemhaling, want geen man wil voor ʼn mooi meisie asem insuig soos ʼn agtsilinder enjin nie, maar dit is al manier hoe ek suurstof in my longe kan inkry. Ek moet ook weer gaan soek vir daardie paar maagspiere sodat my maag darem weer bokant my belt sit – ʼn man het darem sy trots jy weet. “Oom kan maar op die bed gaan lê.” sê sy vriendelik en maak seker al die drade is nog reg vas aan my toe ek my lê gekry het.
Dit is op hierdie punt dat dinge vinnig agteruit gaan. Toe ek nog regop gesit het op die fiets, het elke ding sy eie spasie geokkupeer. My longe was bo, my maag was onder (dalk te ver onder, maar onder), en ek kon lekker diep asemhaal – dit mag dalk geklink het of ek my laaste asem insuig, maar daar het darem suurstof ingestroom. Die oomblik toe ek gaan lê begin my longe en my maag stoei vir dieselfde spasie in my borskas. Dit is dan ook op die oomblik dat die mooi dokter ook instap en my arm hier teen haar lyfie vasknyp terwyl sy my bloeddruk meet. Hier lê ek weerloos hemploos snakkend na asem, terwyl drie mooi vroue my elke beweging met valkoë dophou. Liefie lyk of sy seker is die klein lewenspolisie gaan uitbetaal en sy weet dat daar nie genoeg is vir haar en die kroos nie. Die mooi assistent bly druk aan twee van die pleisters wat skynbaar bietjie losgetrek het en verkeerde lesings gee, en die dokter het steeds my arm teen haar lyf vasgeknyp en luister nou na my hartklop deur haar stetoskoop.
Ek probeer eers om deur effe oop lippe lug tot in my longe te kry, maar dit kom niks verder as my keel nie, toe moet ek al uitasem. My lyf begin smeek vir suurstof, maar my brein gee bevele dat ek nie my waardigheid mag prysgee voor die drie mooi vroue in die vertrek nie, en ek suig weer sagkens deur effe oop lippe. My lyf se smeking het nou oorgegaan tot ʼn fel geskree na suurstof. Ek besluit na die derde poging ek gaan of my mond moet oopmaak en die suurstof wat ek so brood nodig het uit die lug uit hap en inforseer, of ek gaan flou val en doodgaan so met my arm vasgeknyp teen die dokter. Ek hou egter uit, want ʼn man se waardigheid is ʼn man se waardigheid! Toe ek egter ʼn helder lig begin sien in die oog wat nog redelik blind is, weet ek dis tyd om vir my waardigheid totsiens te waai. Ek voel en klink soos ʼn man wat sy asem te lank onderwater opgehou het en met sy laaste bietjie inspanning deur die water breek en ʼn diep teug suurstof uit die lug uit gryp. Ek neem so ʼn groot teug lug dat die dokter amper van die bed afval, Liefie spring op om my by te staan in my laaste asemteug op aarde, en die mooi assistent gryp na die masjien wat hulle gebruik om harte mee te jumpstart. Ek wil vir hulle gerusstel en verduidelik dat ek nie besig is om te sterf nie, maar my lyf het in ʼn onwillekeurige suurstofnood asemhaling ingegaan en ek suig en blaas lug soos ʼn industriële blaasbalk.
Die dokter is die eerste een wat besef ek sal leef, seker omdat sy weer haar stetoskoop op my hart het – ek gee egter nie meer om nie, ek blaas en suig aan die lug asof my lewe daarvan afhang. Daar is ʼn tyd vir pose, en daar is ʼn tyd vir asemhaal; en hierdie is nie die tyd vir pose nie. So na die tiende asemteug begin ek weer mens te voel, en ek sien Liefie begin glo die polis gaan nog nie uitbetaal nie. Die mooi assistent het ook weer die defibrillator daar in die hoek gaan wegsteek.
Maar nou maak die meisies die lewe vir my eers moeilik, want nou wil hulle met my praat, en hulle verwag antwoorde – en ek soek net tyd om asem te haal! Ek probeer so tussendeur die asemhaling hulle te antwoord, maar my stem is bewerig. Êrens tussen hulle vrae en my gebrekkige uitasem antwoorde begin Liefie die humor in die situasie te sien, en sy begin vir my te lag. Nee nie saam met my lag nie… vir my lag! Die trane rol oor haar wange, en dit is skynbaar aansteeklik, want nie te lank nie of al drie die dames lê soos hulle lag. Dit is eers toe die assistentjie uitasem vir my sê: “Hel Oom, jy’t my laat skrik!”, dat ek ook begin saam lag; nie omdat ek nie gedink het dis snaaks nie, maar eerder omdat ek eers toe genoeg lug in my longe gehad het om te kan saamlag.
Ek wil tog ʼn stukkie wysheid deel met al die manne wat die skrywe lees. Sou jy ooit vir enige rede dringend ʼn dokter of spesialis moet gaan sien, moet op geen manier toelaat dat jou vrou saam met jou gaan nie. Al moet jy stap, stap dan eerder, maar maak seker jou vrou is nie daar om die slegte nuus te hoor nie. Liefie het so groot geskrik toe sy van die ‘beroerte’ gehoor het, dat ek nou nog nie een aand meer as ʼn halwe bord kos kan opskep nie. Al het ek dertig persent visie in my linkeroog verloor, dink ek nie dit is die rede hoekom ek nie kan sien wanneer ek weer ʼn lekker stuk steak met ʼn stewige stukkie vet aan gaan eet nie. Nee manne, as jy gelukkig wil wees, los Liefie eerder by die huis – sommige kruise moet jy maar eerder op jou eie dra!
© Stephan Uys
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.