Jongste aktiwiteit:

Jou Hart Is Nou Stom

As die hartseer jou vat
soos ‘n hand om jou nek
en jou trane loop oor
soos ‘n windpomp wat lek

sien jy dan nog die dag
of die skemer wat daal
en die ruiter wat kom
om sy loon te kom haal?

Met sy mantel van swart
wat wyd staan in die wind,
die wind wat sag kerm
soos die huil van ‘n kind

of lê die traan in jou oog
soos ‘n dof-bril se glas
en net skimme wat dans
van die gisters wat was?

En jou hart speel tamboer
op ‘n oer-oue maat
wat jou weerloos verlate
aan die noodlot oorlaat

word jou staan nou jou val
met die donker se kom
stil die roep van jou siel
want jou hart is nou stom

© Anton Bosch 04/07/2017




1 Kommentaar

  • See-Jay-El

    Die rym en ritme skep 'n bedrieglike beeld van vrolikheid, asof die skrywer sy seer probeer wegsteek. Maar die swaar woorde verklap 'n hart in donkerte en seer. Die verteller gebruik beelde wat die leser neem na oop vlaktes van verlatenheid, waar die hartseer soos 'n ruiter reeds van vêr af gesien kan word. Maar die skrywer is magte loos om hom te verhoed om sy loon te kom eis. En hy laat hom net oor aan die hartseer wat "soos 'n windpomp lek." Die windpomp kan net waterlek as die wind hom laat draai en die pomp diep uit die hart van die aarde water haal. So kom ook die digter se seer uit die dieptes van sy hart. Duidelik het die hartseer die digter in 'n wurg greep, want sy "hand is om jou nek." Die openingslyn van die tweede strofe het 'n sterk boodskap wat vir die leser vertel, as hartseer jou só om jou nek vashou, kan jy nie die dag of die skemer (einde van die dag) sien nie. Die beeld kan versterk word deur die gebruik van 'n aksent op die "nog" Die vraagteken na die stelling: "en die ruiter wat sy loon kom haal" laat die leser onmiddellik wonder, want dit roep die spookbeeld van die ruiter van Nooitgedacht by jou op.. Het hy ook 'n verlore skat kom haal? Maar dan volg die skrywer se verduideliking "net skimme wat dans, van gisters wat was?" Die spoke uit sy verlede laat hom weerloos teen die mag van die hartseer besoeker. Dan kom die uiting van hoe diep hierdie pyn werklik is, wanneer hy in die voorlaaste strofe waarin hy verklaar: "en jou hart speel tamboer op 'n oer-oue maat. " Die vrees vir die oorgawe aan die hartseer wat diep en ver uit die verlede oor jou spoel. Hy besef dat dit wat hom van te vore staande gehou het, is juis die rede vir sy hartseer. Met die naderende nag word die skrywer se gedagtes stil in die stom seer van sy hart.

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed