Skadu van ‘n Siel
Trane druppel-druppel
op die wit papier
en ‘n hart bloei stil
in die donker rivier
van ‘n siel se pyn
as die dood sy skadu
oor ‘n lewe kom gooi
en die kyk verdof
soos die prent verstil
want die vraag is stom
en die nag is lank
voor die dag kom breek…
maar die son kruip weg
net die grys lug hang
soos ‘n donker spieël
as die lewenskleur
uit die siel uit bloei
en ‘n rugkant-lewe
eindelik ophou groei…
© Anton Bosch 08/02/17
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
See-Jay-El
Dis 'n bitter bitter seer wat hier neergepen is. Die werk beskryf die dood in al die skakerings en skadus en plaas die leser in 'n somber tasbare ruimte wat deur pyn gekenmerk word. Beelde soos "en die kyk verdof soos die beeld verstil," skets die laaste oomblikke van 'n lewe. Laat die leser verslae toe kyk hoe twee mense deur die dood geskei word. Die totale verslaenheid, alleenheid van die skrywer word so dramaties oorgedra: " maar die son kruip weg, net die die grys lug hang." Na die lang nag wat verby gegaan het is daar 'n flikkering van hoop... die son van die nuwe dag, maar al wat op hom wag is 'n grys lug, wat bydra tot die somberheid van die ruimte. Hoewel dit voorkom of daar 'n fisiese dood hier beskryf word, laat die skrywer sagte fluisterings deurskemer, van 'n kosbare intieme liefdesverhouding wat tot 'n einde gekom het. Maar hier is hy nie die slagoffer nie, maar het hy 'n eie aandeel gehad aan die beeindiging van hierdie verhouding, Let op die subtiele woorde in die laaste twee lyne: "en rugkant-lewe eindelik ophou groei." Hy het weg gestap uit die verhouding, alhoewel dit nog aan die oopvou was. Dis juis in hierdie mooi jong groei, ontdek en leer stadium wat liefde op sy teerste en mooiste is. Daarom is die einde van hierdie verhouding vir hom so bitterlik seer, soos om iemand aan die dood af te staan. Hieruit kan mens die afleiding maak, dat die skrywer ontsaglik lief was vir hierdie vrou - genoeg om haar te laat gaan. Maar hy is so intens seer oor haar "heengaan" dat dit vir hom voel, asof hy letterlik van binne doodbloei. Hierdie ruimte in tyd is nie net somber nie, maar speel hom in die nagtelike ure af, wanneer die eensaamheid en die verlang op sy mees ondraaglikste is: "en die nag is lank," In hierdie donker tyd hou hy homself in 'n "donker spieël," waarin daar geen lig weerkaats om kleure en dimmensie te reflekteer nie en al wat hy het is die vraag wat hy in die donker hartseer oor en oor kan vra, maar daar is geen antwoord, want die vraag is stom! Dis Anton Bosch op sy meesterlike beste. Die gedig trek jou hoorder onmiddellik in jou hartseer in, terwyl jy hom stadig lei deur jou hartseer se skakerings van donker, somberheid met weinig lig.