Die PANSERSLAG
Op die vlakte, etlike honderd vierkantkilometers groot, woel die yslike kettingvoertuie die aarde om, soos die kompanies probeer om in ‘n gunstige posisie te kom. Om aan te val, om te skiet. Om veilig in beweging te bly, om nie geskiet te word nie. Die vyandelike verbande voer ‘n kompliseerde dans uit, soos versigtige swaargewig-boksers wat met wakker oë mekaar bespied en ‘n opening in die ander se verdediging soek.
So gaan dit die hele dag al en heelwat skote is reeds afgevuur, maar nog het niemand die oorhand gekry nie.
‘n Offisier merk dat sy wa herhaaldemale op ‘n punt uitkom, waar ‘n rooigeverfde houtpen in die grond steek.
Ringsom is alles oopgeskeur, verrinneweer. Maar hierdie rooi pennetjie bly in die midde van die moeras staan met ‘n klein kolletjie groen daarom. Die offisier spring af wanneer sy wa daarnaby tot stilstand kom; hy loop oor om te kyk, wat is dit wat daar gekenteken word, wat nie omgery word nie.
Dit moet ‘n plaasseun uit een van die tenks van een van die leers gewees het wat reeds soggens vroeg ‘n markeerpen daar ingeslaan het.
Dis ‘n lewerik se nessie.
©.2016………………………………………………….ooOoo…………………………………………………………..tje
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.