Die drie F’s
Dit weergalm oor die vlakte. Fatima verskree haar verslonste tienerseuns. Sy het haar weer oorgegee aan ’n kruie zol en is verergd omdat hulle durf kos vra. “Al wat julle wil doen, is vreet! Kyk hoe lyk hierdie varkhok. Van vandag af sal daar eers kos wees as julle ook geld inbring. Julle drie lummels kan mos help verdien of op ’n ander plek gaan bly! Toe, kies nou…honger of werk.”
Freek, Freddie en Ferdie loer senuagtig onderlangs vir mekaar. Kan sy ernstig wees? Hulle is dertien, veertien en vyftien. Wie sal vir hulle werk gee? Fatima pluk die seuns se klere van die hangers af, gooi dit als op ’n hoop en krap die bondel bymekaar in haar arms. Sy steier en slinger die gang af en smyt die hele spul buite die agterdeur. Toe stamp sy die seuns een vir een, ook by die deur uit en draai die sleutel in die agterdeur. Sy het namens hulle gekies.
Vanaand gaan hulle nie smeek en huil nie. Vanaand begin hulle ’n nuwe lewe. Elkeen breek ’n tak uit die ou dooie boom en maak sy eie bondel klere daaraan vas en swaai dit oor die skouer. Hulle vat koers na die liggies van die buurdorp op die bult.
By Basjan, die kruie verkoper, kry hulle slaapplek in sy ou verinneweerde sinkplaat kaia, op iemand se werf. Dis al wat Basjan nou kan bekostig, maar deel sy groot drome met die drie. Drome van ryk word. En sommer een van die dae, meen hy. Freek droom saam en besluit hy gaan saam met Basjan kruie verkoop, want hy wil ook vinnig ryk word. Ongeag hoe ernstig die ander boeties hom waarsku, hy het finaal besluit.
Freddie en Ferdie stap verder, kort na sonop die volgende oggend. In die hoofstraat herken Freddie vir Berendt, waar hy uit sy blink nuwe swart sportmotor klim. Hy het ’n swart lamsleer baadjie aan en ’n dik ketting om sy nek. Sy kop is kaal geskeer, behalwe vir ’n strook hare wat regop staan regoor die middel van sy skedel. Klein Freddie se oë glinster uit pure hoogagting en ontsag vir sy skoolmaat se ouboet. Op die ingewing van die oomblik stap hy nader. Hy groet nederig, met sy pet in sy hande toegevou.
“Wat soek ’n snuiter soos jy op straat as jy in die skool moet wees?” snou Berendt hom toe. “Ek soek werk meneer, kan meneer my nie dalk gebruik nie?” vra Freddie met bewing in sy stem. Smalend kyk Berendt hom aan, stap om hom en grynslag sodat sy een goue tand vertoon. Hy dink aan al die pakkies wat afgelewer moet word. “Sal jy doen wat ek jou beveel en gaan waar ek jou stuur?” vra hy honend. “Ja meneer, ek sal meneer, seblief meneer, ek wil.”
Ferdie stap alleen verder, met ’n diep frons op sy voorkop. Hy is bekommerd oor sy broers en dit waarby hulle nou betrokke raak. Hy weet dit voorspel moeilikheid, maar hy kon hulle geen beter keuses bied nie. Toe die son reg van bo fel op hom steek, klim hy deur ’n draadheining en sak moeg en honger onder ’n koelteboom neer. Binne oomblikke slaap hy vas.
Die koel hand op sy voorkop maak hom wakker en toe hy sy oë oopmaak kyk hy vas in ondersoekende goudbruin oë. Verskrik spring hy op en stotter: “askies…askies meneer, ek is nie ’n skelm nie meneer, ek wou net bietjie…bietjie rus meneer… askies meneer…” Die man lig sy groot hand om hom stil te maak. In sy oë sien Ferdie medelye: “kom ek vat jou huis toe. Dis my plaas hierdie. Jy lyk of jy dae laas geëet of gewas het. Moenie bang wees nie.”
Na ’n yslike bord kos en ’n glas yskoue melk, luister die boer na Ferdie se hele verhaal en deel sy bekommernis oor sy boeties. Hy verduidelik dat hy nie by kriminele dinge wil betrokke raak nie. As hy maar net skool kan klaarmaak. Daar is slegs twee jaar oor. Hy wil so graag ’n dokter word en dalk kan hy ’n beurs daarvoor kry. Die boer trek aan sy kromsteelpyp en dink diep. Hy hét die antwoord.
Tien jaar later werk dokter Ferdie by ’n staatshospitaal. Hy is besig met sy vereiste praktiese diensjare. Volgende jaar neem hy sy eie praktyk oor. Daarvoor het die boer vir hom in sy testament voorsiening gemaak.
Ferdie bejammer die arme mense wat vir ure in lang rye sit en wag. Soms tot laatmiddag voor iemand hulle kan ondersoek. Voor hom sit ’n maer man, met geboë hoof en gebarste lippe. Hy antwoord met ’n hees stem. Duidelik is hy baie siek. Ferdie lei hom na die smal bedjie en moet hom help om op te klim.
Eers toe hy plat lê, sien Ferdie sy gesig en snak na sy asem: “Boeta? Boeta Freddie is dit jy?” Freddie is so dankbaar toe hy ook vir Ferdie herken, dat hy geluidloos huil. Trane rol weerskante van sy kop tot in sy ore. Hy het nie eers genoeg krag om ’n hand te lig nie, maar hy knik darem sy kop.
Hy kap heftig teë toe Ferdie hom in die hospitaal wil laat opneem. In sy hees stem praat hy weer: “ek durf nie hier bly nie. Hulle sal my kry!”
“Wie sal jou kry?”
“Die polisie se wolwe! En ek moet vir Freek beskerm. Ons sal tronk toe gaan as hulle ons kry. Daarvoor sal Berendt en Basjan sorg!” Hy hyg na asem.
Hy bedaar eers toe Ferdie besluit om hom na sy eie huis toe te neem. En belowe dat hulle eers vir Freek sal gaan oplaai. Dat hy hulle sal beskerm en dat sy prokureursvriend hulle onskuld sal bewys. Dat hulle by hom mag woon en hy vir hulle sal sorg, soos dit ’n waardige ouboet betaam.
Vandag, maande later, het hulle elke dag kos om te eet, want hulle werk elke dag. En hulle blyplek is allermins ’n varkhok. En Berendt en Basjan? Van dié wolwe, sal die drie broers nooit weer hoor nie.
Dink maar self op watter kinderstorie hierdie verhaal gebaseer is.
3 Kommentare
-

Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2019 projek
-

Ronel Janse van Vuuren
Wonderlik!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Palet
Die 3 varkies ;-)