1: OP DIE YSBAAN
Die winter is n regte man, 1: OP DIE YSBAAN
[245 woorde]
In die loop van meer as veertig jare Europese winter het ek elke moontlike weer in die verskillendste omgewings beleef. Van die koudste koud wat denkbaar is, tot soele „groengeverfde somer”.
Die kinderrympie sê:
Die winter is ‘n regte man;
wat hy doen, dit is van duur.
Sy vlees voel hart soos yster aan
en smaak nog soet nog suur.
Toe ons eie kinders nog nie skoolgaan nie en ons oudste, met vier, vyf jare, op die ys wou loop, het ons nie „Schlittschuhe” (skaatse) gekoop nie, maar iemand het ons „Gleitschuhe” geskenk. Glyskoene moet ons seker sê. Dis vlak metaalplaatjies, so drie sentimeters breed wat soos rolskaatse onder die eie skoene vasgemaak word, nie die modiese halfstewels met die hoë, skerp balansyster soos ‘n skip se kiel wat die grootmense dra nie.
Af, veryste dam toe. So ongeduldig was hy, dat ek met moeite die rieme kon vasbind. En het dadelik losgetrek, asof hy op die ys gebore was. Sy pa, dis nou ekke, staan daar met voete wat nie wil standhou nie en groot ronde vreesoë wat na strooihalmpies soek. Daai ding is glad, sê ek julle. Glad! En as jy daarin byt daar proe dit werklik nog soet nog suur!
In die Alpe word in Oktober tweemeterlange pale, met rooi reflektore bo, langs die paaie ekstra ingeplant ingeval die sneeu so hoog is dat die swartwittetjies nie meer sigbaar is nie. . . Ja, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.
3 Kommentare
-

Kiekies
Eishhh dit klink gevaarlik ook!!
-

Ano
Goeiste, die kinders wat darem so vreesloos is, is te wonderlik. Maar hulle is aansienlik nader aan die ys as ons wat dubbel die lengte is! En veertig jaar - sjoe, dis nogal n lang tyd ne?
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2019 projek