Charles Skeen (Teárlach)
BRONS KLAS
Augustus 2019 – Wilde wind projek
1.Mistig
pikante, dekadente visgereg
sag soos sy geweef in diep blou see
so laai die miswolke op oor die baai
met dagbreek is sigbaarheid min
stadig blaai sonstrale daardeur
open die baai soos ‘n boek
met bladsye van ragfyn
strale oranje lig
wat woorde
in kleure
verf
©Teárlach
3.dit is gedoen
in die omte van my duin
het ek gefilosofeer en gedroom
my gees het behoorlik gesweef
gedagtes het woorde geword
woorde het gedigte gemaak
gedigte het stories vertel
party word gelees
ander vergeet
gedoen
maar
nie
volbring
©Teárlach
September 2019 – Verplasings projek
2.Lente by die see
soos dit in een dag winter geword het
is dit vanoggend van vroeg af al lente
my duin straal klein hittegolwe uit wat
blinkend refrein teen die see se deining
naby in die swartland staan die koring
geil-groen,regop en reg om saad te skiet
plek-plek in droeër kolle begin die geel
waar minder reën geval het plante kwyn
die baai is so kalm soos voor ‘n storm
lê soos ‘n spieël uitgestrek tot horison
met groot met gwano wit-geverfde rotse
wat soos renosters net stil staan en wei
hierdie naweek op my duin is daar lewe
die eerste maand met ‘n R is mos hier
nou kom hengelaars en naweekgangers
weer see toe na die koue suid-ooster lê
tussen wit huisies van oos na wes roer
daar mense wat bou en plant in tuine
grys sand-tuine in kleure begin optooi
winter klere word weg gepak vir somer
so vlieg nog ‘n jaar verby oor my duin
maar sit sal ek sit – tot die laaste sonlig
my duin nog kan verlig in oggend gloed
©Teárlach
Maart 2021 – Liefdes projek
3.oikos
uit openbare wildernis
het my huis sy plek
gevind op ‘n duin
woorde hul
oikos
gevind
waar risiko
gulsig verslind
die algoritme
van my
siel
*(oikos verwys na huis of blyplek)
©Teárlach
Mei 2021 – OOP Projek
Eervolle vermelding
Visie
wye lens kyk ek oor die see
van oos na wes streep wit branders
heen en weer in reëlmaat opgewen
soos die klanke van ‘n wals
–
wat ek sien neem visueel op
bêre dit vir die oudag van swak sien
herhalende beelde van mooi en rein
soos die musiek van ‘n refrein
–
in elkeen se tonnel van smarte
kyk baie mense die enigste Lig mis
dié met tonnelvisie sien dit dalk raak
soos musiek van die triomf mars
–
waar branders strand ontmoet
vorm silwer soom van dankbaarheid
suig sand en slakke gulsig daaraan
soos die musiek van finale noot
–
©Teárlach
SILWERKLAS
Oktober 2023 – KORT projek
1.lit
die lit is lid
van my liggaam
wat dit beaam
©Teárlach
Mei 2024 – OOP projek
3.gewaarwording
die gevoel
kom en gaan
soos bloed, suurstof
dra van long tot spier
so kom en gaan die pyn
ook die euforie van lewe
wat soggens vroeg verskyn
so asof die sonlig alles wat sleg
onaangenaam is, kan verdoof
salig die gewaarwording
van hernude lewe
wat die saad dra
van hoop, liefde
en geloof
Ó Tearlach.
JULIE 2024 – OOP PROJEK
2.mistroostig
kibbel kabbel
reēndruppels teen sinkdak
laat spoortjies oor stofbelaaide glas
musiek van die wind wat daar waai
prent rustigheid in my gemoed
gee spoed aan my verdunde
bloed
kwik sak in rasse skrede
fyn sneeuvlokke sif uit die mis
land sag op die dorre sand duine
klanke van bibberende voëltjies
wat nes skrop in die nat weer
en grysbok ooitjie se blêr
roep
verkrummel sit mak kat
met vies gesig teen ‘n muur
min lus om buite te gaan urineer
sagte klanke van ketels wat kook
hitte strepe styg uit skoorstene
versprei rooikrans stompe se
reuk
ÓTearlach.
November 2024 – OOP projek
3.kreukels
“in die kroes van jou kreukels
neem jou sagte antwoorde
die grimmigheid weg”
stropers oes daagliks my woorde
uit gedagtes nognie ontvou
wat my laat struikel
oor die klawers
van my drome
ontneem my
die uitkoms
bedink ek
beplan ek dit
in katas wat speel
voor my aangesig verby
selfs in meetkundige lemmas
wat Euklides in verbasing sou laat
laat dit my met net nog ‘n kadawer
“my katatoniese katapleksie kom kaplaks, maar nie onverwags”
Ó Tearlach.
Katapleksie – word gekenmerk deur ‘n skielike verlies aan spiertonus
Katatonies – ‘n toestand van onbeweeglikheid en onreaksie op eksterne stimuli, wat dikwels gepaard gaan met rigiditeit, postuur en ‘n gebrek aan verbale kommunikasie.
Kata – bestaan uit verskillende gestileerde oefenreekse, dit wil sê reekse aanvals- en verdedigingsbewegings.
Klaudios Euklides, ook bekend as Euklides van Alexandrië, fl. 300 v.C., was ‘n Griekse wiskundige wat algemeen gesien word as ‘Die vader van meetkunde’.
Lemmas – Trefwoord of leksikale item in ‘n naslaanwerk; die kanonieke of eenvoudigste vorm van ‘n woord of frase.
AUGUSTUS 2025 – LINKSHANDIGE PROJEK
1.hand
uit jou hand
weerklink dit van kant tot kant
weinig is bekommerd
of dit links of regs
gaan val
elke gedagte
van links of van regs
word soms interpreteer
as aweregse snert
o my hert
© Tearlach.
OKTOBER 2026 – OOP PROJEK
3.tyd
die enigmatie van tyd
ruis oor my duin vanoggend
soos augustus winde wat waai
wie weet waarvandaan of waarheen
tyd in gisters, daagliks en van mōres
tyd wat stadig verloop in jou jeug
wat soos storm en drang swiep
en verbygaan – dan net waai
oor dae, weke maande
en jou laaste jare
dan geld tyd
maar min
elke
gedagte en sin
word onsterflike
bagasie
© Tearlach.
FEBRUARIE 2026 – OOP PROJEK
1.stilte
eers sagte dreun geluid
van ver oor die see vibreer dit
vermeerder in intensiteit nie toon
word naderhand so erg dat dit oorneem
alles en almal oorneem tot in diepste siel
dit voel asof my breinlobbe saam vibreer
soos ‘n selfoon se vibrasie net baie meer
sag, onheilspellend dreun die golwe
op strand is daar net grys mis
oor wit huise hang die mis
alles in en om my is net mis
elke gedagte versper deur geluid
dan skielik, asof dit nooit was
verdwyn die geluid en is daar niks
geen geluid – tot naguil skielik skor
sy onderbroke jagtog hervat
stadige hervat van ander
gewone nag geluide
dit was mos
die mishoring
wat alle skepe
waarsku, oor die
gevaar van onsigbaarheid
op die baai se mistige see
© Tearlach.
(7)