Jongste aktiwiteit:

Te

Alles wat met “te” begin is sonde, behalwe “te voet” en “te perd” – of so het ek gehoor. Te veel van enigiets, selfs die goeie goed, is selde gesond en die beste is maar om matigheid voor oë te hou. Dit geld toe ook sommer vir positiwiteit. ’n Mens kan rêrig te positief wees, veral waar mens probeer om die ongemak van trauma, hartseer, mishandeling, gesondheid of finansiële kwessies weg te wens.

Op die oog af is dit hoe ons moderne samelewing ongemak hanteer – plak ’n glimlag op jou gesig en maak of dit nie bestaan nie. Dink net hoe oulik die pienk eenhoring perdjies in ’n Namakwalandse blommeveld wei, en jou probleme verdwyn soos mis voor die son – of so hoor ek. En ja, daar is mense wat jou probeer oortuig dat valse positiwiteit jou probleme sal laat verdwyn, al besef hulle nie eens dat hulle die krom valse positiwiteit valslik probeer reguit buig nie! Solank jy net positief is, sal jou lewe uit maanskyn en rose bestaan – of so hoor ek ook. Jy moet net daardie silwer randjie in jou omstandighede raaksien, en as dit nie daar is nie, as jy rêrig in die knyp is omdat jy jou werk verloor het, dink net hoe die perfekte geleentheid nou ontstaan het vir ʼn beter werk! Wow. Dit maak nie saak dat jy van angs deur jou tande dinges nie, die Here self gaan jou seën met iets groter en wonderliker. En wanneer jy ʼn paar jaar later in asblikke grawe vir ʼn stukkie kos, verf dit ook sommer met ʼn silwer randjie.

Moeder was altyd positief en met haar het dit het altyd goed gegaan, al het ek geweet sy lieg darem nou dat haar valstande klap! Nooit het ek ’n woord oor haar ware gevoelens gehoor nie en Monkey see, Monkey do. Ongelukkig het hierdie Monkey het kleintyd al geleer dat dit OK is om op hierdie manier vir ander mense te lieg en daarom het sy dit ook gedoen. As daai glimlag van jou gesig afgly, dan druk jy dit met mening terug en vertel dat dit net nie beter kan gaan nie. Jou oë mag sigbaar dik en potblou geslaan wees, maar dit gaan goed… Dit het wel ʼn bietjie tyd geneem om hierdie liederlike gewoonte af te leer, maar dit was ʼn goeie leerskool.

Dan is daar natuurlik ook ’n horde self-help gurus wat sweer dat om net deur ’n paar frases 100x per dag te herhaal, jou lewe radikaal gaan verander. Of dalk gaan jou bankrekening skielik uit sy nate bars en ’n dubbelverdieping huis gaan binnekort jou sink kaia vervang. Maar onthou, jy moet die hele tyd vir jouself vertel dat dit moontlik is en jy gaan so besig wees om met jouself te praat dat daar nie tyd gaan wees om die nodige vaardighede aan te leer wat jou ’n beter inkomste sal verseker nie. Jy moet net glo, want almal op Facebook sê so!

Die ding is, as jy nie daardie ou uitgetrapte brein-paadjies op een of ander manier kan verander nie, gaan niks verander nie. En dit het in der waarheid baie min te doen met positiewe denke. Positiewe denke bestaan grootliks net op die oppervlak en verander nie sommer dit wat op die dieper, onbewustelike vlakke lê nie.

As jy boonop positiewe denke gebruik om ongemaklike emosies soos hartseer, skuld of teleurstelling te vermy, gaan dit NIE WERK NIE. Dan is hierdie opbeurende gedagtes net ’n pleistertjie om ’n amputasie weg te steek. En soms is positiwiteit ’n gif wat jou hele lyf en denke infekteer. Mens moet darem ook weet wanneer om die olifant in die kamer raak te sien voordat dit kan verander want anders gaan jy elke dag jou kop teen dieselfde olifant stamp sonder dat dit ʼn aks beweeg.

Miskien weet die moderne mens nie meer hoe om sy probleme te hanteer nie. Dalk het ons te sag en selfs neuroties geword. Ons drink gebottelde water, dink vere dra siektes oor en die kinders sal doodgaan indien hulle kaalvoet sou loop. Ag siestog. Ons hol weg as iemand ʼn traantjie laat rol en probeer selfs ongeneeslike siektes met positiewe gedagtes gesond dokter. Soms help dit, meestal nie.

Ware vreugde het geen positiewe gedagtes nodig nie – dit IS net. Maar om probleme toe te smeer met valse vreugde of te dink dat positiewe gedagtes ʼn verandering in jou omstandighede gaan bring, mag dalk net ontnugtering tot gevolg hê. Om iets voor te gee is nie net vals nie, dit is ʼn leuen so groot soos Tafelberg self. Jy kan dalk nog vir ander lieg, en soms selfs vir jouself, maar op die lange duur haal dit jou een of ander tyd tog in.

Maar wat help? Om jou emosionele IK te verhoog is al klaar positief. Dan weet jy immers hoe jy voel en waarom jy so voel. Daarna kan mens begin om die probleem aan te spreek en dit nie onder ʼn lagie suiker te kamoefleer nie. Maak jou doelwit realisties en haalbaar, en werk elke dag ʼn bietjie daaraan. Mik vir vordering, nie perfeksie nie. Wanneer jy daarvan bewus raak dat jy groot hoeveelhede geld mors, en ook waarop jy dit mors, sal jou bankbalans outomaties groei! En dit het nie gebeur deur van bont reënbogies en eenhoring perdjies te droom nie.

Dalk het Facebook ʼn invloed op ons denkwyse, want as jy elke dag vir almal vertel hoe perfek en pragtig jou lewe is, maar die waarheid is dat jy honger en bankrot is, is dit valse positiwiteit. Jy sê ja vir ander se verwagtinge van jou en rondomtalie in ʼn gevaarlike dans met uitbranding. Jy vermy enige gedagtes wat enigsins kan suggereer dat jou lewe nie heeltemal so vrolik is as wat jy voorgee nie. Jy dink dat slegte goed net met slegte mense gebeur – en blameer hulle sommer ook dat hulle die oorsaak van hul eie ongeluk is.

Maar wat is die langtermyn invloed van valse positiwiteit? Dit gaan jou eendag in die agterend byt – glo my maar. Dit mag oor ʼn paar maande, ʼn jaar of dalk ʼn paar dekades wees, maar jy gaan ʼn bytplek op ʼn ongemaklike plek kry.

Jy hoef nie ʼn slaapwandelaar te wees om ʼn goeie en positiewe lewe te hê nie. Inteendeel, om eerlik teenoor jouself te wees en jou emosies te leer ken en dit op ʼn veilige plek uit te pak, sal baie gesonder wees.




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed