Jongste aktiwiteit:

Lynreg

Silwer Gradering
Woordtelling: 1111
Sandra was nog altyd ‘n bietjie snaaks. Sy het alle stories geglo. Of dit nou bogstories, liegstories or ware verhale was, sy het alles vir soetkoek opgeët. En om alles te kroon het sy altyd empatie gehad met die verloorder en die wat aan die korste end getrek het.

So omtmoet sy toe vir Peet. Peet was ‘n regte platjie en het Sandra se geloof in stories goed uitgebuit. Hulle pas so goed by mekaar dat hulle besluit om die knoop deur te haak. Op aandrang van Peet besluit hulle om vir die wittebrood op ‘n visvang eskpedisie te gaan.

“Sandra, jy moet onthou om die slaapsakke goed op te rol. Sit sommer so bietjie mottegif in dit help om die muskiete langs die water weg te hou.” sê Peet terwyl hy die visvang trommel pak en seker maak al die moeti, sinkers en hoeke is reg ingepak.

“Haai, rêrig Peet? Ek het nie geweet mottegif help vir muskiete nie. Ek moet onthou om vir my ma daarvan te vertel. Hulle bly mos langs daardie vlei en die muskiete maak hulle desperaat. Jy’s darem slim jong.” Laat Sandra van haar hoor terwyl sy motgifballetjies oral by die slaapsakke en sommer die kussings ook indruk.

Toe sy klaar is was sy haar hande deeglik en sit die ketel aan. Foei tog. Peet werk so hard om alles vir hulle wittebrood reg te kry hy verdien so ‘n lekseltjie koffie. Hy drink dit uit sy erdebeker wat hy nog by sy ma Sera gekry het. Sy moet tog onthou om dit vir hom in te pak. Die beker is amper soos sy geluksgodin as dit by visvang kom.

“Sandra, amper vergeet ek, jy moet asseblief die knuppels ook inpak. Hulle is daar in die kas in die gang,” sê Peet na so ‘n lekker lang sluk uit sy beker.

“Dink jy die skelms gaan ons pla? vra Sandra terwyl sy na die gangkas toe loop.
“Nee man” sê Peet “Daar is g’n skelms by die viswaters nie. Dis vir die barbers. As jy so vyfuur in die oggend opstaan kry jy hulle op die gras besig om te wei dan slaan jy hulle katswink met die knuppels. Dit spaar baie aan hoeke en lyne.” laat Peet droog van hom hoor.

“Sjoe, ek sou nooit aan so ‘n slim plan gedink het nie. Eintlik moet ek eerlik wees en erken ek het nie geweet barbers wei vroegoggend op die gras nie. Jy weet só baie dinge” sê Sandra vol bewondering. “Sal jy my op pad vertel van jou dae in die weermag en nog stories oor jou kinderlewe en en oor visvang? vra Sandra terwyl sy die bekers na die opwasbak dra.

“Ons sal maar sien waar die gesels ons heen lei as ons op pad is.” sê Peet. “Ek dink alles is nou reg. Kom ons pak in dat alles reg is dan kan ons môre so vyfuur se kant ry want ons moet nog eers by broer Dana stop om die katrolle by hom te gaan oplaai.”.

Vyfuur die volgende oggend is Sandra gereed en wag net vir Peet om klaar sy tande te borsel. Sy hou haar handsakkie styf teen haar lyf vas. “Kom, Patroontjie” sê Peet so in die verbyloop terwyl hy haar hare deurmekaar vryf. Nou gaan ons op “honeymoon.”

Die wiele vreet die kilometers op. Dis stil in die motor. Peet het so ‘n bietjie oor die weermag dae gepraat en nou is hy so efffens iesiegrimmig. Sandra maak ‘n breinnota om te onthou om hom nie weer daarna uit te vra nie. Sy wil hom nie ontstel nie.

“Kyk Sandra, daar is ‘n leeu langs die pad.” sê Peet
Sandra skrik haar skoon boeglam vir Peet se stem na die lang stilte.
“Waar waar? vra sy en swaai haar kop woes heen en weer om orals te probeer kyk.

Peet skater soos hy lag en Sandra verkyk haar aan die kuiltjie in sy ken en sy oë wat so blink van vreugde.

“Sandra, jy moet tog nie alles glo wat mense vertel nie. Daar kan mos nie leeus in Brits se strate wees nie. “ sê Peet en bulder weer van die lag.

Sandra lag saggies saam. Ja, sy was eintlik bietjie dom die keer. Leeus loop mos nie in dorpe se strate rond nie. Maar Peet het so ernstig geklink toe hy gesê het sy moet kyk. Sy bly vir ‘n lang ruk stil en dink.
Uiteindelik is hulle by Dana. Jy hoor net ‘n gekwetter van voëls en die keffery van die honde. Dana is lam na ‘n ongeluk by die bouery en sit in sy elektroniese stoel. Hy groet almal met ‘n kwinkslag of twee en skree na Sues vir koffie en koekies.

Hulle ry suid na Whenholdt meule. In dié omgewing is dit die beste visvang terrrein. Die afpak was bietjie moeilik want alles moet oor die sementwalle van die dam gedra word. Peet slaan die tent op terwl Sandra die kombuishoekie in orde bring.

“Peet, kyk, ‘n krokodil” skree Sandra en wys met haar vinger na iewers agter hom.
“Ja,” sê Peet en gaan komkommerkoel aan met tentpenne inslaan. Hy kyk nie eens om nie. “Nee wat, Sandra, so maklik vang jy my nie met ‘n slap riem nie. “

Skielik hoor Peet agter hom ‘n geskarrel en ‘n snaakse geraas. Toe hy omdraai kyk hy vas in die kake van ‘n meneer van ‘n krokodil. En hy het nie eers ‘n tentpen gereed as ‘n wapen nie. Verbouereerd probeer hy retireer. Hy weet dis ‘n onbegonne taak om op Sandra staat te maak vir hulp. Hy buk en tel ‘n redelike groot klip op en gooi dit teen die krokodil se snoet. Maar krokodil se kind voel skynbaar niks en beweeg vasberade na sy prooi toe,

Die volgende oomblik sien hy uit die hoek van sy oog hoe Sandra lynreg na die krokodil toe hardloop. Sy weifel of struikel nie. Geen geluid kom oor haar styf saamgepersde lippies nie. Verbete klou sy die knuppel styf in haar hand. Stom van verbasing kyk Peet hoe Sandra die krokodil met motgifballietjies peper. Vir ‘n vroumens is sy nogal heel akkuraat. Dan spring sy en dit lyk of sy deur die lug vlieg soos ‘n wafferse Ninja. So beland sy toe op die krokodil se rug. Sy slaan hom drie allemintage houe met die knuppel, spring van sy rug af en gee hom die meester van alle skoppe. En daar lê die krokodil. Katswink.

“M..M…maggies Sandra” is al wat Peet uitkry terwyl hy met groot pieringoë na haar staar.

“Niks, maar niks sukkel met my Peet nie,” sê Sandra en loop na hom toe.




Dink woorde is die mooiste en beste ding in die heelal. Hou van opbouende kritiek.

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed