Jongste aktiwiteit:

Hester Steenkamp
vir

Hester Steenkamp

Lees meer oor Hester Steenkamp

Julie 2022 – Wat skryf ek projek

2.Eenheid in verskeidenheid (497 woorde)

Die hele debakel rondom die verandering van die naam van die Afrikaanse Taalmonument (ATM) krap nou al ‘n geruime tyd hier aan my binneste – soos die spreekwoordelike klippie in jou skoen. Eers wanneer jy gaan stil staan en jou voet uit die skoen wikkel en die lastige klippie uitskud, kan jy ontslae raak van die ergenis en frustrasie. Kort-om, die klippie moet verwyder word.

Die rede vir my frustrasie is tweeledig. Eerstens kan ek nie verstaan waarom mense bly krap aan die geskiedenis nie, want daar is geen nut in nie. Jy kan skel van ‘n podium af, dreigemente maak, name verander, standbeelde in die see gaan gooi en skoolhandboeke herskryf, maar jy sal nooit die geskiedenis kan verander nie. Dit is wat dit is. Wat gebeur het, het gebeur, en niks wat jy nou doen sal dit ooit verander nie. Ek voel dit is veel belangriker om die toekoms te probeer verander en beter te maak, want daaraan kan ons beslis iets doen. Tweedens kan ek nie verstaan waarom iemand dink om ‘n klip struktuur se naam te verander, mense se lewens sal beter maak nie. Dit gaan nie. Maar die geld wat aan die naamsverandering bestee sal word, kan soveel beter aangewend word en dit kan wel mense se lewens beter maak. Dink net aan al die talent in Suid-Afrika, oor kleurgrense en taalgrense heen! Skrywers, sangers, akteurs en aktrises, digters en skilders, en tientalle ander vorme van kuns en kultuur wat hard deur Covid geslaan is. Daardie fondse kan ‘n reuse verskil aan baie mense se lewens maak wat reeds so swaar trek.

Het die Afrikaanssprekendes foute gemaak in die verlede? O ja, sonder twyfel! Ons het báie foute gemaak, maar dis mos hoe mens leer. Ek is oortuig dat baie van ons diep jammer daaroor is, en dat ons dit anders sou wou hê as ons tyd kon terugdraai. Ons kan egter leer uit die foute en dit regstel en sorg dat so iets nooit weer gebeur nie. Nóóit weer nie. Maar om die ATM se naam te wil verander gaan net ou rowe afkrap en nuwe wonde veroorsaak. Mandela het gedroom oor ‘n reënboognasie, en baie het saam gedroom, maar wanneer jy ‘n reënboog se kleure meng, kry jy net grys. ‘n Vaal en dooie kleur wat geen vreugde aan enige iemand verskaf nie.

‘Eenheid in verskeidenheid’ is Suid-Afrika se leuse. Dit beteken dat ons mekaar se kulture, taal en tradisies moet aanvaar en respekteer. Ook dié van die Afrikaanse taal en kultuur. En dis al hierdie verskillende tale en kulture wat aan ons reënboog die lieflike kleure gee. Net soos wat daardie monument ons taalgeskiedenis vertel, so is dit ook ‘n herinnering aan dit wat nooit weer mag wees nie. Dis tyd om die geskiedenis te los waar dit is – in die verlede, en te fokus op die hier en nou en omstandighede beter te maak vir die’s wat nog kom.

© Hester Steenkamp

 

JULIE 2024 – OOP PROJEK

1.Vaal is die boervrou se wit

Soms kry ek myself dat ek deur Pinterest se foto’s blaai en dan verkyk ek myself aan al die lieflike goed daar. Soos die smaakvolle huise met hulle pragtige meubels en tuine. Die son wat met engelstrepe deur blinkskoon vensters skyn en oor sagte banke met wollerige komberse val en weerkaatsings maak op blink vloere. Die lieflike gesonde potplante wat met heldergroen, welige blare in hoeke staan en oor hangmandjies tuimel. ’n Badkamer met blink spieëls en ’n gladde bad met snoesige handdoeke wat in perfekte rolletjies gerol is, met ’n orgideë op die marmer tafeltjie. ’n Deken wat skuins oor ’n stoel lê met die tossels wat so netjies in gelid op die houtvloer rus. Die tuine met geen tak of blaar uit plek nie en die klippertjies wat netjies die beddings bedek en nie eers een onkruidjie wat uitloer nie. En dis wit. Alles is wit. Die banke, die kussings, die vloere, die handdoeke. Selfs die mure. Dis net wonderlik mooi. En skoon. En wit.

 

Maar laat ek julle nou ’n ding vertel … dis níé hoe ’n boervrou se huis lyk nie. Wit is nie jou vriend nie. Wit is uit. Vir alles en enige iets. Ons werk in skakerings van bruin en beige en grys. Jy weet, aardse kleure. Kleure wat lyk soos die veld en die grond, die diere en jou man se lyf. Basies die kleur van stof. Vir enige sielsvrede, gaan vir bruin en vergeet geheel en al van wit.

 

Van die kombuise praat ek natuurlik nou nie eers nie. Dis mos maar ’n vrou se plek daardie. Daar waar jy, gewillig of baie onwillig, die meeste van jou tyd deurbring.  Pinterest kombuise laat kry jou sommer lus vir kook en bak en inlê. Groot skoon oppervlaktes met koperpotte wat uit die dak hang. Groot vensters wat natuurlike lig inlaat vir die kruietjies op jou vensterbank. ’n Stoof waarmee jy ’n weermag kan voed. Blink glasbottels met geheime in wat jy sommer kan ruik. Maar huh-uh, nie onse kombuise nie. Daar is die oppervlaktes vol van rondlêgoed. Dis hoede en spuite en kastreerrekkies. Dis wassers en tietiebottels vir die hanse en fakture van die koöperasie. En draad. En gom. En batterye. Maak jy die yskas oop, moet jy jou weg baan deur die magdom botteltjies en houertjies met veemedisyne en hondsdolspuite. Die yskasdeur behoort aan die boer.

 

Ons plante het almal bruin stingels en kalkkolle op die blare. En natuurlik stof. Die banke is toegegooi met komberse en kussings vir die troeteldiere. Die matte is bruin en verbeeldingloos en lyk maar soos buite – skakerings van vaal. Voor die vensters, aan die buitekant, hang skadunet om die dodelike weste son uit jou kombuis te hou, want niks wil daarbinne lewe gedurende die somermaande nie. Veral nie jy nie. In die tuin voer jy ’n ewige stryd met onkruid, bossies en kweek wat alles verswelg. Geen plant groei so vinnig en mooi en gewillig soos ’n onkruid nie. En dis ’n stryd wat jy telkemale maar verloor en soms voel jy jy gaan alles uitruk en net klippe gooi. Maar nie wit klippe nie, want nie eers ’n wit klip bly wit op ’n plaas nie.

 

Dis so lekker om die mooie goed te kyk en te droom en te wens, maar soos die spreekwoord mos sê, jou huis is waar jou hart is, en my hart is op die plaas met sy bruin en vaal en stof. En hondehare wat oral vassit. En plante wat ons lewendig troetel. En ’n boer vol stof wat diep sug van genoegdoening as hy sy moeë lyf op die bed neerlê. Op die bruin beddegoed wat jy vir huweliksvrede leer liefkry het.

©Hester Steenkamp

SEPTEMBER 2024 – OOP PROJEK

1.Ingelegde liefde

Ek het nou die dag gelees iemand sê dat tradisie niks anders as groepsdruk van dooie mense is nie. En dit is seker soms so, maar daar is baie goeie tradisies ook, en dit maak nie saak hoe modern die lewe raak of hoe maklik en vinnig sommige dinge deesdae is nie, daar is net sommige goed wat beter is op die outydse manier. Soos byvoorbeeld die inlê van produkte. Modern beteken nie noodwendig beter nie.

Ons voorouers het dit gedoen omdat hulle geen ander keuse gehad het nie. Daar was nie iets soos yskaste en vrieskaste nie, en nog minder ‘n Spar op elke hoek. Hulle moes produkte bewaar wat in seisoen is, vir wanneer dit nie meer is nie. Ek het al gehoor dat hulle vleis bewaar het deur dit gaar te maak en dan in lae in houtvate te pak met varkvet oor. Hulle kon dit vir baie lank so vars hou. Hulle was vindingryk en hulle planne het nooit opgeraak nie.

As mens jonk is, is hierdie dinge vir jou sinneloos. Jy skud maar net jou kop oor die tannies wat heeldag staan en week, skil, kook, steriliseer en bottel, want dit is outyds, tydrowend en onnodig. En duur. Hoekom sal jy staan en tamatieskille aftrek as jy winkel toe kan gaan en vir ‘n paar rand en min moeite vir jou soveel tamatiekonfyt koop as wat jou hart begeer? Binne en buite tamatie-seisoen?

En dan, op ‘n dag begin kry jy daardie oeroue drang in jou om ook iets in te lê. Dit bekruip jou soos ’n dief in die nag. Voor jy weet is jy een van daardie tannies waarvoor jy jou oë gerol het. En as jy eers begin, kan jy nie ophou nie, want dit is deel van jou DNA. Dit hardloop in jou bloedstroom rond. Dan begin bel jy jou ma en skoonma vir resepte en jy begin vra al jou bure om vir jou hulle leë glasbottels te bêre. Jy gaan haal jou ouma se resepteboek uit die kas wat in 1941 gedruk is (13de druk) en blaai met respek en deernis daardeur en probeer prentjies in jou kop maak van hoe sy by haar kombuistafel sit en deur die einste boekie blaai.

Terwyl jy so staan en skil en kerf en tientalle gaatjies in elke makataanstuk druk, dan wonder jy oor hierdie dinge, en dan vra jy jouself af waarom doen jy dit elke keer aan jouself. En dan besef jy, jy doen dit rééds omdat dit outyds, tydrowend en onnodig is. Dis soos liefde wat jy in ‘n bottel sit. Vir later.

Jy doen dit reeds ómdat dit outyds is, want dis deel van wie jy is. Jy doen dit soos jou ma dit gedoen het, en sy het dit gedoen soos háár ma dit gedoen het en so is dit aangegee van die een geslag na die ander. Dit is deel van jou. Jy het dit geërf.

Jy doen dit reeds ómdat dit tydrowend is, want alles wat die moeite werd is in die lewe, vat tyd. Rome is nie in ‘n dag gebou nie. Om makataankonfyt te kook beslis ook nie. Jy moet eers skil, dan moet jy elke stuk vol gaatjies prik, en dan moet dit oornag in kalkwater lê, met ‘n swaar bord bo-op sodat al die stukke onder die water is. Die volgende dag spoel en spoel en spoel jy die stukke sodat al die kalk uit die gaatjies is en elke blokkie soos ’n stukkie glas lyk. Dan begin jy met die stroop. Sodra dit kook, plaas jy die stukke een vir een in die kokende stroop sodat dit nie afkoel en ophou kook nie, want dan raak die stukke pap. Dis ‘n kuns. Dis ‘n liefdestaak.

En jy doen dit reeds ómdat dit onnodig is, want wat is liefde anders as om iets vir iemand te doen sonder dat dit nodig is? Dit is mos suiwer liefde wanneer iemand iets vir jou doen omdat hulle wil, en nie omdat hulle moet nie. Dit is die tyd, aandag en moeite wat jy insit wat ‘n bottel konfyt, wat jy self gekook het, anders maak as die boks sjokolade wat jy by die supermark gekoop het.

Die beloning is soet wanneer jou aanstaande skoonseun die eerste keer plaas toe kom en die flesse suspisieus aankyk en dan later vra of daar genoeg is sodat hulle daarvan huis toe kan vat. Dit is wat daardie oudtydse, tydrowende en onnodige taak die moeite werd maak en maak dat jy dit weer en weer doen.

En die beloning is nog soeter wanneer jou dogter jou bel en jou vir resepte vra en jy later foto’s ontvang van die allermooiste bottels konfyte en strope in blink flesse wat op haar kombuiskas staan.

Wanneer iemand vir jou iets in ‘n bottel gee wat hulle self daarin gesit het, kan jy maar weet dit is liefde in daardie bottel. Nes ons voorouers dit gedoen het vir hulle gesinne en geliefdes. En die ná ons dit sal doen, want dit is wie ons is.

©Hester Steenkamp

November 2024 – OOP projek

1.Plaaskinders

Plaaskinders kan op ‘n myl uitgeken word. Die seuns se hare is gewoonlik kort en hulle hemde is ingesteek. Die meisies is onopgesmuk met blosende wange en vellies aan hulle voete – selfs met hulle matriekafskeid. Hulle stap fier en regop en het goeie maniere. Hulle toon respek teenoor ouer mense en hulle sê dankie en asseblief.

Plaaskinders word selfstandig gebore. Van kleintyd af leer hulle van die lewe en van dood en van oorlewing. Hulle verstaan dissipline en roetine en respekteer die natuur. Hulle kleuterskool juffrou is hulle ma’s, en daar is geen kwaaier onderwyseres as ‘n ma nie. Hulle weet dat plig voor plesier kom. Wintermaande kan hulle uitgeken word aan blou heupbene en gekneusde knieë van agter op die bakkie staan tydens jagtyd. Hulle weet jy skiet om te eet en nie vir plesier nie. Hulle verstaan baie goed dat as jy wil saam eet, moet jy saam werk. Hulle gril nie vir rou vleis nie. Hulle weet hoe voel dooie vingers van yskoue vleis wat verwerk word vir biltong en droëwors vir die koskas. Hulle kan ‘n derm se punt blitsvinnig vasvat as dit by worsstop kom. Hulle weet waar die Suiderkruis en Orion is en lê saans op die gras en soek satelliete. Hulle weet hoe lyk die maan as mens sê dat hy water uitgooi. Plaaskinders is lief vir diere, behalwe vir jakkalse en vlakvarke. Hulle weet hoe stilte klink en hoe donker donker is wanneer dit donkermaan is. Hulle eet saam met hulle gesinne aan ‘n tafel en hou saam huisgodsdiens. Plaaskinders weet hoe om krag en water te spaar, aanvaar dat vakansies op die plaas deurgebring sal word en dat die kersboom heel waarskynlik ‘n droë doringboom sal wees.

Plaaskinders weet hoe proe springbokniertjies wat in die veld gebraai word. Hulle kan van kleins af help skaap trek en hulle weet wat die verskil tussen bloudraad en binddraad is. Hulle kan vinnig agter ‘n wegbreekdorper aanhardloop en haar terugkeer na die trop toe en weet hoe dit voel om hulle nerwe af te val oor klippe agter ‘n halstarrige bok aan. Hulle ken die verskil tussen ‘n uierooi en ‘n gusooi. Plaaskinders weet hoe dit klink as Ma, Pa en Sus die enigstes is wat veels geluk met jou verjaarsdag vir hulle sing. Hulle het al duisende kilometers op ‘n grondpad bestuur voor hulle die plesier van ‘n teerpad ervaar. Plaaskinders weet wat ‘n burdizzo is. Hulle weet hoe dit voel om koshuisbrakke te wees en ken van bruinbrood en louwarm rooibostee saans tydens studietyd se pouse en aanvaar dat hulle moet kamers deel. Plaaskinders kan in vyf minute alles inpak wat hulle vir die komende week nodig sal hê. Hulle doen hulle eie huiswerk en take – gewoonlik deur die week, sodat hulle naweke in die veld kan wees. Wanneer jy vir ‘n plaaskind vra wat sy vir haar agtste verjaarsdag wil hê, sê sy ‘n “bokooi wat klaar by die ram was”. Hulle verstaan waar lammertjies vandaan kom en ken die storie van die blommetjies en die bytjies lank voor iemand dit aan hulle hoef te verduidelik. Plaaskinders ken die silklus van die maan en windrigtings en besef die waarde van ‘n noordewind in die somer.

Plaaskinders ken die plaas en jy kan hulle stuur om lek uit te ry en windpompe los te maak. Hulle maak sommer self gou die gat in die draad reg en kyk met oë wat raaksien en kom rapporteer die ooi wat sonder haar lam by die krip staan. Hulle kan spoorsny. Hulle staan soggens vroeg op om vir die hanslammers bottel te gaan gee en hulle ken die gevoel van verlang en ver van die huis af wees. Plaaskinders gee nie om om hulle ouer broer of suster se klere te dra nie. Hulle het ‘n kas in hulle kamers by die huis wat altyd vol plaasklere is, al bly hulle later op ‘n ander plek. Plaaskinders kan die beste vir reën bid en hulle geloof en vertroue is die sterkste. Hulle bel gereeld huis toe om te hoor of dit al gereën het en wanneer die tyding goed is, is hulle die volgende naweek daar om die reuk van nat plaasgrond te kom inasem. Hulle ken die intense lekkerte van in ‘n vol pan swem wat na jare se droogte vol gereën het en put eindelose genot daaruit om reëngoggas in die veld te soek. Hulle slaap graag met oop vensters. Hulle het sagte harte en sterk hande. Hulle is beginselvas en fluks en het waardering vir die vet jare, want hulle leer van kleins af hoe die maer jare voel. Die plaasgrond vloei deur hulle are.

Plaaskinders verlang altyd huis toe. Hulle neem verlof by hulle werke om self hulle diere te kom werk en reël voer en medisyne van ver af. Hulle weet wat die vleispryse is en spaar vir ‘n stoetram waarop hulle hulle oog het by die volgende veiling. Hulle woon kursusse by en leer van vroeg af om ‘n dier te klas en die beste eienskappe raak te sien. Hulle is oplettend en werk spaarsamig met geld. Hulle aanvaar dit wanneer daar gesê word dat daar nie nou geld is nie en dat hulle tekkies nog moet hou vir die nuwe sportseisoen. Plaaskinders besef lánk voor die meeste ander mense dat om ryk te wees niks met geld te doen het nie.

Plaaskinders kan goed skiet en weet hoe om ‘n wapen veilig te hanteer. Hulle het respek vir alle lewende wesens en ken die name van die grasse en bosse op die plaas. Hulle weet hoe dit voel wanneer jy in ‘n Prosopisdoring trap –  dat jy vandag bloei en môre brand. Hulle is nie bang vir swaar weer nie en as jy hulle vra wat is vir hulle die lekkerste reuk, sal hulle sê reën. Plaaskinders is opreg en eerlik en plaasmeisies hoef nie een tree terug te staan vir plaasseuns nie. Hulle kan boer én bak. Hulle hande staan vir niks verkeerd nie en help graag in die kombuis tydens vergaderings en die boerevereniging se funksies en met die bak vir die kerk en die basaar. Hulle kan alles doen wat plaasseuns doen.

Plaaskinders wil altyd weer eendag teruggaan plaas toe. Na daar waar hulle bloed, sweet en trane in die sand gedrup het.

© Hester Steenkamp

Desember 2024 – Kersfees projek 

1.Kersdag in die droogte

Dis Kersdag. My boerman is vroeg uit om die diere voer te gee, en ek sit op die agterstoep met ’n koppie koffie.

Terwyl ek oor die droë veld uitkyk, sien ek die brosdoring helderpienk teen die vaal van die veld. Die kontras laat snak my na my asem. Soos ek die skouspel bewonder, kom daar ‘n paar dorpers aangestap na die bos toe, en hulle begin vreet al die pienk sade van die bos af. Hulle vreet tot daar nie ’n enkele een oor is nie. Toe sê ek dankie dat die Liewe Here selfs in hierdie verskriklike droogte vir die diere sorg. Al is dit met net ‘n paar sade vir Kersfees.  .

Ek wil ook soos ’n brosdoring wees wat blom selfs wanneer omstandighede op die slegste is en lafenis bring daar waar nood is. ‘n Brosdoring wat pienk blom in die droogte.

© Hester Steenkamp

 

Januarie 2025 – OOP projek

3.Aankomsagressie

‘n Tydjie terug staan en gesels ons met ons buurman en ons praat oor die komende winter en alles wat daarmee gepaard gaan. Hy draai na my toe en vra: “Buurvrou, ken jy aankomsaggressie? Het jy dit al gesien?” Ek probeer die woord plaas en skud my kop. Hy sê: “Buurvrou, ek kry nie meer eintlik jagters soos vroeër jare nie, want dit het te veel geraak. Die aankomsaggressie. Te veel.” Hy knyp sy oë vir paar oomblikke styf toe soos die onthou hom ’n naar kol op sy maag gee.

Toe vertel hy. Hy sê dis wanneer die manne na ’n jaar se uitsien en fyn beplanning uiteindelik in die bakkies klim vir hulle groot wegbreek en die langpad vat jagveld toe. Weg van die vrou, die kinders, die werk en die stad se uitdagings. Weg van die stres en rekeninge, die swak dienslewering en druk verkeer. Weg, weg, weg! Die losbreek van alles wat hulle vasklem. En soos hulle inklim, vlieg alle gesonde verstand by die vensters uit. “Hulle is op die punt om groot te amok,” sê hy terwyl ’n diep keep tussen sy oë gaan lê.

“Vandag se nuwe karre kom mos met ’n ingeboude yskas tussen die sitplekke met ys en glase en als, en dan begin die groot drink sommer met die wegtrekslag. Hulle ry kuier-kuier tot hulle by jou aankom, en soos hulle die deure oopmaak op jou werf, val die leë blikke en bottels eerste uit. Dan kom die lywe: Swart oprygstewels, gekamoefleerde baadjies en blink kiste waarin die wapens knus in hul sagte lêplekkies rus,” stoom Buurman voort.

Hy verduidelik dat die wapens meer kos as ’n hoërskoolkind se skoolfonds vir ’n jaar. In ’n privaatskool. Hierdie kiste word met groot ontsag en liefde afgelaai en eerste huis-in gedra.

Nadat die groetery uit die pad is, en die braaivleisvuur hoog brand, word daar verder gekuier en stories vertel en gespog met hulle vaardigheid en skietvermoë. Groot stories. Lang stories. Die detail van die presiese plasing van elke koeël word in die fynste besonderhede oorvertel en bespreek. En natuurlik skiet almal net kopskote. Elke liewe een van hulle.

Buurman sê hy kry dan al klaar so ’n ligte fladdering hier in sy binneste, want hulle het nog nie op die Kalkplato gejag nie. Dis bietjie anders as die Bosveld. Ons veld is ’n uitdaging vir selfs die mees gesoute jagter. Ons bokke staan nie stil nie, jy lê hulle nie voor nie en hulle word nie onkant betrap nie.
Na ’n laatnag se gesels en gedrink strompel hulle kamers toe – reg vir oorlog maak die volgende dag wanneer hulle net na sonsopkoms met hulle swart kiste agter-op die bakkies sal klim.

Hy sê: “Buurvrou, daardie ammunisie is so grênd, die son mag nie eers daarop skyn nie. Dan sit hulle die spulletjie aanmekaar en hulle het allerhande magêfters saamgebring. Tot knaldempers en goed wat die afstand uitwerk wat die bok van jou af staan. Jy loer net deur die ding, dan sê dit vir jou die bok staan presies 278.6 meter van jou af!” Buurman vryf oor sy gesig terwyl hy sy kop simpatiek heen en weer skud.

Dan kom die groot beproewing. Nou moet hulle, met al hulle speelgoed, die bokke raak skiet. Hulle ruk en skud agter op die bakkie soos daar oor die kalkklippe gejaag word en hulle moet hulle dure wapens vashou en veilig hou en terselfdertyd moet hulle hulleself regop hou en vasklou vir lewe en dood. Dit alles moet gebeur na die groot kuier die vorige dag en die manne voel nie so lekker nie.

Nadat die bokke opgespoor en ingejaag is, moet hulle nou daardie vernuftigheid waaroor hulle so gespog het, tentoonstel.

Hy sê: “Buurvrou, hulle lê aan en kyk deur hulle grênd teleskope, en as skoot klap, is dit so ver mis, die bok tel nie eers sy kop op nie. Hy wei net rustig voort. En aan die einde van die dag tel ek 67 leë doppies agterop die bakkie, en daar was net een gekweste bok wat ek toe met die bakkie moes injaag en aan die horings vang. Teen daardie tyd brand die vuur weer en begin die stories en gekuier van voor af en so gaan dit die hele tyd wat hulle hier is. Dit maak mens sielsmoeg. Hier teen die vierde aand hang daar so min bokke aan die hake dat die manne nou maar eerder oor die weer en die politiek praat.” Dan vryf Buurman weer oor sy gesig.

Ek sê vir Buurman: “Nee, ons kry nie jagters nie, want ek is sommer klaar kwaad as ek net hoor hulle is op pad.”

Buurman knik sy kop en sê: “Dis tog ’n goeie ding Buurvrou, dis tog ’n goeie ding.”

Net toe sy plaaskar om die skuur se hoek verdwyn, staan en dink ek dat dit inderdaad ’n goeie ding is, want soos dit vir my klink wil ek asseblief tog nooit aankomsaggressie eerstehands aanskou nie. Dit klink na ’n liederlike ding!

© Hester Steenkamp

 

Januarie 2025 – OOP projek

3.Aankomsagressie

‘n Tydjie terug staan en gesels ons met ons buurman en ons praat oor die komende winter en alles wat daarmee gepaard gaan. Hy draai na my toe en vra: “Buurvrou, ken jy aankomsaggressie? Het jy dit al gesien?” Ek probeer die woord plaas en skud my kop. Hy sê: “Buurvrou, ek kry nie meer eintlik jagters soos vroeër jare nie, want dit het te veel geraak. Die aankomsaggressie. Te veel.” Hy knyp sy oë vir paar oomblikke styf toe soos die onthou hom ’n naar kol op sy maag gee.

Toe vertel hy. Hy sê dis wanneer die manne na ’n jaar se uitsien en fyn beplanning uiteindelik in die bakkies klim vir hulle groot wegbreek en die langpad vat jagveld toe. Weg van die vrou, die kinders, die werk en die stad se uitdagings. Weg van die stres en rekeninge, die swak dienslewering en druk verkeer. Weg, weg, weg! Die losbreek van alles wat hulle vasklem. En soos hulle inklim, vlieg alle gesonde verstand by die vensters uit. “Hulle is op die punt om groot te amok,” sê hy terwyl ’n diep keep tussen sy oë gaan lê.

“Vandag se nuwe karre kom mos met ’n ingeboude yskas tussen die sitplekke met ys en glase en als, en dan begin die groot drink sommer met die wegtrekslag. Hulle ry kuier-kuier tot hulle by jou aankom, en soos hulle die deure oopmaak op jou werf, val die leë blikke en bottels eerste uit. Dan kom die lywe: Swart oprygstewels, gekamoefleerde baadjies en blink kiste waarin die wapens knus in hul sagte lêplekkies rus,” stoom Buurman voort.

Hy verduidelik dat die wapens meer kos as ’n hoërskoolkind se skoolfonds vir ’n jaar. In ’n privaatskool. Hierdie kiste word met groot ontsag en liefde afgelaai en eerste huis-in gedra.

Nadat die groetery uit die pad is, en die braaivleisvuur hoog brand, word daar verder gekuier en stories vertel en gespog met hulle vaardigheid en skietvermoë. Groot stories. Lang stories. Die detail van die presiese plasing van elke koeël word in die fynste besonderhede oorvertel en bespreek. En natuurlik skiet almal net kopskote. Elke liewe een van hulle.

Buurman sê hy kry dan al klaar so ’n ligte fladdering hier in sy binneste, want hulle het nog nie op die Kalkplato gejag nie. Dis bietjie anders as die Bosveld. Ons veld is ’n uitdaging vir selfs die mees gesoute jagter. Ons bokke staan nie stil nie, jy lê hulle nie voor nie en hulle word nie onkant betrap nie.
Na ’n laatnag se gesels en gedrink strompel hulle kamers toe – reg vir oorlog maak die volgende dag wanneer hulle net na sonsopkoms met hulle swart kiste agter-op die bakkies sal klim.

Hy sê: “Buurvrou, daardie ammunisie is so grênd, die son mag nie eers daarop skyn nie. Dan sit hulle die spulletjie aanmekaar en hulle het allerhande magêfters saamgebring. Tot knaldempers en goed wat die afstand uitwerk wat die bok van jou af staan. Jy loer net deur die ding, dan sê dit vir jou die bok staan presies 278.6 meter van jou af!” Buurman vryf oor sy gesig terwyl hy sy kop simpatiek heen en weer skud.

Dan kom die groot beproewing. Nou moet hulle, met al hulle speelgoed, die bokke raak skiet. Hulle ruk en skud agter op die bakkie soos daar oor die kalkklippe gejaag word en hulle moet hulle dure wapens vashou en veilig hou en terselfdertyd moet hulle hulleself regop hou en vasklou vir lewe en dood. Dit alles moet gebeur na die groot kuier die vorige dag en die manne voel nie so lekker nie.

Nadat die bokke opgespoor en ingejaag is, moet hulle nou daardie vernuftigheid waaroor hulle so gespog het, tentoonstel.

Hy sê: “Buurvrou, hulle lê aan en kyk deur hulle grênd teleskope, en as skoot klap, is dit so ver mis, die bok tel nie eers sy kop op nie. Hy wei net rustig voort. En aan die einde van die dag tel ek 67 leë doppies agterop die bakkie, en daar was net een gekweste bok wat ek toe met die bakkie moes injaag en aan die horings vang. Teen daardie tyd brand die vuur weer en begin die stories en gekuier van voor af en so gaan dit die hele tyd wat hulle hier is. Dit maak mens sielsmoeg. Hier teen die vierde aand hang daar so min bokke aan die hake dat die manne nou maar eerder oor die weer en die politiek praat.” Dan vryf Buurman weer oor sy gesig.

Ek sê vir Buurman: “Nee, ons kry nie jagters nie, want ek is sommer klaar kwaad as ek net hoor hulle is op pad.”

Buurman knik sy kop en sê: “Dis tog ’n goeie ding Buurvrou, dis tog ’n goeie ding.”

Net toe sy plaaskar om die skuur se hoek verdwyn, staan en dink ek dat dit inderdaad ’n goeie ding is, want soos dit vir my klink wil ek asseblief tog nooit aankomsaggressie eerstehands aanskou nie. Dit klink na ’n liederlike ding!

© Hester Steenkamp

 

Maart 2025 – OOP projek

1.Aura

Een bloedige, bloedige middag in Januarie, skuins na 14:00, staan ek in ’n poskantoor om seëls te koop. Seëls, van alle dinge. En in Mariental, van alle plekke. Enige een wat al ’n Januarie in Mariental beleef het, sal verstaan dat die hitte onbeskryflik is. Dit skroei jou van buite en kook jou van binne. Dis dodelik.

Ons het pas terug gekom van Stampriet af, waar ons die kinders by die koshuis gaan haal het vir die naweek. Retseh, ons oudste dogter, wil opsluit seëls hê sodat sy haar boeke vir Afrikaans kan oortrek, want so aan die begin van die jaar is dit mos wat ons doen. Afrikaans was haar gunsteling vak en sy het altyd ekstra moeite met daardie boeke gedoen. So, terwyl ek die gelukkige wenner is wat die seëls moet gaan koop, sit Pa en die dogters in die kar voor die poskantoor.

Daar staan ek toe, hoogs gefrustreerd met die feit dat daar net een persoon agter die toonbank is terwyl daar ’n ellelange ry is, angstig oor ek weet my gesin sit en smelt in die kar, kort duskant kookpunt van die hitte en baie lywe in die gebou en uiters ongeduldig, want ons moet tuis kom voor dit donker raak, want die wasgoed moet gewas word met sonkrag en daar lê nog ’n ver grondpad voor. So ek staan daar met dun nerwe. Baie, baie dun nerwe.

Voor my in die ry was seker ’n goeie agt of nege mense, en agter my ook soveel. Die volgende oomblik stap daar ’n Rasta-man in. ’n Regte, egte Rasta, kompleet met die “dreadlocks”, die veelkleurige gestreepte mus en ’n heldergeel t-hemp met Jimi Hendrix se gesig lewensgroot daarop. Ek het my so bietjie verkyk aan hom, want in al my jare wat ek in die suide bly, het ek nog nooit ’n Nama Rasta (of is dit dalk ’n Rasta Nama?) gesien nie. Ek was egter gou weer terug op my frustrasievlak wat diep in die rooi was, want vandat ek daar gaan staan het, het die ry nog nie een aks vorentoe beweeg nie. Die verergdheid het in my binneste geborrel. Ek het gekook, my gesin het gesmelt, die tyd het uitgeloop en die ry het botstil gestaan.

Na ‘n paar minute het iemand sag aan my skouer gevat en met die omkyk het ek gesien dit was Rasta-man. Hy het my intens in my oë gekyk met ’n uitdrukking op sy gesig wat ek net as besorgdheid kan beskryf. Hy het effens nader geleun en gesê: “Mevrou? Mevrou moet bedaar. Mevrou se aura is swart. Pikswart!”

Vir ’n paar lang oomblikke het ons net na mekaar gekyk, want woorde het ek nie gehad nie. Toe my brein weer begin werk, het ek net my kop geknik en gesê: “Ek glo jou. Ek het nie die gawe om auras te sien nie, maar ek kan vóél my aura is swart.” Ek het net daar in my spore omgedraai, uitgestap, in die kar geklim en vir Retseh gesê: “Jammer Pop, my aura is swart. Die seël-ding gaan nie vandag gebeur nie.”

Na daardie dag het ek hom nooit weer gesien nie. Dit was ’n vreemde en onverwagse ontmoeting, en ek het lank daarna nog uitgekyk vir hom, maar geen teken ooit weer van hom gesien nie. Ek sou graag vir hom wou vra watter kleur my aura tans is. Die swart aura het my nogal bekommer.

Ek het hom ook nooit vergeet nie, want sodra ek effe opgewerk raak oor dinge, herinner my boerman my graag aan my swart aura.

Die laaste tyd dink ek egter weer gereeld aan my Rasta-man, want met al die dinge ek elke dag sien, hoor en lees, kan ek voel my aura is weer swart. Pikswart!

© Hester Steenkamp

 

MEI 2025 – OOP PROJEK

3.Hernus se goggatjie

Een Dinsdagoggend storm Fredrieka grootoog en kortasem tot teenaan my. Ek dog dis weer ’n slang. Sy staan met haar hand vasgeklem oor haar bors. Sy hyg. Ek skrik.

“Mevrou moet kom kyk! Gou!” Ek haas my agter haar aan en praat met haar rug. “Wat is dit? Wat is fout? Wat het gebeur?”

Ek dink die allerverskriklikste dinge en sien al hoe moet ek dorp toe jaag met plaasklere en ongekamde hare. Wat sal die mense sê?

Sy storm soos ’n wilde perd voor my by die agterdeur uit en toe ons buite kom, wys sy driftig met haar arm in die lug op. “Kyk die goggatjie! Dáár! Sien mevrou hom? Dis Hernus se goggatjie!”

Ek is woordeloos. Te veel dinge gebeur gelyk en ek voel verward. Frans, Fredrieka se seun, hardloop ook nader. Sy arm wys ook hemelwaarts en hy hyg ook.

Toe hoor ek dit en dit tref my soos ‘n voorhamerhou: Hernus se goggatjie … Dis ’n hommeltuig. My skoonseun, Hernus, het met een van hulle kuiers een saam gebring en vir ons video’s en foto’s geneem. Toe kon ons ook sien hoe lyk ons stukkie aarde van bo af. Dit was vir die werkers amper te goed om waar te wees. Vir hulle het die hommeltuig skynbaar ’n goggatjie geword, en as ek eerlik moet wees, kan ek nogal die ooreenkoms sien.

Hernus is tans egter baie ver weg in die Oos-Kaap en sy hommeltuig het ’n tragiese waterdood gesterf, so wie bespied ons nou so uit die hoogte uit? My boerman is op die buiteplaas en dis net ek, Fredrieka en Frans hier op die plaaswerf en hulle al twee lyk benoud.

“Mevrou, ek het die kar gekyk. Hy staan da’ annerkant op die witpad na meneer Pieter se kant toe en nou vlieg sy goggatjie eers hier, dan daar en dan doer oor ’ie veld! Dan hang hy hier oor die prosopisboom, dan woerts hy weer veld se kant toe, tot daar agter die huis.” Frans haal skaars asem en dit lyk of hy enige tyd gaan beswyk van angs.

Ek stap voortuin toe en gaan kyk self of ek die kar kan sien. Jy kan op die pad ry waar jy wil, maar jy kan sowaar nie kom vlieg waar jy wil nie. Vir wat wil iemand kom verkenningswerk doen hier op my werf?

Ons drie stap pad se kant toe, maar die kar staan nie meer waar hy gestaan het nie. Tog hang die goggatjie nog hier bo ons koppe. Net toe ek verby die dam loop, sien ek die kar staan dwars oor die pad, maar nou links van die huis. Die sykante van die bakgedeelte is opgelig. Ek stap doelgerig nader en ignoreer Frans en Fredrieka se waarskuwings. Dié twee het vasgesteek en weier om een tree verder te gee. Fredrieka klou aan Frans se arm vas.

Ek stap nader en groet van ver af in Engels, want ek kan sommer sien hierdie is volksvreemdes, en vra of ek kan help. ’n Lang man met swart klere loop my tegemoet en praat met ’n – en ek wil nou nie spoke opjaag nie, maar hy praat met ‘n Russiese aksent. Hy sê: “Good morning. Sorry, sorry, sorry. I’m looking for my camera cap. It’s round and black.” So asof ek nie weet hoe ‘n “camera cap” lyk nie!

Ek kan sien daar sit ‘n ander persoon in die kar, maar dis asof die man my probeer weghou van die kar af. Hy bly skuif voor my in soos ek verby hom probeer kyk. Ek neem aan die persoon in die kar is in beheer van die vlieënde voorwerpie wat soveel verwarring bring.

Ek wys lug toe, na die tuigie wat steeds soos ’n voorbode oor my huis se dak hang. “Did you lose your cap in my garden?” vra ek ietwat sarkasties.

“Oh, you saw the drone?” vra hy. Hy klink teleurgesteld. Ek sê ja, natuurlik het ons dit gesien. En gehoor. Die man bly draai in die rondte en kyk op die grond. Skynbaar opsoek na die kameralens se deksel. Ek kyk ook rond.

“No, no, it’s okay, I’ll find it,” keer hy my en draai nog ’n slag in die rondte. Die hele gedoente is net vreemd.

Ek wil weet van die hommeltuig. “And the drone sir?” bring ek hom terug na ding wat my kwel.

“Sorry, I did not know people were living here,” en daarmee draai hy een laaste keer in die rondte, stap kar toe en klim in. Ek staan verslae op die pad, want dis nou ’n groot lieg. Dis baie duidelik hier bly mense.

Ek weet en verstaan nog net so min van wat aangaan as toe ek hierheen gestap het. Ek draai toe maar om en loop terug huis toe. Net toe ek verby die skuur is en terugkyk, is die kar en die hommeltuig skoonveld. Die man ook. Skynbaar sonder die verlore doppie vir sy lens.

Ek wonder steeds wat presies hy kom doen het, want hy het vir seker nie gedoen wat hy gesê het hy gedoen het nie.

***

Intussen het heelwat ander mense ook die vreemdelinge met die hommeltuie opgemerk wat oor ons area vlieg. Hulle is veral snags doenig. Ons vermoed dit het te doen met die Russe wat hard probeer om ons te vergiftig in hulle poging om uraan uit die Stampriet Akwifer te ontgin en net nie die nodige permitte kan bekom nie. Nie dat dit hulle spoed enigsins breek nie, maar hulle weet nou ons weet van hulle en hou hulle dop.

© Hester Steenkamp

 

JUNIE 2025 – PIEKNIEK PROJEK

2.Om ’n ouma te wees

Daar gebeur baie dinge in die lewe wat jou fondamente skud en jou verskrik laat kantel, maar daar gebeur ook dinge wat jou na asem laat snak en jou verdwaas laat terugsit van lekkerkry.

Een van daardie dinge wat jou asemloos laat van verwondering, is om ’n ouma te word. Die verdwasing is meestal te wyte aan die feit dat jy so oud moes word voor jy kon leer dat jy selfs nóg liewer kan hê. Nog ’n ding is die volslae verstomming waarmee jy toekyk hoe jou dogter oornag in ’n sorgsame en verantwoordelike ma verander. Dis bykans magies.

Snags, wanneer die slaap wye draaie om my loop en ek alles lê en bedink wat bedink moet word, dink ek aan die tipe ouma wat ek graag sal wil wees vir ons splinternuwe kleinseuntjie. Dan dink ek aan al die goed wat ek graag vir hom wil wys en leer, en al die dinge wat ek saam met hom wil doen.

Ek wil graag die tipe ouma wees wat tyd saam met hom spandeer. Ek wil vir hom wys dat hy belangrik is. Ek wil hê hy moet weet sy stem tel en ek wil hê hy moet voel dat hy gesien en gehoor word.

Ek sal graag saam met hom deur die veld wil stap en vir hom wys waar die patryse hul nes versteek en hoe skerpioene se gaatjies lyk. Ek wil vir hom die name van bosse en grasse leer en ek wil vir hom die groot gruisgat gaan wys wat soms, in genadejare, vol reën en waar ons al gesien het hoe bleshoenders met hulle kleintjies swem. En wil vir hom wys hoe plat ons aarde hier op die Kalkplato is as jy tot bo in die baken klim en hoe jy die son kan sien opkom en ondergaan sonder dat daar ooit ’n skaduwee oor jou hoef te val. Ek wil hom na ’n tweedehandseboekwinkel toe vat en vir hom sê dat hy enige boek kan kies wat sy hart begeer, en ek hoop hy kies een oor wense en drome en dat dit sy verbeelding sal oopkloof en blootlê sodat daar allerhande soorte lieflikheid kan uitloop. Ek sal graag saam met hom op die gras wil lê op donkermaan en vir hom wys waar Orion is en hoe die Drie Susters oor hom waak.

Ek sal vir hom wil vertel dat dit onwaar is dat slegs mense wat vroeg gaan slaap en vroeg opstaan, fluks en hardwerkend is. Ek wil hom vertel dat dit oukei is om soms koek vir ontbyt en spek en eiers vir aandete te eet. Ek wil vir hom wys waar houtkappers ’n koeëlronde gat in die seringboom se stam gemaak het. Ook hoe die Suidwes-parakiete saam met die versamelvoëls nesmaak en wys dat hulle in vrede saamwoon. Ek wil vir hom wys hoe witgatbome deur kalkbanke beur en reuse rotse oopbreek sodat hulle son toe kan groei. Dan wil ek vir hom verduidelik dat waar daar ’n wil is, is daar ’n weg en dat jy kan floreer in selfs die mees ongunstige omstandighede.

Ek wil vir ons ‘n piekniekmandjie pak met koekies en koeldrank en ek wil onder ‘n lemoendoring ‘n kombers oopgooi sodat ons na die geluide van die veld kan luister. En sodat hy kan hoor hoe stilte klink. Ek wil hê hy moet weet hoe die bessies van noeniebosse smaak en dat hy sien hoe geel die geel is van soetdoringblomme en wys dat dit nes kuikentjies lyk. Ek sal vir hom wil laat voel hoe sag die sade van blinkhaargrasse voel wanneer jy dit deur jou vingers trek, en hoe geniepsig die sade van velskoengras kan wees.

Ek wil saam met hom skulpe optel en sandkastele bou, roomys eet en luister na sy stories. Ek wil die lewe deur sy oë sien. Ek wil vir hom Twee vir ’n Stuiwer en Brolloks en Bittergal voorlees en ek wil vir hom leer van Elizabeth Eybers en Eugene Marais, van Antjie Krog en Uys Krige.

Ek wil vir hom leer om te kyk waar hy loop en wys hoe sag hy op die aarde moet trap sodat hy nie die klein vingerpolletjies verniel wat na ’n lang droogte dapper uit die grond breek nie. Ek wil hê hy moet sien hoe dankbaarheid lyk in die oë van ander as hulle weet dat jy hulle werklik raaksien.

En ek sal graag wil hê hy moet weet hoe dit voel om liefgehê te word. Hy moet weet hoe onvoorwaardelike liefde voel, sodat hy dit eendag kan gee.

Dis die ouma wat ek graag wil wees. En gaan wees.

© Hester Steenkamp

 

JULIE 2025 – SKADUWEE VAN TYD PROJEK

1.Kuiertyd

Paastyd is altyd kuiertyd. Dis dan wanneer die kinders plaas toe kom en ons almal weer saam mens kan word. Wanneer die kinders, nou volwassenes, huis toe kom.

Dis wanneer die kinders saamdrom op die werf en ons weer ’n gesin kan word wat mekaar in die oë kan kyk. Wanneer ons die wreedheid van afstand kan hokslaan en vatnaby aan mekaar kan wees. Dis wanneer ek my dogters en my kleinseuntjie se arms om my kan voel. Dis wanneer ons laataand sit en gesels en praat en raad vra. Dis stories op die stoep, vrolike stemme en skaterlag wat teen buitemure vasslaan en net so vrolik weer terugkom na ons toe. Dis musiek en vure wat hoog brand met ’n staanrib wat sy tyd vat en kort-kort sissend saampraat. Dis vurige veerpyltjie kompetisies en lank sit om die kombuistafel. Dis vars plaasbrood met dik botter en kyke vol verwyte oor wie se beurt dit is om die warm korsie te kry. Dis skaapboud en soetpatats, lepelsteeltjies en roomys, skaapstertjies en kaaswors. Dis saam buite staan en wolke kyk en driftige bespiegelings oor of die weer dan nou kom of gaan. Dis saam sit en opsies bespreek vir die pad vorentoe as die reën dan tog weer wegbly. Dis datums praat vir die volgende kuier. Dis taai handjies en die chaos van bordspeletjies. Dis teiken skiet en voer gee en dorings uit voete trek. Dis bakkie-ry en foto’s neem. Dis speletjies met die kleinseuntjie, stywe drukkies en nat soene. Dis onthou en dankie-sê vir soveel voorregte en seëninge. Dis veertien hande wat vashou vir tafelgebed. Dis ons tyd.

En dan, skielik, is Paasnaweek verby en ruk my hart aan stukke as die laaste kar om die skuur se muur verdwyn, want wie van ons weet wanneer dit weer so sal wees? Môre is aan niemand beloof nie. Volgende jaar voel te ver. Hopeloos te ver.

Dan hoor ek weer die windpomp sing, en my ore suis van die oorverdowende stilte wat my pikswart toevou. Later sal ek en my boer alleen buite sit en kyk hoe die namiddagson stadig oor die droë veld verwelk. Ons sal in stilte sit, want soms is die oomblik te groot en sal woorde net in die pad wees.

Die volgende dag sal ek al die ornamente en breekbare goed terug pak op hulle plekke vanwaar hulle weggesteek is vir klein, nuuskierige handjies en die beddegoed aftrek. Dan sal ek hulle kamers se vensters toemaak en hulle deure toetrek. Maar nie op die eerste dag nie. Daardie dag is vir hartseer wees en alles onthou wat ek nog wou gesê het, en gaar gemaak het, en vertel het. En ek sal buite rondloop om hulle spore te soek in die sagte sandkolle.

Verlange is ’n harde knop in jou keel waaraan jy wurg.

© Hester Steenkamp

 

OKTOBER 2025 – OOP PROJEK

1.Geduld

Wanneer jy op ’n plaas bly, is reën die ding waaraan jy die meeste dink. Dis die ding waarvoor jy die meeste bid en waaroor almal praat. In elke gesprek sal die onderwerp aangeroer word, selfs al bly mense in die dorp, want die dorp te besigheid hang baie af van die reën wat op die omliggende plase val. As dit goed gaan met die boere, gaan dit goed met die winkel- en koöperasie-eienaars. Daarom wil almal altyd weet of jy al reën gehad het of hoeveel jy gehad het, of hulle deel raad en bemoedigende woorde wanneer die reën wegbly. Dit bind ’n gemeenskap saam soos min ander dinge, want sonder reën kan niemand nie. Dis nou een ding wat ons almal in gemeen het, maak nie saak watter kerk jy bywoon, vir watter party jy stem of wat jou velkleur is nie.

Elke nuwe somerseisoen wag ons angstig op reën. Party wag vir ’n eerste bui, ander wag vir ’n opvolg bui om die ontkiemde saad aan die lewe te hou. Ons wag. Dis daardie wag wat die woorde van jou lippe af wegvee sodat jy kliphard met jou hart bid terwyl jy dooie diere wegry en aanhou probeer om geduldig te wag, al sien jou oë dat die bloedige son die moedige grassies wegbrand. Selfs al sluit jy jou oë, sien jy dit.

Die suide van Namibië is ’n dankbare stukkie aarde. Dit vra nie baie om ’n totale gedaanteverwisseling te ondergaan nie. Dit vra net bietjie reën en opvolg wat betyds is. Dan skiet die agdaggras tussen die klippe op tot dit soos ’n sagte tapyt lyk wat jou hart in jou borskas laat bons en jou oë nat maak. Die ghabbabosse blaas op hulle wit trompette, heldergeel botterblomme weerkaats die middagson totdat daar ’n goue gloed oor die veld hang en jy hoor weer die roep van kolganse met sonsopkoms. Jy sien vreugde oral waar jy kyk. Die diere loop sommer al die dag na die eerste reën verby die lekbakke, kompleet asof dit gras gereën het. By hulle het ek baie van geduld en durf geleer. En van aanvaarding.

En so is boere ook. By hulle het ek die meeste geleer. Ek weet geduld is ’n vrug van die gees, maar by boere het ek dit met my eie oë gesíén. Ek het gesien dat geduld aangeleer moet word, want dit kom nie natuurlik vir ’n mens nie. Ek het gesien dat opstandigheid jou niks in die sak bring nie en dat jy moet aanhou doen wat jy moet doen, al is dit nie lekker of maklik nie. Ek het ook gesien dat moeg nie moedeloos beteken nie. Ook dat jy vir die natuur moet luister en fyn moet kyk om die tekens raak te sien. Boere lees die natuur soos ’n boek en kyk uit vir hierdie tekens: Bloukopkoggelmanders wat gate grou, miershope wat hoër gebou word, vinke wat luidrugtig nessies weef en watervoëls wat verward rondtrap op droë grond. Dan wag hulle nog ’n rukkie. Nog net ’n rukkie, dan is alles weer mooi …

Ek bid dat elke boer se geduld beloon sal word met groen veld, want daar is geen verlange wat blywend onvervuld bly nie. Ek bid dat daar genoeg reën vir elkeen sal kom wat so noukeurig notisie neem van elke leidraad wat die veld gee, dat hulle verwagtinge oortref sal word en dat daar kalmte in hulle binneste sal nesskop wat alle verstand te bowe gaan.

© Hester Steenkamp, 2025

 

JANUARIE 2026 – NUWE BEGIN PROJEK

3.Die stad se getye

Die droogte het soos Tafelberg tussen my en my boerman kom staan. ’n Bykans onmoontlike groot versperring tussen dit wat ons wil en dit wat ons kan.

Ons keuses het een na die ander voor ons oë opgedroog. Die verskoning dat die droogte nie vir ewig sal aanhou nie, het afgewater begin klink, want dit wou blyk dat dit wel vir altyd gaan aanhou. Daar was net geen einde aan die teleurstellings en bekommernisse nie. Die jare en jare se swoeg en sukkel om ons diere aan die lewe te hou, het ons opsies laat verdamp. Daar was net een oor. Een van ons sou moes weggaan om te gaan werk en geld in te bring, want kalkklippe kon ons nie eet nie. Al die fondse was reeds in veevoer in en die bankbestuurder het geen genade nie. Ook nie enige van die ander mense wat maandeliks wag vir betalings nie.

Die boer kon nie van die plaas af weggaan nie, want hoe sou ek alleen regkom? Ek is ’n baie goeie boer-se-vrou, maar nie ’n boervrou nie. Ek het eenvoudig nie daarvoor kans gesien nie. Daarom het ons besluit dat ek my suster se aanbod moet aanvaar om by haar maatskappy te gaan werk. Dit was nie ’n maklike besluit nie, want ons plaas is in Namibië en my suster se besigheid in die Kaap. Dis 1162 km weg van mekaar.

Ek moes my tasse pak en Kaap toe trek. En alles was moeilik. Alles.

Ek het baie nuwe dinge in die Kaap geleer. Soos dat Kaapstad beslis nie meer as Slaapstad bekend kan staan nie, dat Tafelberg nog net so mooi is soos ek dit onthou, dat alles waar is wat mense oor taxi’s sê, dat nagte in die stad nooit donker is nie en dat dit nooit, ooit stil is nie. Vir iemand wat van ’n plaas af kom, is die ewige geraas die moeilikste deel om aan gewoond te raak. Na meer as ’n jaar kon ek dit nog nie regkry nie.

My suster se huis, waar ek nou bly, is vasgedruk in ’n hoek van ’n vierkant wat aan drie kante geraam word deur die N1, die R300 en Ou Paarlweg.

Saans, wanneer ek in ’n oranje gloed van straatligte in my bed lê, luister ek na die konstante, nimmereindigende gedruis van voertuie en vragmotors op die drie hoofweë. Dit hou nooit op nie. Waarheen al die mense gaan, of waarvandaan hulle kom, kan ek my nie indink nie.

Dan sluit ek my oë en verbeel my dis die branders van die see wat ek hoor. Vroegaand is dit hoogwater, wanneer die dreuning tot in my binnegoed vibreer. Ek hoor hoe die see vol raak en driftig teen die rotse slaan. In die donker wat nooit waarlik donker is nie, luister ek dan hoe die gety homself uitwoed en dit hier in ounag se koers stadigaan oorgaan in laagwater, met net sagte deinings soos klein golfies wat op Paternoster se strand breek. Kalmer, maar nooit stil nie.

Dis net mooi dan wanneer ’n paar motorfietsryers hulle ysterperde se stange vasvat en die keelgate ooptrek om die lang, oop pad ten volle te benut. Dis mos reeds “laagwater” op die paaie.

Die eerste paar nagte het ek verskrik regop gesit en my hart vasgehou en gebid dat ek asseblief tog nie ’n slag wil hoor soos een hom te pletter val nie. Ek het asem opgehou totdat die woedende gebrul stil raak.

Soms draai die wind skielik en kom spoel die N1 se springgety bo-oor my en soms is dit die geloei van sirenes, alarms of ambulanse wat my see-gedagtes versplinter. Dan wonder ek hoeveel seer en swaarkry hier om my is waarvan ek nie eers weet of ooit van sal hoor nie. Dan het ek nog ’n rede om wakker te lê.

Ek hoop ek sal gewoond raak aan die stad se getye, hoewel ek my seker maar altyd sal verbeel dis die see wat ek hoor.

© Hester Steenkamp

(517 woorde)

 

FEBRUARIE 2026 – OOP PROJEK

1.Eensaamheid sonder stilte

Wanneer jy “anders” is, word jou andersheid selde gesien as iets besonders. Dis eerder iets wat ander wil “regmaak”, of hulle vermy jou liefs heeltemal. Jy leer vinnig dat hulle nie woorde gebruik om jou te laat verstaan dat jy nie inpas nie. Dit lê in die manier waarop hulle na jou kyk. Of die manier waarop jou menings beleefd geïgnoreer word, en jy as naïef of “te sensitief” afgemaak word. Jy voel hoe jy jouself begin weeg, en dan te lig bevind. Jy begin skaaf aan jouself en trek terug. Jy raak stiller, minder, makker. Jy neem ’n tipe “moenie-my-raaksien-nie-houding” aan.

En dis nie asof jy nie probeer het nie. Jy probeer om oor die regte dinge te praat, te luister na stories oor mense wat jy nie ken nie, of onderwerpe waarin jy nie werklik belangstel of verstaan nie. Dis bykans asof jy ’n vreemde taal moet leer praat wat nie jou moedertaal is nie. Jy maak die klanke na, maar jou aksent bly deurslaan. En jy besef jy sal nooit soos hulle klink nie. Dan begin jy jou taal tem, jou gedagtes inperk, jou kern wegsteek. En voor jy weet, voel jy ontuis in jou eie vel. Jy raak ’n vreemdeling vir jouself. En steeds bly daar ’n afstand – ‘n onuitgesproke grens wat jy nie kan oorsteek nie, want hulle leef volgens ’n wêreldbeskouing waarin jy nooit werklik ’n plek gehad het nie en waar hulle ook nie bereid is om plek vir jou te maak nie. Dis ’n soort eensaamheid wat niks met stilte te doen het nie.

En dit is dalk die moeilikste deel: om te besef dat die probleem nie jou pogings is nie, maar die beperkte beweegruimte wat hul vir jou los. Hul definisie van “normaal” is eng, en alles wat buite daardie raam val, word met agterdog bejeën. Jy herinner jouself kort-kort dat jy nie verkeerd is nie – jy is net ’n ander kleur in ’n palet wat net een skakering aanvaar.

Dit maak seer om nie aanvaar te word in ’n gemeenskap waar jy moet leef nie, maar dit het ook ’n vreemde krag: die besef dat jy nie jou siel hoef te verruil vir ’n plek by hul tafel nie. Dit raak later iets persoonliks wanneer jy die moed kry om nie meer te probeer inpas nie. Dan is jy jý sonder om verskoning te vra daarvoor. Maar dit kos jou baie tyd en trane om tot op daardie punt te kom. Baie, baie trane. En bykans ’n leeftyd.

Die heerlikheid is wanneer jy in die loop van jou lewe op onvoorsiene afdraaipaaie beland en mense vind vir wie jou andersheid nie ’n bedreiging is nie, maar iets wat herken word. En aanvaar word. Hulle herken hulleself in jou en jy jou in hulle. Mense wat nie vra dat jy jou moet verskraal om in te pas nie. Wat jou raaksien.

En dan weet jy: ek behoort.

© Hester Steenkamp, 2026

MAART 2026 – HERFS/KAS PROJEK

1.My kopkantoor

Ek en my boerman sit een aand langs die braaivleisvuur en ek hou hom dop waar hy ingedagte oor die veld staar. Of so het ek altans gedink. Toe ek hom vra waaraan hy dink, het hy my verbaas aangekyk en gesê: “Niks.” Verbeel jou dit! Niks!

Die blote gedagte dat iemand die vermoë het om aan niks te dink nie, het my geskok. Ek het nie geweet dis ’n moontlikheid nie. Dit móét ’n talent wees. Of ’n superkrag. Byna soos Superman wat kan vlieg of Spiderman wat ’n web kan gooi.

As my kop ’n plek was wat jy kon besoek, sou jy ’n nommer by die deur moes trek. Nie omdat daar orde is nie, maar omdat daar nié is nie. Chaos lyk net beter as dit genommer is. Dis voorgee dat daar ’n werkende stelsel is.

My kop werk min of meer soos die staat se aktekantoor op ’n Vrydagmiddag. Administratiewe wanbestuur van epiese proporsies. Daar is rakke en kaste teen al vier mure vol stowwerige lêers wat lukraak neergeplak is in hope wat enige tyd kan omval. Daar is lêers op die vloer, onder die lendelam lessenaar se een poot, op die stoele, vensterbank en op die hoeke van my tafel waaroor ek beswaarlik kan sien. Sommige het etikette. Die meeste het nie. Dis ook nie te sê dat dít wat in die lêer is, ooreenstem met wat op die etiket staan nie. Jy kan ’n lêer oopmaak wat sê “Belangrike Volwasse Besluite” en binne kry jy ’n half-geskryfde inkopielys, ’n nota om iemand terug te bel, en die skielike dringende vraag oor hoekom rooibekkweleas nooit teen mekaar vasvlieg nie. Die lêers is ontsier met koffievlekke, donkie-ore en vergeelde blaaie. Sommiges is leeg en ander is so vol dat dit met dik tou en ’n dubbele knoop vasgebind is.

Op enige gegewe dag kan jy in my kop instap en die volgende aantref: ’n dringende taak wat ek doelbewus ignoreer, ’n liedjie se een reël wat op herhaling vassteek,
’n gesprek van drie jaar terug wat skielik weer appèl aanteken en ’n eksistensiële krisis wat op ’n plastiekstoel sit en wag vir sy beurt.

In die middel van hierdie kopkantoor met sy skeefgetrekte kaste sit ek met ’n pen in die hand, asof ek in beheer is. Ek is nie.

Gedagtes kom aan soos besoekers sonder afsprake. Party klop nie eers nie – hulle loop sommer in, sit hulle voete op die tafel bo-op my papierwerk en begin praat. Ander loer skaam-skaam om die kosyn, wag vir toestemming, en as ek te lank vat om te reageer, verdwyn hulle weer sonder dat ek ooit gehoor het wat hulle wou sê. Die ergste is die lêers wat ek al tien keer gestempel en afgeteken het, en dan weer oop voor my kom lê. Dis dié’s vol ou gesprekke, ou vrae en kwellings. Dis die een van “het ek genoeg gedoen?”, of “het ek te veel gepraat” of “het ek die boodskap reg verstaan?”

Dis asof my kop ’n kringloopstelsel het waar niks ooit heeltemal afgehandel word nie.

En dan hoor ek daar is mense (mans!) wat aan niks kan dink nie. Aan niks!

Ek probeer my dit voorstel: ’n Leë kantoor. Nie ’n enkele lêer in sig nie. Geen notas wat halfpad geskryf is nie. Geen stemmetjies wat mekaar in die rede bly val nie. Net… stilte.

Vir my klink dit soos ’n plek waar dit heel moontlik spook.

En hoe lyk “niks”? Is dit ’n wit bladsy? Stuur jy ’n kennisgewing uit wat sê: Gesluit vir onderhoud? Laat sak jy die blindings? Is dit donker daarbinne?

Want in my kopkantoor bly die ligte aan. Altyd. Selfs wanneer ek snags probeer slaap. Daar is beweging en geraas van gedagtes, herinneringe wat onder ’n kas ingewaai het en ’n rooi, flikkerende soeklig wat sê: DRINGEND, al het ek vergeet wat ek moes onthou.

Wanneer ek aan niks probeer dink, gebeur presies die teenoorgestelde. Dan ontdek ek lêers wat ek nie eens geweet het ek het nie, die telefoon lui, ’n duif vlieg teen die ruit vas en iemand druk ’n papier in my hand en sê ek moet onmiddellik hieraan aandag gee.

Dalk is dit ook maar ’n bestiering dat my kopkantoor nie so netjies en georganiseerd is nie, want dis die plek waar my stories begin, waar woorde onverwags langs mekaar inskuif en sinne raak. Waar die totale chaos iets lewendigs en tasbaar word.

Miskien is die warboel die hele punt, want daar is oomblikke tussen die aanmanings, verkeerde etikette en ou dokumente waar iets skielik begin sin maak. My kopkantoor met al sy kopkaste sal waarskynlik nooit stil wees nie en ek sal heel moontlik nooit leer om aan niks te dink nie, maar neem gerus ’n nommer. Ek sal terugbel.

© Hester Steenkamp, 2026




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed