Roos van Saron
Hooglied – Lied der liedere
lied der liedere
ʼn Hoogliedsgesang
pryse aan ware liefde
in blom se kroonblaar-bloswang
geure van intense vreugde
soos lelies van die Goddelike veld
lokkende liefdesaromas
van Maria as mistieke roos vermeld
gespreide bloemvlerke
van die Bybel se trooskuur
kalmerende geure op aandlug
soos engelboodskappe gestuur
al is roosbome afwesig
in die kaal avonduur
krans steeds ʼn kroon van vele rose
sonder doring se skuur
rozenkrans se meditering
wat vele twyfels verwerp
op die geure van geloof
sal essensiële olies verskerp
die blom van God’s liefde
in passie en opoffering
teen aarde se kwaad en skaad
deur bloed se rooi beskerming
knopknoetse uit Son gebore
en in Sy tyd oopgevou
uit kleurblaar in skeppingslae
vir die bewonderaar se onthou
gul geestelike wysheid
in die simboliek van ‘n blom
ons lewens geparfumeer
soos die heiland wat kom
in kosbare salfolies
gefiltreer en vergaar
maak jou kruis op my voorkop
as’ k in jou blomtuin baljaar
sterk soet geure van die roos
bring soetheid van liefde in gedagte
herinner die mens in blom se prag
aan almag-God se essensie en kragte
pienk roos stuur jou boodskap
van vrede en dankbaarheid
jy is die boodskapper van God
blosend en pragtig in stil heiligheid
*”Ek is ’n roos uit Saron,
’n lelie van die veld!
Soos ’n lelie tussen doringbosse,
so is my beminde tussen die ander meisies.
My liefling is vir my soos ’n appelboom
in die boord tussen die ander jong mans.
Om onder sy skaduwee te sit,
is vir my pure genot
en sy vrugte is soet in my mond.”
Etna Wepener ©️
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.