Wie is ek?
Tema: Wie is ek ?
Riempies het hulle my by die skool genoem….ek was seker dat dit was oor ek so lank en skraal was. Toe was dit altyd oor ek so seningrig soos ‘n riem was.
Hoe”rskool Elsburg sit nie in enige langafstand atleet se skoene nie. Ek moes my man staan en moes my opvoeding menig maal met die hoeke van my skooltas verdedig.
Ek kry toe sin in die taaigeit, en bekwaam myself as speurder in Elsburg.
Toe word ek groot.
Nou is ek Johan. Net Johan. Ek verpes titels en mense wat jou in boksies wil sit.
Nou nog herkou ek aan die destydse getorring in my dieptes om kinders te laat lag. Voor ek kon sê “staan of ek skiet” bevind ek my agter die gordyntjies van ‘n poppekas, besig om luilekker stories te vertel aan hordes vuilbekkies van die buurt.
My verbeelding kry vlerke en ‘n sluimerende passie klim uit die kas.
Ek ontmoet my onderwyseres vrou, Leonie, en vind my geesgenoot. Saam klim ons die berg van kinderbediening, lag ons saam met die wat lag, en huil ons met die wat huil. Die lewe is ‘n verhaal wat wag om deur iemand met prentjie-hart vertel te word.
Intussen loop die lewe ook sy draaie met my en my gesin. Ek ontvang vroeg pakket. Ek vind my identiteit in die stories wat ek vertel aan al wat leef en beef – die wat dit wil hoor en die wat dit nie wil hoor nie!
Ek maak ‘n draai op Aardklop, by verskeie kleuterskole en ook radio stasies. Ek doen wat my hand vind om te doen en rig ‘n verskeidenheid sportsoorte af by die skole waar Leonie skoolhou.
Ek word die lag in die traan, die hoop in die wanhoop,die een wat troos waar die lat van die samelewing bykom en die vaderfiguur waar dit kortkom…
Een nag kry ek ‘n droom. God praat. Nes die keer met Salomo. Ek kry die opdrag om ‘n boek te skryf. Elke fasset van die droom is vir ewig in my vasgevang, selfs die moer wat van die groen peugeot se dak afrol….
Leonie is in die sewende hemel. Ek is my kinders, Leon en Juanri, se ikoon. Die familie dink ek het finaal my varkies verloor.
Ek kry nie asem nie.
Maar ek skryf. God het met my gepraat. Die wêreld moet heel word deur dit wat ek te sê het.
Geen detail wat God my in die droom gegee het word misgekyk deur my speurders hart nie. Ek skryf in krom, gebroke, polisiestyl – Leonie klim in en verbeter my spelling en sinstruktuur. Sy doen dit selfs vandag nog!
Deur nog ‘n absolute wonderwerk en God se getrouheid sien die boek die lig, en word uitverkoop!
Die ys is gebreek. Na twee jaar volg boek twee, boek drie, boek vier…en my stories eskaleer. Ek slaap min en droom baie…
God praat. Ek luister.
Ek is Johan. Net Johan.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.