“Wie het chaos gesaai?”
Baie lank gelede was daar ‘n afgeleë klein dorpie, met die naam Witgatwortelfontein, in die noorde van Namibië.
Op Witgatwortelfontein was ‘n klein Boesman-gemeenskap gevestig, wat totaal en al geïsoleer was van die beskawing.
Gevolglik was die mense van Witgatwortelfontein om oorlewing geheel en al van die natuur afhanklik. Daarom het hulle dan ook groot respek en waardering vir die natuur gehad. Vir hulle was dit ‘n kwessie van leef en oorleef. Of te wel die spreekwoordelike een hand wat die ander was.
In hierdie afgeleë primitiewe ou dorpie het daar ‘n ou man, met die naam Nani gewoon. (Die naam Nani beteken, ‘die een wat sien’), Hy was die leier van die gemeenskap, en alombekend as Oupa Nani.
Oupa Nani was al vêr gevorder in jare, en sy gesig was, so het almal gesê, verkreukeld soos die bas van ‘n kameeldoringboom, as gevolg van al sy wyshede wat hy altyd kwytgeraak het.
Oupa Nani was egter ’n man van min woorde. Hy het selde gepraat, maar as hy die dag praat het almal geluister na wat hy sê. Selfs die wind het dan gaan lê om te geluister wat Oupa Nani sê.
Oupa Nani het die gawe gehad om dingetjies te onthou wat die meeste mense lankal vergeet het. Soos onder andere die mites en stories van die Boesmans wat deur mondelinge oorlewerings oor duisende jare heen oorgedra is. Hierdie stories weerspieël hul wêreldbeskouing, hul verhouding met die natuur, en hul spirituele oortuigings. In ’n neutedop, ou tradisionele stories wat waardevolle lewenslesse ingehou het.
Oupa Nani het ’n seun gehad met die naam van Xoma (Xoma beteken Jakkals). Xoma, was op almal se lippe bekend as volstruiskop Xoma, omdat hy altyd dronk was, van mampoer wat hy gestook het uit die een of ander plant wat hy uit die sand gegrawe het. Niemand het ooit regtig geweet van watter plant hy die mampoer, gestook het nie.
Witgatwortelfontein was vir bykans sewe Jaar lank deur ‘n uitmergelende droogte geteister. Die mense sowel as die natuur, waarvan hulle in hul stryd om oorlewing afhanklik was, het gevolglik swaar gebuk gegaan onder hierdie uitmergelende droogte. Die son was skroeiend. Selfs die miere het in die skadu van hul eie gate onder kameeldoringbome gebly.
Op ’n dag kom daar ’n paar reuse wolke in die blou-blou lug aangedryf. Die mense het uit hul skuilings gestorm en met verwondering na die wolke gestaar, wat al donkerder en donkerder geword het.
Toe begin dit stortreën. “Die Reënbul is aan die storm oor die aarde,” het die mense van Witgatwortelfontein geglo.
“Die gode is ons begenadig,” het almal luidkeels uitgeroep, terwyl hulle in die stortreën sing en dans. Die kinders het uitgelate in poeletjies water gespring en opgewonde gespeel. Van die jongste kindertjies het nog nooit vantevore reën gesien nie en verbouereerd en bang agter hul ma’s se rokke gaan wegkruip.
“Kom ons hou môre ‘n groot fees langs die spruit buite die dorp,” het een van die jongmense van blydskap uit volle bors geskree, terwyl hulle al in die rondte dans. “Kom ons vier die lewe,” het nog iemand geskree.”
“Ja! kom ons hou ’n reuse piekniek soos die mense daar vêr in die dorpe,” het ’n ander een gesê, wat in een van die dorpe gewerk het en net af en toe vir sy familie op Witgatwortelfontein kom kuier het.
Almal het altyd aan sy lippe gehang oor die stories wat hy vertel het van wat in die dorp gebeur waar hy werksaam was.
Die hele dag en nag deur het dit gereën.
Die volgende oggend is al wat leef in die dorp uit op pad na die spruitjie, wat vir jare droog was en nou van kant tot wal vol is en sterk vloei.
“Dit is hier waar ons ons piekniek-fees gaan hou,” sê een opgewonde. “Ja!” beaam iemand anders ingenome, “Kyk net hoe mooi groen loop die gras uit daar oorkant die spruit,” merk iemand van vreugde op. Daar was glimlagte van dankbaarheid op almal se gesigte.
Die mense van Witgatwortelfontein het begin voorbereidings tref vir hulle piekniek op rietmatjies langs die spruitjie.
Die jong mans het hulle pyle geslyp, terwyl die vrouens in die veld gaan kos soek het. Die kinders het die bome langs die spruitjie met kraletjies en blomme uit die veld versier.
Almal het in ’n groep uitbundig gelag en hande klappend gesing en dans. Hulle wou vir die gode, en hul voorvader geeste, wys dat die mense van die Witgatwortelfontein nog lewe het.
Oupa Nani het eenkant op ’n klip gaan sit en met sy kierie op die grond gestamp om almal se aandag te kry. ’n Doodse stilte het op die piekniekgangers gesak, terwyl almal gewonder het oor wat Oupa Nani dan op die hart het, want daar was eerder kommer op sy verkreukelde gesig as vreugde.
Dan sê hy in ’n swaarmoedige stem, “Mense van Witgatwortelfontein, ek is saam met julle bly oor die reën wat die gode vir ons gestuur het, maar ek het ook ’n groot onrus in my hart.”
“Ek ruik ’n chaos,” sê hy.
“Chaos?” vra een van die jongmense.
“Ag, die ou man sy kop is deurmekaar fluister ’n ander een vir hom.”
“Wat is chaos oupa?” vra Kuru, een van Oupa Nani se kleindogters. (Kuru beteken, ‘die een wat tydens droogte gebore is.’)
Oupa Nani tuur in die verte so asof hy nou mooi moet dink oor wat hy vir sy kleindogter moet sê. Dan sê hy met ’n swaarmoedige gees, “chaos,” is die saad van skeefloop, my kind.”
“Dit is wanneer vreugde te hard lag en dinge erg verkeerd loop, anders as wat jy dit beplan het.”
“Dit gebeur wanneer mense nalaat of vergeet om respek te betoon. Dit is wanneer vreugde en blydskap vergeet dat hartseer en pyn nog leef,” sê Oupa Nani.
Kuru verstaan nog steeds nie wat haar Oupa bedoel nie. “Maar oupa,” sê sy, dit het dan gereën na so baie jare, die veld word pragtig groen en die bome het bloeisels aan en ons kon al hierdie pragtige blomme uit die veld pluk en die spruitjie is weer vol water, wat kan dan verkeerd loop?”
Van die jongmans skaterlag, want ou volstruiskop Xoma se mampoer, wat vrylik vloei, praat nou. Die ou man is skoon van sy vlakvarkies kwyt, kom ons verdra sy vermaning maar. Dit is niksseggend.”
“Gooi vir hom ’n kalbassie van ou volstruiskop Xoma se mampoer in dat hy rustig kan raak. Ons is hier om ons piekniek te geniet.”
Oupa Nani het nie gelag nie. Hy het vooroor gebuk en met sy wysvinger ’n sirkel in die sand getrek, wat volgens hul tradisie ’n simbool is so oud soos die maan se asem.
Toe kyk hy op en sê: “chaos, is soos ’n swerm sprinkane, jy sien hulle nie, tot hulle al klaar op jou is,” waarna hy opgestaan het en huis toe gestap het.
Die mense het uitbundig voortgegaan om hulle piekniek te geniet.
Die mans het gesit en vertel oor hoe hulle die gemsbok wat nou oor die kole braai bekruip het en met die eerste pyl uit die boog van een van hulle morsdood geskied het.
“Witgatwortelfontein is weer in balans met die wêreld,” het hulle gesê.
“Waar is ou volstruiskop Xoma, ek sien hom nie?” vra iemand.
“Daar staan hy by die spruit,” merk iemand anders op.
“Hy is sowaar besig om visse met sy hande te vang,” sê een van die jongmense.
“Kyk daar, sê ’n ander een verbaas, wat maak hy?’ “Hy is besig om die visse mampoer te voer en wanneer die vis opkom vir nog, dan vang hy hom met sy hande,” spot hulle.
“Ja almal is besig om hulself gate uit te geniet,” sê een van die ouer mans.
“Die gode het uiteindelik ons gebede verhoor. Dit is net Oupa Nani wat nie in ons vreugde deel nie, en saam met ons piekniek hou nie. Regte knorrige ou man,”
In die verte het die lug op die horison skielik tot bykans donker verkleur. Die wind het gedraai en al sterker en sterker begin waai.
Dit was nie ’n warm wind soos wat die mense van Witgatwortelfontein gewoond was daar waai nie. Dit was ’n koue klam lug wat met die sand gepraat het.
Dit het vir hulle geklink asof die wind met hulle praat, met die stemme van hul voorvadergeeste
Die voëls wat net-nou nog vrolik in die veld en bome saam piekniek gehou het, het skielik stil geraak. Die stilte was onheilspellend.
Die volgende oomblik blaas die woedende Reënbul in die stem van die wind.
Verwoed storm hy op die piekniekterrein af en saai chaos deur die oorblufte piekniekgangers se vreugde-piekniek.
Almal het desperaat na skuiling gevlug.
Die dansers het uitmekaar gespat. Die vuur het doodgegaan. Die gemsbokvleis het in die sand gerol. Die kinders het gegil en verbouereerd gillende, vreesbevange na hul ma’s gesoek.
In die middel van die verlate piekniekterrein, het Oupa Nani met uitgestrekte arms gestaan.
“Ek het julle gewaarsku dat iemand chaos gaan saai. Nie met kwaad nie — maar as gevolg van verwaarlosing. En kyk nou, die aarde het onthou, die aarde het gepraat,” het hy met gedempte stem gesê.
Ná die storm was die mense vir dae lank nog stomgeslaan en het in stilte hulle skade op-geruim. Hul potte was toegespoel onder die sand, die kole van hul vure was koud, en selfs die miere het stadig geloop. Die dorp was nie vernietig nie, maar dit was verander.
Die ou vrouens het bymekaargekom en gesê: “Ons moet weer leer om te luister.”
En so het hulle weer begin om die grond te vra: “Is jy tevrede?”
Hulle het na die wind begin luister voor hulle weer piekniek gehou het. Hulle het die ou liedere weer begin sing. Die liedere met name van geeste wat nie meer in kinders se monde was nie.
Oupa Nani het op ’n klip onder sy geliefde kameeldoringboom gaan sit.
Die jongmense en die kinders het na hom toe gekom, nie spottenderwys of met glimlagte op hul gesigte nie, maar met gesindhede van ontsag, eerbied en respek. Hulle wou na sy vertellinge en stories kom luister, en daaruit leer.
Oupa Nani het ’n diep tuig aan sy pyp gegee en die rook in sulke spierwit kringetjies die lug ingeblaas terwyl hy lank in die rigting waar hulle vroeër piekniek gehou het tuur.
“My kinders,” sê hy selfvoldaan, “Chaos is nie boosheid nie. Dis die kind van vergeet. Dit groei in stilte. En as jy nie kyk nie, storm dit oor jou soos die Reënbul en die wind wat nie vra vra nie.”
En so, selfs vandag nog, sê die ou mense “As die wind anders draai, en die diere skielik stil raak, moet jy vra: “Wie het chaos gesaai?”
————————-oo0oo—————————–
©Pieter Mostert
[woorde = 1800]
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Junie 2025 – PIEKNIEK projek