Jongste aktiwiteit:

DIE TAAL WAT KAALVOET PRAAT (Vervolgverhaal) HOOFSTUK TWEE

Die eerste Boesman

Pieter sit weer langs Buks Appelblaar by sy geliefde vuurtjie in die Kalahariwoestyn, in die noorde van Botswana. Soos die ou Boesman-gesegde lui … Elke vuur het sy eie storie.
Dit is donkermaan in die Kalahari. Daar heers ’n absolute vreedsame stilte, asof heilig, tussen hom en Buks terwyl hulle sprakeloos net sit en staar na die asemrowende skepping wat hulle omhels.
Die naghemel lyk vir Pieter soos ’n sagte fluweelkaros wat met blinkende diamantjies versier is. Sover as wat Pieter kan sien is die hemelruim oortrek met ’n netwerk skitterende sterrre wat soos spinnerakke aan die fluweelkaros van die naghemel kleef.
Die aswit melkweg met sy helder sagte band van sterre-miswolkies troon uit bokant die suiderkruis. Die maan lyk vir hom soos ’n spierwit sekel wat sterre rondom hom oes.
In sterk kontras hiermee, omsluit die nostalgie van die baie donker golwende duine van die Kalihariwoestyn hulle. Net die lig van die kletterende vuurtjie van Buks Appelblaar staan uit teen die donker.
“Myse groot vriend,” sny Buks Appelblaar se stem soos ’n pyl uit sy boog die stilte tussen hulle. Hy bly so paar sekondes stil, so asof hy wag om Pieter se volle aandag te kry.
“Ek wil djou vanaand ander storie vertel.” Buks teug aan sy pyp en blaas wolkies rook die lug in. Dit hang soos spierwit spookasem in die donker aandlug. Dan gaan hy voort.
“Myse groot vriend, daar v-ê-r agterverby by d-a-a-r-i hoog dyn, daar es aner Boese’mense wat daar bly. Hulle vertel hom storie hoe diese eerste Boese’man hy het ga’bore.
“Dari Boese’mense hulle sê l-a-n-k-a-l sy tyd, toe was hom onse Kalahariland nog jonk.” Buks Appelblaar wys met sy hande terwyl hy met oortuiging praat. “Daar was nie Boese’mense wat by diese dyne galoop het nie. Diese dyne was hom leeg gawees. Net die son en die wild diere het galoop by diese dyne. Toe daar es aner groot gees syse naam es Kaggen.”
Pieter verstom hom aan die wyse waarop Buks Appelblaar met sy stem en gebare en trouens met sy oë en hele liggaam, iets aan jou kan oordra asof hy die insident voor hom sien afspeel.
“Kaggen,” vertel hy verder, “hy bly hoog bo by diese blou karos vani dag,” en hy beduie na die hemel met sy een hand.
“Kaggen, toe hy roep hom diese by en hy praat samet dari by.” Buks beduie met sy hand bakgemaak voor sy mond soos wanneer jy iets in iemand se oor fluister.
“Kaggen hy het gary by dari by syse rug. Diese hele aarde was hom net water, maar diese hoog dyne by onse Kalahariland was hom droog.
“Dari by hy het ga’vlieg en ga’vlieg met Kaggen by syse rug,” vertel Buks terwyl hy opstaan en met sy een hand aan sy rug vat. Met die ander hand maak hy golfbewegings om vir Pieter te demonstreer hoe die by gevlieg het met Kaggen op sy rug. Dan gaan sit hy plat op die grond terwyl hy uitasem sê: “Dari by hy het ga’word hom moeg. Toe hy sien hom diese blom by d-a-r-i hoog dyn. Diese by hy gaan sit hom op diri blom om hom bietjie te rus. Dan dari by hy saggies neerlê vir Kaggen op dari blom.” Hy bly paar oomblike stil voor hy voortgaan.
“Kaggen hy het bietjie gaslaap, want hy was hom banja moeg. Sos Kaggen hy word hom wakker by die môre, syse oge hille loop by diese dyne. Dan, hy afklim by dari blom. Kaggen hy kyk hom rond. Die dyneveld hy praat nie. Hy is hom banja stil. Toe Kaggen hy knieg neer by diese sand en hy steek syse hane diep in by diese warm rooi sand. Kaggen hy vat hom diese sand so met syse hand en hy loop by diese water,” demonstreer Buks deur ’n hand vol rooi Kalaharisand toe te vuis. “Dan hy mak hom diese bol kly. Kaggen hy vat dari bol kly hy het gamaak, en hy maak dari bol kly diese arms, diese bene en diese gesig. Kaggen hy dan blaas so by diese neus van dari klymens hy het gamaak.”
Buks blaas die sand in sy hand dat die stof so trek. Pieter wou eers lag, maar toe hy die erns op Buks Appelblaar se gesig sien, bedwing hy sy lag en luister met ’n uitdrukking van diepe konsentrasie na wat Buks verder te vertelle het.
“Toe dari kly Boese’mens hy mak hom oge oop en hy asem by diese lug. En so diese eerste Boese’mens hy is gabore hier by onse Kalahariland.
“Kaggen, hy glimelag so groot,” beduie Buks met uitgestrekte ams.
“Ok Kagen,” hy sê vir dari Boese’mens: “Ek het djou gemak met myse eige hane van diese sand van diese Kalahari. Myse gees hy het gagee diese lewe by djou. Hier by diese Kalahari djy sal jag, djy sal dans, djy sal lag en djy sal hom diese stories vertel by djouse vuurtjie, net sos ek Buks Appelblaar vertel hom diese storie hierso by myse vuurtjie vanaand vir djou myse groot vriend,” sê Buks. Hy glimlag breed en baie trots op homself.
Na ’n lang stilte staan Buks op, haal diep asem en suig aan sy pyp asof hy eers sy asem daaruit moet opsuig. Hy blaas sulke kringetjies rook hierdie keer die lug in, dan sê hy: “Myse groot vriend, dari eerste Boese’man hy opstaan.”
Buks se gesig en sy oë straal as hy verder vertel. “Dari eerste Boese’man hy voel hom diese Kalahari syse wind hy praat by syse ore. Hy hoor hom diese voëls, hulle sing. Hy sien diese diere by diese dyn se veld en hy denk ai! hieri is mos myse Boese’manland, myse Kalahariland!” Buks Appelblaar klap met sy een hand op die ander hand se rug om sodoende te beklemtoon wat hy gesê het.
——-ooo000ooo——-

Kaggen maak die maan

Pieter sit die volgende aand weer langs Buks Appelblaar by sy vuurtjie wat oudergewoonte met geel-rooi vlamtonge praat in harmonie met die geklik-klak van babbelende Boesmantonge Die vrouens sing en dans in die agtergrond om hulle eie vuurtjie.
Hier in die Kalahariwoestyn is dit ’n helder, maanverligte aand. Pieter kan nou beter verstaan wat die Bybel bedoel met die woorde in Genesis 1 vers 16: “En God het die twee groot ligte gemaak – die groter lig om die dag te regeer en die mindere lig om die nag te regeer – en die sterre. En God het hulle in die uitgestrektheid van die hemel aangestel om lig op die aarde te gee”.
Die volmaan gee soveel lig hier dat jy vêr voor jou kan uitsien. Nie soos daar in die stede met sy magdom liggies nie. Daar kyk die mense nie eers op na die maan of sterre nie. As hulle maar net weet wat hulle mis, redeneer Pieter by homself, terwyl sy oë skitter van bewondering oor hoe die hemel wat net-nou nog blou was, pêrelpienk verkleur het met sonsondergang en sagkens die fluweelkaros van die nag, met sy skitterende sterrejuwele aangetrek het.
Die aandwindjie ritsel soel en koel deur die krone van die ylgesaaide Kameeldoringbome terwyl die naggeluide soos ’n akapellakoor opgaan.
’n Reuse-ooruil hoe-hoe en ’n jakkals blaf-tjank hartroerend, terwyl ’n hïena agter die duine koggellag. Dan brul ’n maanhaar soos ’n wafferse sopraan, dat dit vir Pieter voel asof die sand onder sy voete bewe. Hy hoor hoe geitjies blaf terwyl hulle oor die duine draf en streepmuise benoud piep-piep terwyl hulle skuiling soek buite die sig van groot-oog uile.
Al hierdie pragtige Kalahari-naggeluide in harmonie. Dit klink vir Pieter kompleet soos ’n ‘Kalahari-simfonie-orkes’. Pieter staar weer met bewondering in sy oë na die hemelruim terwyl Buks Appelblaar begin praat.
“Jy sien myse groot vriend, dari aner Boese’mense ek het djou gister vertel, hille ook vertel hom diese storie Kaggen hy het hom gemaak diese maan. Diese storie hy loop so.” Buks Appelblaar bly ’n oomblik stil terwyl hy eers ’n kooltjie uit die vuur krap om sy pyp mee op te steek. Dan begin hy vir Pieter sy storie vertel:
“L-a-n-k sy tyd, toe onse Kalahariland nog jonk was, diese karos vani nag hy was banja swart, want daar was hom nie diese maan by diese karos vani nag, om hom diese lig te maak soos jy sien hom vanaand daarso.” Buks Appelblaar beduie na die volmaan wat geheimsinnig aan die naghemel hang, en gaan dan voort:
“Diese Boese’mense hy het by die baie groot donkor gesit by diese nag syse tyd. Net diese vuurtjie was homse lig by diese nag.
“Toe Kaggen, hy het jammer geword by dari Boese’mense wat hom so sukkol by diese karos van diese donkor. Dari Boese’mense hile vertel hom diese storie van diese Kaggen. Kaggen vat hom dieselkom
vet van diese eland en hy mak hom s-o-o ronde bol,” beduie en demonstreer Buks Appelaar met sy hande.
“Dan Kaggen hy vat dari bol en hy vryf hom tot hy es rond rond en blink-blink. Dan Kaggen hy sing en blaas so oor dari bol en gooi hom bo binnekant by diese karos vani nag,” demonstreer Buks vir Pieter.
Buks bly so rukkie stil. Dan kyk hy met groot oë vir Pieter terwyl hy met die een hand klap op die ander hand se rug om te beklemtoon wat hy besig is om te sê.
“Maar toe diese maan begin om te klein word, dari Boese’mense het hom banja bang gaword. Hille het gedenk diese maan hy gaan doodgaan. Toe hille het gasmeek by Kaggen.”
“Het jy dit gabreek? Diese maan dit lyk hom hy gaan dood,” hulle het by Kaggen gavra.
Pieter was eers uit die veld geslaan oor waarvan Buks Appelblaar dan nou praat. Inteendeel, om ’n ou Boesman-gesegde te gebruik … Pieter het gevoel dat hy tydens Buks Appelblaar se vertellings deur, kort-kort op sy hurke moes gaan sit sodat sy siel sy liggaam kan inhaal. Toe tref dit hom dat Buks Appelblaar verwys na die maansiklus waartydens die vollemaan verander van halfmaan tot sekelmaan.
“Kaggen het toe vir daari Boese’mense galeer om te mooi kyk, diese maan,” gaan Buks voort met sy vertelling, ”hy gaani dood nie. Diese maan word hom nuwe maan. Kaggen hy sê by daari Boese’mense sos diese lewe en diese dood hy loop soos diese sysesoene hier by onse Kalahariland, so es hom ok diese maan, sy kom en sy gaan. Maar sy kom elke tyd weer terug.”
“Toe Kaggen hy het hom diese lang wit veer van diese vollestrys gegooi by diese lug, toe dari vollestrys syse veer word diese klein maan en hy maak diese lig by diese nag.
“Kaggen hy het gasê diese maan sal hom dood gaan, maar hy sal hom weer terugkom hier by onse Kalahariland, net sos die eland, net soos onse Boese’mense. Diese maan hy gee hom diese lig en hy praat saamet diese tyd ok.”
———————–OOO00OOO——————-
©Pieter Mostert




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed