Heerser van die Woud
‘Ek moet met ‘n mens praat,’ dring hy aan.
Ek loer vir die elf wat by die hek van die kasteel staan, nie seker of ek reg sien nie. Elfies kom nooit na mense plekke toe nie. Meesal omdat hulle verkies dat ons van hulle s’n wegbly.
Net stilte ontmoet hom. Al die wagte bly versteek soos hulle beveel is om te doen.
Ek kan musiek uit die diepste deel van die woud hoor. Dit roep my; kalmeer my.
Nee! Ek skud my kop. Ek weet van beter as om na elfie liedjies te luister.
Deurdringende oë staar na my. Die elf. Ek was nie so versigtig soos ek gedink het nie.
‘Ons het jou hulp nodig,’ sê hy en kyk reg na my.
Ek sluk. Stories van jong vrouens wat ontvoer word deur die elfies word in fluisterstemme laataand bespreek. Om eerlik te wees, ek was nog nooit so bang soos die ander nie.
My bloed sing ‘n lied wat ek nog nooit gehoor het nie. Ek dans vinnig by die trappe af en by die hek uit.
Ek kan deur toorkrag eerder as swaarde beheer word, dink ek soos ek die elf die woud in volg.
‘Hoekom het julle my nodig?’ vra ek soos die musiek my omvou hoe verder ons in die toorwoud inloop.
Hy glimlag boos.
Vir die eerste keer klink die musiek nie aanloklik nie.
‘Net die heerser van die woud weet dit,’ antwoord hy eindelik soos hy my oor die ongesiene paadjies na die donker hart van die woud lei.
Meer nuuskierig as bang, volg ek hom terwyl blou dwaalligte om ons dans teen die verhoogde tempo van die musiek van die nag.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.