Que Vadis
QUE VADIS
Armandt was ‘n dood normale, blinkoog seunskindmens wat gehou het van dood normale seunsgoeters doen. Hy het karretjies gespeel, buitekant rond gekerjakker en kattekwaad aangevang. Maar van kleins af het daar ‘n Damocles-swaard oor klein Armand se kop gehang. Hy het glad nie belanggestel in sport nie, veral rugby was vir hom ‘n sinlose gedoente. ‘n Skaakbord het vir hom baie meer sin gemaak as – ‘vat hom Dawie.’
Ja, Bokkie my babie; life is a bitch, nê – en met die dienste van daai wêreldberoemde regsfirma: Murphy’s Law; waarom sou sy dan nou ook nie wees nie?
Want… Sien, klein Armandt se pa was nie net ‘n rugby fanatikus nie, hy was ook die een of ander hogere kokkedoor by die destydse Tranvaalse Rugby Voetbal-Unie. Elke liewe los oomblik (of ene wat losgemaak kon word), was hy langs die rugbyveld. Of in ‘n rugbyvergadering. En daarom kon Murphy’s Law reeds met sy seun se heel eerste asemteug, ‘n inskrywing maak in klein Armandt se loopbaanverslag: Sy seun GAAN Nasionaal rugby speel. Of ten minste (die heel-heel minste!) uitdraf vir ‘n gerespekteerde Provinsiale span! Amen.
Sela….. En, Here, hier sit hy met ‘n donnerse poefter wat blou moord skreeu as hy geduik word op die rugbyveld. ‘n Nerf-af knie, EN hy gaan aan of sy been geamputeer word! As dit só moet aangaan, gaan hy die bespotting van die ganse Rugby-Unie wees. Die verdomde kind is besig om sy naam dwarsdeur die modder te sleep!! Kon hy nie meer soos sy twee nefies gewees het nie – sterk, jong seuns wat uitblink in sport; manne, nie moffies nie….. Maar hy SAL van hom ‘n man maak. As hy dan nie wil rugby speel nie; goed! Oor sy dooie liggaam maak hy ‘n moffie groot.
Armandt het die karate klasse gehaat, met ‘n passie! Oefen-dae het hy al vroegmiddag ‘n skeet ontwikkel; en hoe nader ry-tyd gekom het, hoe ‘sieker’ het hy geword. Naderhand snot en trane gehuil. Nog later gesmeek. Maar… Maar, sy hartverskeurende pleidooi, het op dooie ore geval – daai nancy-boy sal wragtig nie sy sin kry nie!! As hy dan gebreek moes word om van hom ‘n ware man te maak, dan is dit nou maar so…… Toe.
Toe, eendag; toe breek daai dun haartjie wat Damocles se swaard bo-oor Armandt se kop laat skoppelmaaiswaai het. Net hy het dit geweet. En wie ookal hy, met die verloop van uurglas-sand se val, deur die rou blindings van sy hart wou laat kyk.
Ek het Armandt bitter min gesien. Dis….. Ek weet nie, ‘n mens het mos maar die gewoonte, om verby mekaar asem te haal. Die geveg met jou eie demone, jou harts-voorblad te maak. Ek was daai tyd ‘n gevange in elcheappo se gatsak; maar dis nie ‘n verskoning nie…..
Om die waarheid te bieg – ek het vergeet van daai seunskindmens met sy blink oë; totdat my moederlief teruggekom het van haar jaarlikse kuier, by haar oudste. Sal altyd haar skok-hartseer onthou: “Armandt…. is gay!!”
Ek kon niks sê nie, my woorde het soos ‘n bang sissie, weggehol.
Blykbaar het Armandt die een naweek daar gekuier. Om die een of ander rede, het hy in my ouer broer die pa gesien, wat hy nooit gehad het nie. Hoe ookal – met die klomp dorp toe, besluit Maddie om vir Ouma, modeparade te hou. Daar kom sy die sitkamer in ge-“catwalk” met ‘n bloes vol frilletjies, bling en, helemal té koketterig vir ‘n laerskool dogtertjie, of enige vrou met goeie sedes!
Maar voor Ouma tot verhaal kon kom, of die Leviete voorlees, is Maddie sitkamer uit – net om weer te terug te keer met haar arms propvol vroueklere. Armandt se klere!
En so… Stukkie vir bietjie, het die waarheid, soos ‘n bizarre skaakspel, ontvou. Ja, Armandt was gay. Ja, hy het ‘n kêrel gehad. Maar nie een van sy verhoudings het baie lank gehou nie. Dit was asof…. Asof hy bang was om verwerp te word – dit het minder seergemaak om weg te stap, as om gevra te word om jou tasse te pak….. Skaak.
Skaakmat.
Sy pa het sy seunskindwees gyselaar gehou, sy mans-word laat selfmoord pleeg.
En in sexy broekies, en uittartende vroueklere, het hy ‘n wederopstanding gekry. Dit het vir hom ‘n vangnet geword – ‘n nuwe identiteit; wat nie rugby hoef te speel nie.
Enne terwyl ek hier sit, en skribbel, joh; daar flenter soveel voeldinge dwarsdeur my vrouwees… Skielik onthou ek; elke keer wat ek hom gesien het, het hy al hoe minder seunsmaats gehad. Al hoe minder seunskindgoeters gedoen. Dis of hy veiliger gevoel het tussen meisies. Asof dit die anker van sy menswees was. Of geword het, wie sal rêrig weet?! Elke keer het sy oë minder geblink.
Uhm – jy weet, Bokkie my babie; of homoseksuele mense so gebore word, of so gemaak word, is ‘n gesels vir ‘n eendag se ander dag; maar – en stenig my maar – ek glo dat baie van ons jeug se verkeerde besluite, se…. se roekelose afdraaipaaie voor ons deur gesmyt kan word. Dis ons; die onbetrokke kinders van God, wat hulle uitverkoop aan elcheappo (dis hoe ek die duiwel noem) en ‘n apatiese Establishment.
Dis ons wat die skeidslyne tussen vroue en mans so blatant uitvee. Manwees; vrouwees; lê begrawe onder die pikswart as, van fyn, verkanste humanisme. Subtiele, oordrewe regte… Pa werk gou sussie se knoop aan, voor hy gaan ballet, en ma diens gou die buurman se 4×4, voor haar rugby-oefening.
Alle mans word gebrandmerk as sleg, en met net seks op die brein… dis ‘n lot kinderkrans bôllie! En al wat ʼn vrou is, is feministies, en net daarop uit om mans se plek in die samelewing in te neem – rêrig? Ek is ‘n vrou, ek is uniek, EN ek hoef nie rugby te speel, of te boks, om te bewys ek is beter as ‘n man nie; want ek wil nie wees nie. Ek is blêrrie trots op my vrouweesgemaak!
Per dalks moet ek nou liewers tula, ander skryf ek my netnou helemal van hier blad afskryf….. Maar ja, Bokkie my babie – ‘Gee, gee, gee, jou sente, jou drome; jou toekoms vol gate, gee jou hart vir….’….
Huh-uh, Kerkorrel; nie vir Hillbrow nie – gee dit sommer vir die hele Suid-Afrika.
Que Vadis, my volk…. My hart is snot en trane aan die tjank.
{Armandt, my nefie met die wye glimlag; hoop jou oë blink weer. Waar ookal jy is}
Kyk mooi na jouself, liewe Bokkie my babie; en mag die vingermerke van die lewe vandag saggies lê teen die handbreedtes van jou wees.
© Liza Daniells
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.