kromdraai se omdraai
Jong onderwysers is ook maar net mense. So het ek uitgevind in die jare sestig toe ek moes gaan skoolhou in die destydse Oos Transvaal. Eers een kwartaal op Leslie waar daar net een hotel en een laerskool was. Verder was daar so byna veertig woonhuise en ‘n Ko-operasie-winkel. Daar naby was daar Eendracht, nog ‘n dorpie met al die kerke en nog inwoners.
Die hoëveld se “destydse” skoon lug was vars en gesond. Daar was reeds ‘n klompie steenkool myne, maar verder na Witbank se kant toe. Byna geen teerpaaie, behalwe die hoofroete na Nelspruit het bestaan. Baie vriendelike boere gemeenskappe en ons twee jong manne het dikwels naby Delmas by oom Daan Nolte se plaas gaan suikermielies eet – veral wanneer ons kos skraal was waar ons geloseer het.
Dit was in die dae van amateur rugby, en ons twee, Willempie en ekke het vir Leslie se Senior Reserwe-span – eerste span, daar was net een span, met oom Apie Pretorius as afrigter-speler, uitgedraf. As een van die vyftien spelers nie kon speel het Oom Apie skrumskakel gespeel vir ons. ‘n Regte derduiwel was hy op die veld, maar reeds vyftig jaar oud!
So moes ek en Willempie een Saterdag op een van die kleiner myn gehuggies gaan speel en het eers teen skemer aand kon terug ry huistoe. Willempie se beurt gewees om te ry, en was ons fluks oppad terug in sy Volkswagen op ‘n baie deurgeryde sinkplaatpad. Skemeraand is nie ‘n goeie tyd om op die stofpaaie te ry nie, veral as daar nog heelwat verkeer saam en voor jou is nie.
Met ‘n stewige spoed van sestig myl per uur (ja dit was voor Daan Desimaal se tyd!) jaag ons in die stofwolke huistoe. Ons moes nog die meisies gaan ontmoet vir ‘n aandjie saam. Toe ek weer sien kom daar ‘n chefron-teken van voor aangejaag, en besef ek ons is besig om in ‘n t-aansluiting vas te jaag. Ek gil, en Willempie slaan oor na griekse woorde en lae ratte, en ons sien die walle kom! Ten einde raad gooi Willempie die Volksie in eerste rat en swaai die stuurwiel neëntig grade om! Soos in ‘n “speel-weer-teen-stadige-spoed” begin die Volksie tol! Na die derde tolbeweging gaan neem hy sy plek heel rustig teen die verste wal in. Daar was nie tyd om te dink oor seerkry nie, maar die stof het reeds gesak voor ons teen heelwat laer rewolusies verder kon ry. Daar het ek die waarde geleer van die Volksie se enjin in sy gatsak!
Natuurlik was ons beskermengels in hoogste rat saam met ons!
©Teárlach
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.