Jongste aktiwiteit:

‘n Perfekte dag

 

(1991 woorde)

n Perfekte dag

Die getik-tik-tik van sy pen het my woorde vervaard na die eerste van my drie keuses laat gryp.

“Besluiteloos …, Ouboet?” het Daleen my oudergewoonte so onderlangs geterg. Ek kom seker vir haar besluiteloos voor en ek wou-wou myself vir haar vererg. Sy het my te goed geken en ek kon die duiweltjies in haar oë sien dans. Sy het geweet dat dit my net lánk neem om die heel beste opsie te kies.

“Daleen, ek wil jou opinie vra …,” Ek het met my kop na die kelner geknik toe hy ons drankies bring.

“Oor die lugballon óf die dak van die hoogste gebou in Suid-Afrika?”

“Ag kom nou, Sus! Hierdie is ernstige sake. Nee wat, dis al so ‘n … cliché en ek het gewonder … jy is mos goed in jou werk; en jy hét ‘n spysenieringsonderneming. Wat dink jy van … ‘n romantiese piekniek? Ek wil hoor of jy nie Woensdagoggend vir my en Jolandi ‘n gourmet-piekniek wil pak nie. Jy weet …, een van daardie vyfstêr piekniekmandjies van jou. Asseblief Daleen?” het ek uiteindelik die bul by die horings gepak.

Ek kon sien hoe sy met die gedagte in haar kop rondspeel en daarna het sy die ene vuur en vlam gesê: “Dit gaan jou kós, ou Arnoldus,” en toe gemaak vermakerig, “en jy sal dit in styl moet doen, Boeta. Tafeltjie, wit tafeldoek, kristalglase en die lot.”

Sy het ‘n paar watertandgeregte opgenoem en voorgestel dat ek Jolandi se ring in ‘n kolwyntjie-kom druk nét voor sy dit vanoggend versier.

“Twee sjokolade kolwyntjies en ‘n maraschino kersie met ‘n steeltjie op dáárdie een,” het sy geknipoog en gesê: “Dit het jou ook maar lank geneem om tot aksie oor te gaan. Hoe lank loop jy al met die ring rond?”

“Ek wou die béste plan maak, vir die béste en enigste vrou met wie ek die res van my lewe wil deurbring. Dit moet ‘n perfékte dag wees.”

“Jy beter versigtig werk met daardie mandjie. Hou hom mooi regop, anders bederf jy al my pogings,” het Daleen vanoggend gemaan.

Jolandi se ouers is albei advokate en sy is net die beste gewoond. Dit het lank geneem voordat sy my raakgesien het. Ek dink by myself dat ek darem self nie té sleg doen nie. As eienaar van my eie groep loodgieterdienste gaan dit voor die wind, ten spyte van die swak ekonomie. Anders as verwag, was Jolandi plat op die aarde met ‘n sonnige geaardheid. Sy is ‘n bondel vreugde wat enige probleem as ‘n geleentheid beleef.

Ek het gister reeds die tuine kom besoek om die beste afgeleë plekkie te vind waar die tafeltjie se pote eweredig kan staan. Dit moes ’n sonnige kolletjie met ‘n titseltjie koelte wees. In die middel van die week, in die winter, was daar feitlik geen mense nie. Ek het daaraan gedink dat ons ná die piekniek na al die biodivêrse plantuitstallings kan gaan kyk.

~ 0 ~

Vanoggend is die lug helderblou. Ek voel sommer positief en die omgewing skitter ekstra helder en sonnig. Dit is ‘n tipiese Hoëveldse wintersoggend. Ek is tog effens gespanne, al het alles tot dusver goed verloop. Die tafel kon net sowel in ‘n deftige restaurant gestaan het, maar hierdie omgewing is net sóveel meer romanties. Die piekniekmandjie staan in die koelte, hier naby my stoel. Tortelduiwe koer en kleur die atmosfeer met rustigheid. Ek glimlag. Ek voel skoon poëties, dink ek geamuseerd. Wag, val dit my by, laat ek net gou loer of daar nie ‘n trol in die mandjie geklim het nie. Alles lyk steeds watertand en perfek … Ag nee! krises! Die maraschino kersie het afgeval en lê los in die bakkie. Ek ondersoek die kolwyntjies deeglik van naderby en sien gelukkig ‘n effense merkie in die versiersuiker. Ek sement die kersie weer stewig vas. Alles is onder beheer.

Jolandi werk nie op Woensdae nie en ék is my eie baas. Ek sien haar al van veraf aankom. Die effense swaai van haar heupe laat die donkerbruin hare, puntjies opgekrul, wip-wip op haar skouers en haar rompie se soom dans vrolik al om haar kuite. Ek loop haar met ‘n maag vol fladderende vlinders tegemoet. Nóg ‘n cliché, dink ek by myself, maar dit is hoe dit werklik voel.

“Ek sou graag vonkelwyn wou skink,” sê ek nadat Jolandi eers behoorlik oor my romantiese piekniek en tafeltjie ge-oe en ge-aa het, “maar geen alkohol word toegelaat nie.” Ek skink die vonkel vrugtesap in Daleen se kristalglase.

“Ek het gesien daar is ‘n lang lys van verbode dinge by die ingang. Geen vuurwapens, moenie die diere voer nie …, is hier diere?” vra sy en kyk rond.

“Die gronde is digby die koppies en ek vermoed diere kom soms hier kuier. Maar geen roofdiere nie!” stel ek haar gerus toe sy benoud begin rondloer.

“Vandag bederf jy my sowaar behoorlik, Arnold! Dankie Liefie, dit voel skoon of ek verjaar.”

Dit lyk of alles voor die wind gaan. Ons smul aan Daleen se keurige geregte en ek klop myself op die skouer. Goeie idee Arnold, goeie idee.

“Ek haal my hoed af vir leerkragte wat die skool kurrikulum so passievol toepas,” wys Jolandi na iets hier agter my rug.

Nee! Ag nee, dis ‘n nagmerrie!

Vier onderwysers en ‘n horde leerders is besig om die gronde binne te stroom. Die onderwysers skree en swaai met hulle arms om die opgewonde kinders georganiseer te kry.

“Toemaar Arnold, die gronde is groot. Ons sal skaars van hulle bewus wees. Ek dink dit is wonderlik as die leerders biodiversiteit op so ’n praktiese wyse kan beleef.”

Na ‘n rukkie begin ek haar glo. Die duiwe koer weer rustig voort en ons eet en gesels gemaklik, soos altyd. Dit is een van die redes waarom Jolandi so diep in my hart ingekruip het. Die chemie tussen ons is nét reg, ons deel ‘n handvol belangstellings en ons voel veilig bymekaar, tik ek nog redes hier onder die tafeltjie op my vingers af. Die een na die ander bakkie vol verrassings word uitgepak en ons eet vanaf die fynste porselein.

Na ‘n ruskansie kondig ek aan: “Tyd vir die nagereg,” en my maag maak so ‘n snaakse knoop. Ek pak twee skoon porselein bordjies uit en sit ‘n fyn papier-doilie op elkeen. Die kolwyntjie met die marachino kersie op, sit ek versigtig voor Jolandi neer.

“Hierdie een is spesiaal net vir jóú, Jolandi, want jy is die kersie op my kolwyntjie, die kersie op my versiersuiker, die kersie op die res van my lewe …,”  begin ek die aanvoorwerk doen. Terselfdertyd land iets warm en aangenaam op my kop … totdat ek besef wat gebeur het … ‘n plof, gevolg deur warm vloeistof wat tussen my hare afloop. Ek kyk dadelik boontoe, tussen die takke in.

“Ongeskikte tortelduif! Die vervlakste voël het nou net op my kop getjorts!” Ek voel hoe afgryse my vul en ek tot in my kleintoontjies ril.

Jolandi spring op, gryp haar groot leerhandsak en grawe daarin.

“Ek is jammer, Nollie! Kom staan hier in die son. Ek sal dit gou vir jou skoonmaak. Gelukkig dra ek altyd hierdie seepspuitjie en ‘n lappie saam. Ek het vanoggend sommer ‘n ekstra waterbottel ook ingegooi.”

‘n Vrou se handsak was nog altyd vir my ‘n misterieuse besigheid. Ek is seker dat ‘n mens enige ding daarin sal vind, maar vandag is ek innig dankbaar daaroor. Sy spuit ook sommer ons albei se hande  met ‘n waterlose ontsmettingsmiddel.

“Nou vir daardie heerlike … waar is die kolwyntjies dan?” vra ek, dronkgeslaan.

Jolandi hou haar hand voor haar mond om die lag te keer. Ek volg haar oë. Bo ons tafel sit ‘n apie wat probeer om die onderste papiertjie met sy tande af te trek. Ek sien dat hy albei kolwyntjies gegryp het, maar die een het geval toe hy in die boom gespring het. Onder teen die boomstam lê ‘n marachino kersie. Ek storm op die ander kolwyntjie af en begin dit haastig uitmekaar skeur.

“Nollie … ! Wat … ”

Ek rol twee nartjies oor die gras, so entjie verby die boom. “Apie …, hiérso apie,” hou ek my stem beleefd. “Lekker gesonde nartjies vir jou,” maar sy swart kraalogies beweeg net blitsvinnig tussen my, die nartjies en die kolwyntjie. Hy eet morsig aan die kolwyntjie en ek wonder wanneer hy op die ring gaan afkom. Die ring was beslis nie in die ander kolwyntjie nie.

“Ontspan Arnold. Dit is net ‘n kolwyntjie. Gun die aap sy ou plesiertjie,” giggel Jolandi.

‘n Dekselse dúúr plesiertjie, as sy maar net kon raai. Op daardie oomblik hoor ek die opgewonde stemme van die leerders. Die groep is besig om verby die digte struike in ons rigting te beweeg.

Monkey! Monkey!” klink dit tussen die geroesemoes kinderstemme op.

Don’t feed the monkey! Dón’t … feed the monkey!” skree die onderwysers vir die groep wat loop en eet. Hulle kyk my beskuldigend aan.

Ek sweer die aap gaan nou enige tyd die hasepad kies en ek hardloop desperaat in die rigting van die kinders.

“Skoert! Skoert!” skree ek buite beheer en sonder ophou terwyl ek die groep met my arms in ‘n ander rigting probeer inwaai. Verskrik kom almal tot stilstand. Daar heers ‘n doodse stilte. Dit duur ‘n paar sekondes.

Tst … tst … tst …” word die voorafgestelde sproeiers wakker en spuit dun strale water in sierlike boë. Die groep leerders kom tot lewe en pandemonium breek los. Met opgewonde gille begin hulle jillend lag en hardloop om die spuitende water mis te hardloop.

“Arnold! Nollie!” hoor ek uiteindelik Jolandi se hees stemmetjie toe ek handdoek ingooi en omdraai. Met hangskouers stap ek terug na ons tafel toe. Dit wys jou nou net, dink ek, selfs met die beste beplanning kan die lewe skeef uitdraai.

“Wat is fout, Arnold? Voel jy siek of iets? Hoekom gaan jy so tekere?” vra Jolandi ontsteld en duidelik uit die veld geslaan.

“Die sproeiers spuit ons tafellap nat. Kom ons pak op en sit onder die boom,” stel ek voor.

“Dit is so mooi hier. Ek het lanklaas soveel pret gehad,” sê Jolandi en begin lag. Sy lag so lekker dat sy later haar trane met ‘n snesie moet afvee. Ek begin ook maar lag, maar ek lag soos ‘n boer met tandpyn.

Skielik, sonder om te twyfel, weet ek wat ek moet doen. Ons sit met ons rûe teen die boomstam.

“Jolandi, ek móét jou ‘n storie vertel. Dit handel oor ‘n aap, ‘n kolwyntjie en die eerste keer in my lewe toe ek dadelik geweet het wat ek wou hê.” Ek lag saggies. “Jy weet nou al dat dit my tien minute kan neem om te besluit watter sjampoe ek wil koop en dat ek ‘n bestelling in ‘n restaurant meer kere kan verander as wat my Jack Russel se hare aan my broek vaskleef! Dit het my hierdie winter ‘n maand geneem om tussen ‘n elektriese óf ‘n gasverwarmer te kies. Die ding is, vir die eerste keer het ek dadelik geweet watter ring perfek by jou sal pas en hóé ek dit vir jou wou gee. Die belangrikste deel van die storie is egter dat ek dadelik geweet het dat jý die vrou is saam met wie ek eendag wil oud word.

“Ek wou hê dit moes ‘n perfekte dag wees, maar ‘n soettand aap het my ‘n lelike streep getrek. Iewers in die koppies dra ‘n aap nou ‘n goue ring.”

Jolandi kyk diep in my oë en gee my daardie glimlag van haar wat altyd my bene lam maak.

“Arnold, dit was ‘n heerlike dag, ‘n wonderlike dag, dankie my lief!”

Terwyl ons opstaan, sien ons beide ‘n ring tussen die gras lê.

 

“Haai, Arnold! Jy het nie eens vertel hoe dit toe gegaan het nie,” roep-vra Daleen my agterna.

Ek sluit my motor oop en skree oor my skouer: “Dit was ‘n pérfekte dag!”

© Rika Gerryts

 

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed