Op gister se spoor
Op gister se spoor
lente kruik vol bloeisel-botsels
laggend koggel Pierneef-wilger se immergroen
verstrengelde vingers speel in saffier-blou maanlig deur
gryse haar-kronkel-paaie heen
jou glimlag in stilswye
(effens)
neffens
die legkaart van my hart
moeg geswoegde oë sing die lewenslied
van lief en leed met haar warm kleed
moed se dapper-wyn: oud-grashalm-goud
ek en jy op ons lappies-mat-kombers:
siele knus geweef
as woorde van Ingrid Jonker rondsweef
jy het vir my die maan gaan pluk
in winternag se kou
en ek, ek het jou styf vasgehou
vergange is die piekniekdae
tyd kriek haar been
die Winterson brom in repliek
kronkel-se-pad
lei ons wéér hierheen
amper een keer om die son
© Pierce van Tonder, 2025
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Junie 2025 – PIEKNIEK projek