Jongste aktiwiteit:

Oupa se groot nood Goud 638 Woorde

Ma wil opsluit Welkom toe. Haar derde agterkleinkind het onverwags sy verskyning gemaak en sy moet gaan kennis maak.
Haastig word daar ‘n mandjie met biltong, kaasbroodjies, vye en dies meer gepak. Die oumense glo mos dat daar langs die pad gekuier moet word.
Alhoewel die rit Welkom toe slegs drie ure duur, word dit gewoonlik ‘n dag uitstappie omdat die ouer mense kort-kort
langs die pad wil stop vir piekniek.
Dan word die mandjie eetgoed sorgvuldig uitgepak. So pak ons dan die dag lange tog na Welkom toe aan.

“Skuif op man” raas ouma vanaf die voorste sitplek. Oupa skuifel slakkepas op sy leerplooi boude nog ‘n entjie nader aan die motordeur.
Ek en die mandjie eetgoed legkaart in langs die ander deur.
Oupa was ‘n bok in sy jare, Ouma getrou toe hy 40 en sy 20 jaar oud was. Nou is hy al goed gesilwer en kromrug, terwyl Ouma nog mampoerskop in haar lyf het.
Toe die ou Ford stasiewa sy neus oor die Mooirivier steek, roep ouma halt.  Vinnig word daar na ‘n afdraaiplek gesoek. Die bordjie hang windskeef aan ‘n geroeste
ketting maar die boom en stoeltjies is onmiskenbaar die teken dat daar ‘n rusplek vorentoe is.

Daar staan alreeds ‘n motor by die piekniek area maar gelukkig is daar drie stelle tafeltjies met stoele ‘n entjie uitmekaar onder die groot ou Karee geanker.
Twee woelwaters hardloop jillend al in die rondte om die tafeltjies en die ma beduie woes dat hulle moet stilsit. Die Ford proes en ruk tot stilstand
net toe een van die mannetjies in die stof neerplons, gillend opspring en huilend na die motor wys. Sy ma kyk wild in ons rigting en stof die mannetjie
hardhandig af.  Dan hardloop en gil hulle maar weer verder.

Ouma gooi ‘n lappie oor die tafeltjie en plof sagte kussings op die stoele.  Dan word die mandjie met groot sorgvuldigheid uitgepak.
Daar verskyn ‘n klein handbesempie uit haar sak en die area om die stoele word eers mooi skoongevee voor die kosblikdeksels afgehaal word.
Intussen het Oupa besluit hy moet ‘n draai na die naaste groot boom aanpak. Die nattigheid trek al aan sy oë se binnehoeke.
Gelukkig is daar redelike beskutting rondom die eetplek en hoef oupa nie te ver weg te skuifel om die droogte langs die pad te gaan verlig nie.
Intussen skreeu en jil die mannetjies langsaan nog asof hulle hul eerste asemteug vandag eers gevind het. Die ma dreig en pleit teen die wind.

Ons ruk van die skrik toe Oupa gillend vanaf die langs gras agter die reuse boomstam uitroep.
Hendrik is eerste daar. Ouma, met die handbesem in haar hand, op sy hakke.Ek staan soos ‘n soutpilaar geanker teen die tafel.
Dan veskyn die driestuks van agter die boom.  Ouma se handbesem klap teen Oupa se agterstewe terwyl Hendrik verward poog om die wit Long Johns
onder Oupa se broek bo te hou. Dit lyk asof die driestuks ‘n nuwe rieldans oefen terwyl oupa se gille deur die lug klief. Skielik is dit grafstil.
Die twee woelwaters pieringoog in Hendrik en Ouma se rigting. Dan vlieg hulle om en gaan sit kiertsregop langs hulle ma.

“Wat het gebeur?” fluister ek in Hendrik se rigting. Oupa smeer vye op sy broodjie, terwyl Ouma stomende koffie in die staalbekers gooi.

“Balbyters” Fluister Hendrik terug.  “Oupa het hulle nes gekies as water plek.” Ek giggel eers, dan borrel die lag diep uit my maag.
“Wel daai rooimiere het defnitief tot die mamma hier langs ons se redding gekom.”
Ek beduie onderlangs na die familie langs ons. Die twee karnallies sit doostil.  Hulle eet gehoorsaam hulle piekniekbroodjies terwyl mamma toekyk.
Oupa skuif sy ou leerplooi boude heen en weer oor die sagte kussing op die bankie. Ouma se handbesem lê gereed, net vir ingeval die miere Oupa dalk gevolg het.

©️ Amanda de Meillon

 

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed