Alles raak pap
Alles raak pap
Nooit in my wildste drome het ek gedink ek gaan so brutaal gekonfronteer word deur goed wat pap raak nie. Kort-kort kom daar nog iets by. Die aanslag is meedoënloos. Dit hou net nie op nie en hoe ouer ek word, hoe erger raak dit. Dis ’n daaglikse stryd wat my uitmergel.
Toe ek nog mooi en jonk was, het hierdie dinge my geensins bekommer nie. Ek het nooit twee gedagtes daaraan gegee nie. Die lewe was ongekompliseerd en maklik en wel, niks was pap nie. Ek sou ook nooit kon raai dat die pappery my soos ’n dief in die nag sou bekruip nie. Die oorname was subtiel, dog effektief.
Dit het begin met my oudste dogter se geboorte in 1996. Dis toe dat ek geweet het dinge gaan nooit weer wees soos dit was nie. Die eerste teken dat hier ’n pap storie op pad is, was toe my Ericsson selfoon in my lewe gekom het. ’n Baksteen met ‘n lugdraad. Dié het ek as geskenk gekry met Retseh se geboorte. Een van my leerlinge, vir wie ek skool gehou het, se pa’s het dit vir my as geskenk gegee. Hy het eendag langs die netbalbaan belowe dat as Retseh op sy verjaarsdag gebore word, gee hy vir my ’n selfoon. Hy kon net so wel vir my ‘n ruimteskip belowe het. Basies niemand het daardie tyd so iets gehad nie. Wel, in elk geval nie in Okahandja nie. Ek het nie ‘n enkele persoon geken wat een gehad het nie.
Retseh ís toe op sy verjaarsdag gebore, en drie dae later is my selfoon by ons huis se deur afgelewer. Ek was verskriklik in my noppies, hoewel ek glad nie geweet het wat ek daarmee moes doen nie. Wat help dit jy het ’n selfoon, maar niemand anders wat jy ken het een nie? Sms’e was nog nie eers ’n ding nie. Jy kon letterlik net bel, en daarvoor het ons ’n landlyn gehad, en dit was dúúr om die selfoon te gebruik. Ou Eric het baie lank gevat om pap te raak. Iets soos twee weke, want dit was nou nie asof ek heeldag met hom doenig was nie. Ek moes ook die battery uithaal en dit in ’n houertjie inskuif om te laai. Solank as wat die battery gelaai het, het ek nie ’n selfoon gehad nie. Die laaiery het ook amper ’n dag lank geduur.
Dis net daar wat die stryd begin het.
Soos die jare aangestap het, het die pap goed meer geraak. Vandag is dit ’n voltydse werk om alles gelaai te kry en gelaai te hou. Wie sou my in 1990 geglo het as ek vertel het dat jou telefoon, horlosie en tandeborsel gaan pap raak? Die selfone, iPads, oorfone, luidsprekers, rekenaars, die waaiertjie langs die rekenaar, die skaal, die nood bedliggie, Pa se flitse, die “power banks”, die kamera… Tot warmwatersakke kom deesdae met kabels!
Nou die ding wat my hart pap maak, is dat hoe meer goed “koordloos” raak, hoe meer koorde kom met hulle saam. En jy kan nie die een by die ander een se gat indruk nie, want dit pas nie. Party is rond, ander is plat. Dan is daar groot plattes en klein plattetjies. Dun rondes en dik rondes. Ons het permanente laaistasies – in die sitkamer, die eetkamer, die kombuis en in my werkskamer en steeds is daar nie genoeg gate vir alles nie.
Kabels is besig om my lewe oor te neem. Oral hang en lê dit rond. Agter my werkskamer se deur? Kabels! My kombuiskaste se laaie? Kabels! Die lessenaar se laaie? Kabels! Wanneer ons iewers heen gaan het ek ‘n hele ekstra sak net daarvoor nodig. Waarom kan daar nie ‘n universele kabel wees wat op alles pas nie? Iets soos “one charger fits all”?
En asof dit nie genoeg van ’n gesukkel is nie, kan ons huis ook pap raak. Ons is volledig afhanklik van sonkrag, en soms gebeur dit dat die batterye, wat ons van krag moet voorsien, nie genoeg gelaai het om alles te laai wat gelaai moet word nie. Dan is alles donker én pap!
Ek mis tog die goeie ou dae toe my Walkman se pap batterye my grootste, en enigste, bekommernis was oor goed wat pap raak.
Maar na ’n bietjie introspeksie moet ek nou eerlik wees: Ek wens eintlik, hier diep binne-in, dat ek ook met ’n laaier gekom het, want dan was daar ’n oplossing vir die ander pap goed wat my lewe so kom versuur het, maar wat ek nou nie op die naam kan noem nie.
© Hester Steenkamp, 2025
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP projek