Jongste aktiwiteit:

Leë arms met vol hart.

Ek was skaars agtien toe ek Kobus ontmoet het – op daardie groot, vakansieboot waar almal te veel vryheid gehad het. My ma sou my nek omdraai as sy geweet het ek drink. By ons huis was drank die duiwel homself, en ek het dit gevrees… tot die eerste pienk mengeldrankie my soos ’n warm kombers toegevou het.

“Drink, dit is net vrugtesap,” het Kobus gesê, sy donker oë vol lagduiweltjies. “Ek belowe.”

“Vrugtesap brand nie so nie,” het ek gehoes, maar ek het die glas gevat. Jong mense word mos maklik oortuig, veral deur iemand wat ruik na sonbrandolie.

Die aand het my weggevoer na ’n ander wêreld! Ek onthou lag, die blink liggies op die water, sy hand wat my rug vryf, die wêreld draai… en later, sy kajuitdeur wat toegaan met ’n klik wat ek eers weke later sou verstaan.

Ek het wakker geword met ’n blou strandhanddoek oor my bene en sy asem nog warm in my hare.

“Kobus?” het ek gefluister.

Stilte.

Paniek het soos ’n koue golf oor my gestort. Ek het my klere gegryp, vinnig my bloes oor my kop gegooi en uitgehardloop. “Tien teen een kuier hy êrens saam met sy pelle,” brom ek vir myself.

En dit was dit. Toe ons anker, het die wêreld ons van mekaar losgeskeur. Hom sien ek nooit weer —geen groet, geen teken— net ’n groot niks.

Sowat ses weke later, wit soos die badkamerteëls, kniel ek naar oor die toilet!

“Nee… nee. Dit kan nie!”

Maar dit kon.

En dit het.

Die kampus was groot, lawaaierig en vol jongmense wat hul vryheid geniet het. Ek het elke dag gevoel soos ’n skim met ’n geheim. My ma se stem het in my gedagtes weergalm: “Ons kies altyd lewe, Tiana.”

Maar watter lewe? Ek kam skaars my eie bed opmaak, wat nog te sê ’n baba grootmaak.

Die dag toe ek voor die maatskaplike werker sit, het my hande gebewe soos ’n riet, sy het stil ’n glas water op die tafel gesit en my hand liggies aangeraak.

“Jy hoef nie vandag al te besluit nie,” het sy sag gesê.

“Maar ek moet,” het ek gesnik. “Ek is alleen. My ouers… hulle sal nooit verstaan nie.”

Sy het ’n oomblik gewag. “Wat het jy nodig, Tiana?”

“Dat my kind ’n kans kry… een wat ek nie nou kan gee nie.”

Die woorde het veraf geklink—stukkend!

Toe my baba gebore word, het ek haar vir ’n kort oomblik vasgehou. Haar wangetjie was sagter as enigiets wat ek al ooit gevoel het. Ek het my neus teen haar gedruk en daardie nuwe baba-geur ingeasem wat soos ’n gebed voel.

“Totsiens my liefie,” het ek gefluister. “Ek gaan jou liefhê, van ver af.”

Toe hulle haar gevat het, het my arms outomaties gelig, asof my lyf nie geweet het die besluit is klaar geneem nie. Die leë gevoel het my hart laat pyn, asof ’n deur stadig toegegaan het.

Buite het die wind die bome geroer, heel onbewus van my hart se splinterstukke. Mamma sou my herinner het dat God weet wat Hy doen. Dit voel soos ’n boek waarvan iemand die laaste bladsy uitgeskeur het.

Maar daar, in daardie pyn, het ek ook iets anders gevoel – ’n soort sekerheid. Ek het vir háár gekies—om haar te laat opgroei in ’n huis wat al stabiliteit gehad het.

En soms is liefde nie hou vas nie… maar laat los.

Dit was die moeilikste besluit van my lewe – en die eerste keer dat ek regtig grootgeword het.

©MarleneErasmus
28/11/2025




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed