Jongste aktiwiteit:

was jy ook al daar?

Vrede op aarde

Die wind het gaan lê. Son steek vir oulaas vlieswolke aan die brand dwarsoor die Manghetti.

Oujan – ‘n oorgehaalde skaduwee langsaan my – het iets gewaar. Hulle is hier! My bloed bruis onstuimig terwyl ek suutjies die patroon in die slot glip.

Stil skuif hy agter die kruisbessie uit. Ek hoef net ‘n fraks te beweeg. Weet presies waar die stof op die sagte vel gaan plof wanneer ek die laaste asem in my snellervinger inblaas…

Res van sy trop beweeg rustig alkant van ons die oopte in. Vet koei los ‘n onnutsige wind agter ‘n sekelbos.

Grasieus kantel die magtige nek die trofee my kant toe. Draai op kartelende draai. Ons kyk mekaar in die oë – slegs die koue stuk staal tussen ons. Groot ore kyk stip. Diep skeur in die linkerkantse een!

Hy lanseer homself stadig – statig – oor ‘n hoop kreupelhout wanneer ek die geweer laat sak.

Oujan, nog steeds soos ‘n verbrande hardekoolstomp agter die pol rooigras, arm vraend uitgestrek in die rigting van die laaste witkwas wat bonsend in die leegte verdwyn.

Ek maak die geweer veilig en slinger dit oor my skouer.

Adrenalien pomp herinneringe van stof en bloed en warm vleis deur my gesperde neusgate. Begin aanstryk kamp toe. Agter my maal die maer seningbene slof-slof slof-slof in my ou kortbroek. Slaan kort-kort oor op ‘n draffie.

Ek wil niks hoor van die fisanthaan wat kordaat op ‘n miershoop staan en jubel nie!

Kleinjan wag by die kampvuur, vol in vlam. Die twee Janne klik-klak sag vir mekaar. Voëltjies wat regmaak vir die nag.

Die maan sit hoog en groot en skeef en bleek. Koud. Geel vlamme lag en tart my dansend in rooi. Blaas blou rook in my oë.

Ver weg klief ‘n geweerskoot die nag. 30-06. Man wat kan. Ek vòèl die koeël solied tref. Die veld respekteer ‘n minuut van stilte. “Klei’baas,” klipharde handjies vou saggies om die stomende blikbeker, “ons het banja vleis.”

In die rigting van die omaramba tjank ‘n jakkals.

Sy maat antwoord nie vanaand…

© Paul S Venter (2025)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed