ek het probeer (Goud)
ek het met my stukkende elmboë
by jou lessenaar kom staan
en vertel van die val by die netbal
die stof en bloed
en die kinders wat gelag het
dis nog niks, het jy gesê
toe ék so oud soos jy was
moes ons kaalvoet skool toe stap
ek het later probeer vertel
van die byname op my skooltas
en hoe ek pouses
in die badkamer gaan wegkruip het
dis nog niks, het jy gesê
julle kinders moet maar leer
om vir julself op te staan
ek het een aand
lank in die deur bly staan
en probeer sê
waarom ek nie weer
alleen saam met hom wou bly nie
maar jou verlede
het reeds die vertrek gevul
met groter swaarkry
wreder werklikhede
en dieper wonde
myne het klein geword
nog voor ek dit
vir jou kon vertel
daarna het ek my woorde
een vir een teruggesluk
en my seer
stilweg self gedra
nou vra jy
waarom ek niks gesê het nie
ek het
maar jy het
dis nog niks gesê
en jou eie storie
begin vertel
©MarleneErasmus
30/07/2026
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.