Jongste aktiwiteit:

Die Raad van die Sandbome besluit op ’n naam

Lank gelede, voordat daar paaie, heinings en dorpe was, was daar net duine. Die rooi sand het soos golwe tot teen die horison gerol. In daardie sand het die bome en plante soos ou wagters gestaan, elkeen met ’n stem en ’n wysheid van sy eie.

Een aand, toe die sekelmaan soos ‘n bleek kalbas oor die duine hang, het die Raad van die Sandbome vergader om op ’n naam vir hul gebied te besluit. Die wind was die voorsitter wat die vergadering gelei het.

Die Kameeldoringboom was die oudste. Hy het die eerste spreekbeurt gekry om te vertel wie hy is en wat hy doen. Sy wortels het diep in die aarde ingegaan, verby dors, verby droogte, tot waar water soos ou herinnering lê. Sy skadu het onder sy uitgestrekte arms oor die sand gelê soos ’n predikant wat die seën oor sy gemeente uitspreek. “Ek onthou alles,” het hy gesê, “selfs die reën wat niemand meer onthou nie. Die water waarna almal gesoek het, was daar, maar dit was brak. Laat hierdie plek waar ons almal woon Bitterwater genoem word, sodat niemand vergeet hoe die land sy mense geleer het om te volhard nie.”

Langs hom het die Witgatboom gestaan. Hy het nooit baie gepraat nie. Hy het net asemgehaal waar ander sou opgee. “Ek bly net hier,” het hy altyd gesê, “al koordans die hittegolwe op die duine en dink dat hulle die baas is.” Onder sy takke het ’n trop springbokke gedurig kom rus en verskeie voëls het in die takke van sy kroon skuiling gevind.

Die Kareeboom het langs ’n droë rivierbedding gestaan. “Ek luister nog na water,” het hy gefluister. “Selfs wanneer die rivier stil is, onthou die sand hoe dit klink.” Sy takke het soos lang moeë arms oor die sand gehang.

’n Rankplant tussen die raadslede het nader geskuif. Dit was die Tsamma. Sy is rond en groen en lê tussen die duine asof sy die son self gebêre het. Die bome het haar met respek gegroet.

“Waarom glimlag jy altyd?” het die Karee gevra. Die Tsamma het saggies gelag. “Want waar almal droogte sien, bêre ek water.”

Die wind het haar blare laat bewe. “Ek leer die mense wat hier woon dat dit wat jy nodig het om te oorleef, versteek is waar niemand soek nie.”

Die ou Kameeldoringboom het sy takke laat kraak van nuuskierigheid. “Waar?” het hy gevra, “baie skatte leef onder die oppervlak.” “Op die sand tussen die duine,” het die Tsamma ingenome geantwoord.

Vervolgens het die Boesmangras vanuit die vergeelde graspolle begin praat. “Ons is klein en maklik om mis te kyk, maar hier waar ons woon takseer jy nie ’n grassie op sy grootte nie. Hoe klein ook al het ons ’n doel in die ekologiese sisteem. Ons wortels hou die duine vas.” “Ons is nie groot nie,” het die gras gesê, “maar sonder ons sal meneer die wind die sand wegdra.”

Die ander plante het beamend geritsel. Selfs die kleinste lewe het sy taak.

Die Gemsbokkomkommer se stem het toe van die duine af gekom. Sy geel vruggies het soos lanterns in die maanlig geskyn. “Ek gee kos waar min anders groei,” het hy gesê. “Meneer die voorsitter,” sê hy vir die wind, “hierdie land waarin ons woon oorleef omdat ons elkeen iets gee.”

‘n Uil het van die Kameeldoring af geroep. Die wind het gaan lê. Vir ‘n oomblik was alles stil.

Toe praat die Wildepruim. “Ek het geleer om iets van swaarkry te verstaan. My vrugte is nie altyd soet nie. Soms is dit suur soos verlange,” het sy gesê sy terwyl sy oor die duine tuur. “Maar selfs suur vrugte voed die reisiger.”

Die Olienhoutboom, wat nog die hele tyd gestaan en geluister het, het uiteindelik sy diep stem laat hoor. “Meneer die voorsitter, die wêreld dink krag beteken grootte,” maar kyk bietjie rondom julle.”
Hy wys met een van sy takke na die Tsamma. Dan na die gras en die Gemsbokkomkommer. “Hiér, leef ons omdat ons leer aanpas. Nie omdat ons die sterkste is nie.”

Die sekelmaan het al hoër en hoër die hemelruim opgeklim en die sterre het helder geskyn.
Bokant die hoë duine het die Melkweg soos ‘n skitterende rivier oor die hemel se spoelklippe gestroom.

Die nagwindjie het liggies deur die gras van die duineveld begin beweeg, deur die Kameeldoring gesing, deur die Witgat gefluister, oor die Tsamma se kop gestreel en deur die gras gedans.
Dit het geklink soos ’n koor sonder begeleiding.

“Menere,” het die wind met ’n koel stem gesê, “my gevolgtrekking nadat ek na julle almal se insette geluister het, is dat óns land, die land van groot dors is.” “Ons land is ook die land van groot hoop. Ons land se naam sal daarom voortaan ‘Bitterwater’ genoem word.”

Die plante en bome het almal tot die naam Bitterwater ingestem. Hulle het geweet dat alles wat die wind gesê het, waar is want elkeen van hulle was ’n bewys daarvan.

Die Kameeldoring wat diep wortel skiet.

Die Witgat wat te midde van swaarkry bly staan.

Die Karee wat geduldig wag.

Die Tsamma wat water bêre.

Die Gemsbokkomkommer wat voed.

Die Boesmangras wat die duine vashou.

Die Wildepruim wat gee wat sy het.

En so het die Raad van die Sandbome vir dagbreek gewag.

Vroeg die volgende oggend, toe die son rooi-oog sy verskyning bokant die duine gemaak en die horison pêrel pienk verkleur het, het die wind in sy hoedanigheid as voorsitter van die vergadering die besluit van die raad aan die sand oorgedra: “Ons land se naam sal voortaan Bitterwater wees. Bitterwater, waar ons woon, behoort nie aan dié wat die meeste het nie, maar aan dié wat leer om met min te oorleef. Bitterwater behoort aan hulle wat hoop bêre soos die Tsamma water bêre, en wat wortel skiet soos die Kameeldoringboom, selfs in die droogste grond.”

Sedertdien luister die duine nog. En wanneer die aandwind deur die bome trek, sê die mense dit is net die wind. Maar die ou inwoners van Bitterwater weet dat dit die Raad van die Sandbome is wat vergader.

Die bome van Bitterwater vergader elke nag en teen dagbreek dra die wind hul besluit oor aan die sand.
—————————————————-oooOooo—————————————————
©Pieter Mostert
[woordtelling = 1012]




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed