AL HARDLOOP JY HOE VER
AL HARDLOOP JY HOE VER
Ester sit op die rivierhuis se stoep en verkyk haar aan die ryk teksture van die rivier-bedding waar die Krokodilrivier weer gesak het na die verwoede storm. Vir twee dae het die stygende stroom, massas hiasinte meegesleur see toe, nou dryf net enkele klossies saam met die rustig vloeiende water. ’n Groot krokodil lê op ’n sandbank in die son en bak, seekoeie se snorkgeluid klink dan en wan op. Alles lyk so vreed-saam. Die storm in haar woed egter voort.
Die gelui van die klokkie ruk haar na die hede en sy haas haar na ouma Lien se kamer. “Hier’s ek, Ouma! Wat pla?”
Dis waar sy nou is, in Mpumalanga, versorger van ouma Lien, met Alts-heimer. Sy moes net eenvoudig uit Pretoria wegkom. Toe die Maartense die Woens-dag bel om te sê die pos is hare as sy dadelik kan begin, het sy die kans met albei hande aangegryp. Sy het by matrone gepleit om haar vier-en-twintig-uur kennis toe te staan.
Ouma Lien het nou permanete versorging nodig, veral terwyl hulle skielik op ’n bootreis weg is.
“Wanneer eet ons?” vra die ou dame wat ’n halfuur gelede ontbyt gehad het. “Wie is jy? Waar is Susan?”
“Ester, Ouma. Susan kom later,” antwoord ek geduldig. “Ons sal nou-nou eet, laat ons eers die hare mooi maak.” Hopelik vergeet sy van die etery.
“Daar’s hy, kyk hoe mooi lyk ouma nou. Kom ons gaan sit op die stoep, dis ’n windlose dag,” verseker sy vir ouma wat skrikkerig is vir die geringste luggie wat trek.
“Ag wat help dit,” kla ouma,” ek kan feitik niks meer sien nie en die dokter reken daar’s nie ’n meer ’n sterker bril nie.”
Sy trek met moeite ’n rok oor haar kop. Dis warm, maar ouma soek haar trui. Sy steek haar arms deur die moue van die trui wat Ester vir haar reghou, ruk dan terug en sê: “Ek wil nie dié ene aantrek nie, ek soek die witte in daai bruin tas daarbo. Haal hom af, ek soek dáái trui. Al my goed raak weg! Emily!” roep Ouma, “Emily!”
“Ek’s hier, Oumies, wat help ek?” Emily kyk Ester vraend aan.
“Ek soek my wit trui.”
“Dis mos die een by jou hanna nursie?” Reageer Emily vraend.
“Haal af die tas,” dring Lien aan.
Emily strek en haal die tas af, sit dit agter ouma se rug op die bed neer, maak dit oop, neem die trui by Ester en hou dit uit na ouma Lien.
“Die een, Ouma?” vra Emily.
“Ek sê jou mos hy is die tas! Stry altyd met ’n oumens.” Sy steek haar arms in die moue wat Ester weer vir haar reghou.
Saam beweeg hulle stoep toe. Na ’n ruk sê Ouma opgewonde. “Kyk daai waterbok daar oorkant, kyk…!”
“Waar sien Ouma die bok? Ek sien niks nie.” Ester skrefie haar oë dat dit water. “Waar, Ouma?”
“Is jy blind, nursie,” vererg sy haar. “Daar op die oorkantste oewer,” beduie sy met ’n rumatiekgekromde vinger. Daar staan hy – in die verte op die oorkantste oewer, die wit kring om sy agterstewe net-net sigbaar. Ester onderdruk ’n glimlag, soveel vir ouma Lien se “Ek kan niks meer sien nie.”
“Sal ons ’n entjie gaan stap, Ouma?”
“Net as die wind nie waai nie. Stap Susan saam?”
“Sy kom eers volgende naweek, Ouma,” antwoord Ester kalm.
Hulle stap teen ouma Lien se pas al langs die plaaspad af na die roostuin toe. Ester luister hoe sy vertel van die dae toe sy nog blomme kon rangskik.
Ester roep Andries nader waar hy doenig is in die tuin. “Gaan haal asseblief vir ons ’n snoeiskêr en mandjie, Andries.”
Lien wys roosknoppe uit en Ester knip af. Tevrede met die oes, stap hulle met ’n mandjie vol rose en loof terug stoep toe. Ester gaan haal ’n blompot met ’n oase en moedig ouma aan om die rose daarin te rangskik. Vir ’n oomblik lyk dit of Lien nie weet waar sy is nie, dan verras sy Ester met die kundige manier waarop sy met krom rumatiekvingers te werk gaan, vaardighede nie vergete nie!
Tevrede sit Lien terug in haar stoel en bekyk haar blommerangskikking. “Daar’s hy!” glimlag sy selfvoldaan en neem ’n slukkie tee. “Waar’s Susan?”
“Dit lyk pragtig, Ouma. Wat van ’n rondte rummycub?” Ester staan op en gaan haal die bordspel. Dis nog iets waaroor sy verwonderd is – die gemak waarmee ouma Lien by die spelreëls hou, getalpatrone uitpak, blokkies rondskuif en selfs voor haar opponente al haar blokkies uitgepak kry.
“Jy verneuk mos nou! Roep vir Susan, roep haar!” Die waterbok, nou regoor die stoep, lig sy kop onrustig op snuif ’n slag hard en beweeg ’n ent verder. “Kyk daar’s die bok weer! Sien jy hom nou?” kom die bok tot Ester se redding, die ‘gekul-lery’ en Susan vergete.
“Ek sien hom duidelik, Ouma. Dis jou beurt…”
“Nou wanneer eet ons ontbyt?” vra Lien terwyl sy haar rakkie triomfanklik platslaan, nadat sy die laaste blokkie uitgepak het.
“Kom ons loop ’n draai en was hande, terwyl Emily die kos regkry” Ingehak stap hulle met die breë gang af.
“Sien jy daai boom?” begin Ouma en wys na die bruin deurkosyn, “daar het ek gister geval, gelukkig niks gebreek nie,” vertel sy vir die soveelste keer.
Ouma Lien kom sit aan, sy vies haar vir die bord kookkos voor haar. “Dink julle miskien ek is simpel! Van wanneer af kry ’n mens sulke kos vir ontbyt? Susan!” roep sy.
“Weet jy wat, Emily? Ouma het netnou ’n waterbok doer oorkant die rivier gesien. Ek het gesukkel om hom raak te sien hoor, so ver was hy,” poog Ester om ouma se aandag te verskuif.
“Jo! Dink jy hy”s nog daar?” speel Emily saam, “sal Ouma my kom wys?”
“Nee, Emily, teen die tyd dat ek klaar geëet het, is hy al weg,” wen die waterbok weer die rondte! Emily klik net haar tong en stap terug kombuis toe.
Dis warm. Ouma is gelukkig nou rustig en neem haar middagslapie. Ester gaan maak haarself gemaklik in die hangmat onder die wildevy, naby genoeg om die klokkie te hoor.
***
Eben? Nee, sy wil nie aan hom dink nie. Sy’s nie hartseer nie, sy’s woedend! Hoe kon hy haar vir twee jaar ’n rat voor die oë draai? Nooit ’n woord oor ’n vrou nie! Sê nou net sy het nie daai aand in die kraamsaal diens gedoen nie! Sê nou net!
Sy het pas die babas ingestoot. Wie kom daar aan met ’n bos blomme om sy vrou geluk te wens met hulle eerste baba? Die uwe Eben du Toit. Trots staan hy daar met sy seun in sy arms. In haar lewe was sy nog nooit lus en loop ’n man storm soos ’n viswyf en skop sy maermerie af nie! Sy het byna flou geword en haar vinnig uit die voete gemaak.
Sy breek nou nog haar kop om te probeer uitwerk hoe dit moontlik is dat sy nie agtergekom het hy is reeds getroud nie. Hulle twee kon so lekker saam kuier, laf wees, lag, speel, dans en drome droom oor die toekoms. Sy het telkens weggesmelt in sy arms, sy liefkosings geniet wat hulle tot op die rand van volle oorgawe gebring het. Hulle trae nagtelike afskeide is vasgeëts in haar hart.
Pat het verbaas opgekyk toe sy haar met dikgehuilde oë in die deur sien staan. “Ek haat mans!” het sy tussen trane deur gesnik.
Sy is stukkend, hoe wreed is dit om iemand so lief vir jou te maak! Sy hoop Pat het daai ring vir hom terug gegee. Verraaier!
Ester voel hoe die bloed weer in haar opstoot waar sy in die hangmat lê. Die koordlose foon skel in haar sak en onderbreek haar woedebui. Sy sit regop.
“Ester, kan ek help?”
“Ester Combrink?” kom ’n vraende stem.
“Wie wil weet?” vra sy waaksaam.
“Pieter, man! Ken jy nie my stem nie? Ek wou met my tannie reël om die naweek op Makarios te kuier.” Ester kry nie ’n woord uit nie… ”Is jy nog daar?” vra hy.
Pieter is blind. Sy’t maande laas van hom gehoor. Hy’s een van Eben se vriende. Hulle paaie het gereeld gekruis. Sy is so verbaas dat sy nie mooi weet wat om te sê nie? “Di-dis ’n verassing om van jou te hoor!” stotter sy, “Hoe gaan dit?”
“Goed man. Ek nou die verkeerde nommer gedruk, maar is bly om van jou te hoor.”
Die verraaier! Hoekom het hÿ nie gesê dat Eben getroud is nie? “Kannie nou praat nie. Was lekker om van jou te hoor, ciao!” knip sy die gesprek kort.
Sy staar na die blaredak bo haar. Sy wil nie aan Eben herinner word nie, sy wil nie vir Pieter sien nie. Wegkom kans het sy nie nou nie, sy’s hier! Die verraaiers!
Sy swaai haar bene van die hangmat af. Die waterbok wei al weer hier reg voor haar, hy lig sy kop op en snuif in die lug.
***
Dis sesuur Vrydagoggend. As sy nie gaan draf voordat ouma Lien wakker word nie, kan sy maar vergeet. Sy sit op die stoep en trek haar drafskoene aan. Die waterbok wat in die kortgras by die klipbank gelê het, staan op toe sy die trappe af draf, al langs die geëlektrifiseerde lyndraad wat die plaas van die rivier skei, verby die kam-peerplek, waar sy Johan ontmoet het. Sy draf deur die hek die boskamp in, skrik haar bevange toe die waterbok in die sloot langs die bruggie in die bospaadjie op-doem. Volg hy haar? Hoe het hy so vinnig daar gekom? Die bok draai sy kop skeef, kyk haar aan en wei verder. Sy volg die sirkelroete deur die boskamp, terug deur die hek, die steil opdraande uit by die kampplek verby, vas in Johan waar hy rustig sit en koffie drink.
“Môre! Jy’s vroeg op! Drink saam koffie, dis nog lekker warm,” nooi hy. “Ek het al ’n hele klompie diere gesien, kyk daai trop olifante daar,’ wys hy met die koffie-beker in die lug.
“Dankie Johan, maar ek moet gaan stort en aantrek voor Ouma wakker word,” bedank sy die aanbod terwyl sy die pas makeer, trek dan weg met ’n “Sien jou weer!” Sy geselskap is ’n lafenis, maar ouma Lien is haar verantwoordelikheid, as sy in die verkeerde bui wakker word, is Emily verbouereerd.
Sy loer by Lien se kamer in. Die bed is leeg. Die badkamer? Niemand. Sy soek van kamer tot kamer. Sy’s nie in die huis nie! Sy’s dood as ouma Lien iets sou oorkom! Sy kry Emily, wat moes ooghou, in die kombuis.
“Emily! Hoekom is Ouma so vroeg op? Wat maak julle?”
“Nee, Nursie, hoe dan nou? Mos Oumies hy slaap nog…”
“Nee, Emily, sy is nie in haar kamer nie. Los alles, die stoepdeur was oop…”
Vader, help ons tog!
“Emily vat jy die boonste pad, ek sal onder om soek tot by die kamp, kyk oral. Ouma het nie haar kierie gevat nie.”
Sy kyk die waterbok wat vlak by die heining staan aan, “Moenie net daar staan nie, bok, watter kant toe is Ouma?” Nou word sy kens ook, as sy al vir die bok raad vra. So ver as wat sy draf, roep sy na ouma Lien. Johan kom aangehardloop en vra wat aangaan. Sy beduie en hy help soek. Emily skree iets van die ander kant af.
“Klink of hulle ouma gekry het,” sê Johan.
Ester en Johan kom uitasem by hulle aan. Sy omhels die ou dame. Lien, steeds in haar pajamas, wil net weet waar Susan is.
“Sy het vir my weggeloop.” Ester troos net – Susan is werklik ouma se enigste anker met die werklikheid.
“Ek sal vir Emily vra om haar te soek, Ouma. Kom ons gaan trek iets warms aan.”
Terug in die kamer weier Lien om van haar pajamas ontslae te raak. “Mens gaan slaap mos nie met jou klere aan nie, ek sal aantrek as ons opstaan…” Ester help ouma terug in die bed, maak haar toe, soen haar op die voorkop. “Lekker slaap, Ouma.” Sy trek die deur saggies agter haar toe.
“Waar het jy ouma gekry, Emily?”
“Andries, sy vang oumies doer waar die pad skuins draai. Oumies hy soek mies Susan, sy sê hy het vir hom weggehardloop.”
“Maak vir Andries ’n beker koffie en sê baie dankie hoor.”
***
Ester is stokflou en gaan staan onder die stort en was die groot skrik af. Sy gaan sit op die stoep met ’n stomende beker koffie, dankbaar dat ouma Lien nie die suikerrietplantasie ingevaar het nie. Sy sal haar drawwery moet afstel, tot die Maartense is terug.
Dis al byna negeuur. Ouma moet maar slaap totdat sy self wakker word. Haar oë soek die waterbok, haar bondgenoot. Hy en sy familie wei rustig in die kort grassies langs rivier. Sy grinnik vir haarself toe sy die impuls onderdruk om vir hom te skree dat sy ouma gekry het en asof die seekoeie ook haar verligting aanvoel og-og hulle vir mekaar in die water. Die klokkie klingel uit ouma Lien se kamer…
“Môre, Ouma, lekker geslaap?” Ester help haar om regop te sit. “Emily bring nou ouma se koffie ”
“Vir wat maak jy my so laat wakker, die vergadering begin al amper.” Ouma beur van die bed af.
“Toemaar, Ouma, jy het mos gister alles reggekry vir die vergadering, onthou? Kom ons wag vir die koffie, dan gaan ons badkamer toe en trek mooi aan.”
Gerus gestel, bly ouma Lien vir ’n wyle sit, dan uit die bloute, “Waar is Susan? Sy en my suster was nou net hier.”
Ester voel hoe sy hoendervleis word. Ouma Lien se suster is lankal oorlede. “Ek sal gou by Emily hoor, Ouma.” Sy roep vir Emily wat met die koffie en beskuit in die deur kom staan en vraend na Ester kyk. “Emily, gaan kyk gou waar die mense is.” Emily snap dat sy ’n rol te speel het. Sy oorhandig die koffie en beskuit aan ouma Lien met ’n:
“Môre, Oumies, ek kyk,” skud haar kop en stap terug kombuis toe. “Shame agge shame.”
Lien sit rustig haar koffie en drink, klaar vergeet van Susan en hopelik haar suster. Wat gaan hierdie dag nog oplewer?
***
Ester het ouma Lien net klaar help stort, afdroog en aantrek, toe sy stemme buite op die stoep hoor. Sy begelei ouma na haar leunstoel in die kamer en sit vir haar musiek aan die gang, Anneli van Rooyen se “Halleluja”, haar gunsteling sangeres en lied.
Sy sien deur die kantgordyn dat daar wel mense op die stoep is en roep Emily benoud nader. “Is dit kampmense?”
“Nee, dis Pieter en hom se vrind, mos hy kom nooit allenig nie. Is nie die selle man van altyd nie. Hy sê, mies Susan sê, nursie sal orders gee.”
Sy gaan na buite om te groet, steek in haar spore vas, trek haar asem skerp in. Die man wat haar hart gebreek het sit daar, lewensgroot en skil vir Pieter ’n mango af asof niks verkeerd is nie, hy kyk haar geamuseerd aan. Die tweegesig bedrieërs! Sy wil omdraai en wegloop, maar Pieter se skerp ore het haar teenwoordigheid waargeneem.
“Is dit jy, Es?” Hy kom orent, hou sy arms oop.
“Hi Pieter,” sy kan hom nie ignoreer nie, stap om die tafel, sy ams in.
Hy hou haar vir ’n oomblik teen hom vas, hou haar dan ’n armlengte van hom af, hande op haar skouers.
“Eben was so gaaf om te help, Ben is ongelukkig uitstedig. Hoekom sê jy nie vir my jy’s ook hier toe ek Woensdag met jou praat nie? Dis nou toeval hoor…
“Kom ek stap saam met jou na ouma Lien toe, sy’s nou wakker, vat aan my skouer” onderbreek Ester. “Ek moet jou net waarsku, jou ouma het baie agteruit gegaan die week, sy is baie deurmekaar en sal jou dalk nie herken nie.”
Ouma Lien kyk op toe Pieter in die deur verskyn.
“En wie is hierdie mooi man?” wil sy weet.
Pieter stap in haar rigting, kom by haar stoel en steek sy hand uit. Ouma Lien vat sy hand om hom ’n handruk te gee, maar Pieter buk af en omhels haar. “Hallo, my ouma! Ek is Pieter, ouma se kleinseun.”
“Gaaf om jou te ontmoet, jongman.” Pieter kyk met deernis na sy ouma, wat nie ’n idee het wie hy is nie.
“Môre, Dominie,” groet ouma, “kan ons nou met die vergadering begin?”
“Nou kom, ek en ouma kan lekker diep dinge gesels.” Hy draai na Ester wat ’n stoel vir hom nader getrek het. “Hoe weet Eben dan nie jy’s hier nie?
“Is my suster-hulle al hier? Vra ouma. “Kry ek nou bietjie tee? Bring sommer vir Pieter ook, wanneer het jy gekom kind?” Hy omhels haar en Ester sluip by die agter deur uit en kry koers na die uitkyk ander kant die kampterein.
***
Sy bewe so groot as wat sy is. Die veraaier! Sy val op die bankie neer en snik haar hart uit. Iemand hou ’n soekdoek vir haar uit.
“Wil jy daaroor praat?” Kom Johan se stem sag. Die gekraak van die trappe laat hulle opkyk.
“Droog af jou trane my liefste, hier’s die ring, jy het hom op net die wasbak vergeet”. Verstom voel sy hoe Eben die ring laat terugglip oor haar vinger. “Jy moet versigtig wees jong jy verloor hom nog.” Hy trek haar op en hou haar styf vas. Sy beur weg. Hy hou…
“Kom saam, dis Johan, nê? Dan gaan drink ons koffie op die stoep.” Oppad vertel Eben hoe hy vir sy swaar moes instaan met die geboorte van hulle eerste baba. Hy’s nog in Duidsland. “nogal skikkerig hoor!” Lag hy.
“Ons wil sommer ’n span hê, wat sê jy my liefling.
“As jy hulle kry ja?” glimlag sy.
Die waterbok knik goedkeurend en stap rustig oor die klipbank na die oorkantste oewer.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir September 2024 – OOP projek