
BLIKBEKER
BLIKBEKER
Jy sal altyd ‘n: HANDLE WITH CARE Sticker op fyn porselein kry. Omdat en oordat ‘n harde stamp of valslag dit kan laat skipskop-stukkies breek. Maar nooit-ooit, nimmerimmer sal jy daai graffiti op ‘n ou onaansienlike blikbeker kry nie – sien; ‘n blikbeker is mos veronderstel om byna onbreekbaar sterk te wees. Maar.
Maar het jy al ooit daaraan gedink dat ‘n baie (onmenslik) harde stamp of valslag daai blikbeker ook kan laat chip; laat kraak – ‘n nuttelose stuk weggooiding op ‘n Ghwarriegat. Dat water (spoeg wat spat soos wat mense oor jou skinder, jou verkleineer en verneder) daai einste sterk blikbeker kan laat roes. Roesplekkies wat later gaatjies word; wat nog later gate word. Blikbekers kan ook in skipskop-stukkies breek! …….Jy weet, Bokkie my babie; toe my Hero my jare terug uit elcheappo se gatsak gehaal het het ekke nie net sterre in my oë gehand nie, maar ook die lig van ‘n 1000 sterre se helder flikker-flonker binne-in hierdie wise-ass hart van my.. Al het my ma en Laya so gou Hemeltoe gegaan……. Ek het ‘n splinternuwe, ongeskonde lewe gehad. My Hero het vir my die mooiste Sprokie in my 2hande kom neersit; vir my ‘n stukkie van Homself in ‘n mensvel gegiet gegee. En ‘n mooi, groot huis by die see wat vir my gewag het. Die toekoms; die LEWE in al sy glorie en skoonheid en vreugde het vir my geknipoog; nader gewink. Net vir my gewag. Vir my en Righ en toe…. Toe blixem net mooi als uitmekaar en ja…Of toemaar; kom ons los dit maar.
Maar gisteraand – soos so baie ander nagte – toe almal slaap toe gaan slenter my hart op my ou Ghwarriegat rond. My kaalvoete se loop ken elke stukkie van daai lap aarde met sy weggooi goeters; ek weet dadelik as daar iets anders of nuuts bygekom het. Dis waarom ek gisternag onmiddellik geweet het daar’s iets anders (en tog iets so verskriklik bekends) onder my kaalvoet se spoor. En toe ek afbuk; toe …. Toe, Bokkie my babie; toe sien ek dis slinterruitstukkies van my menswees; my vrouwees wat daar lê. Skipskop-stukkies van my wees wat tussen al die ander rubbish vir my kyk – soos die verwarde beelde van ‘n stukkende spieël. Maar dis tog nie moontlik nie – ek’s mos ‘n tawwe dogtertjie. ‘n Blikbeker is mos nie nodig om geHANDLE WITH CARE te word nie!!!
En op daardie oomblik was daar ‘n alleenheid so wyd en groot soos die hemelruim om my; binne-in my. Self my Hero het vêr weg gevoel; n ewigheid vêr. Ek moes al hierdie verbyjare so hard vir my wickets keer; so sonder omgee wat met my gebeur in die bres staan vir al die eina op my geliefde ou Ghwarriegat dat ek glad nie eers agtergekom het hoe ongenadiglik hard die blikbeker val nie. As ek nou terugdink – die grootste deel van hierdie verbyjare was die meeste van die tyd hard, wreed en onmenslik liefdeloos. Veral groot gedeeltes van die laaste 2jaar. Daar het soveel dinge gebeur; nog meer dinge skeefgeloop. Die vernedering en vervolging was met rukke behoorlik soos kaalvoet Heltoe loop en terug. Ek’t soveel verloor, moes soveel dinge prysgee. Magteloos gestaan en kyk hoe my drome byna letterlik voor my oë doodgaan. Hoe my visie; my hoop (al het ek hoe hard baklei) bietjie vir bietjie wegverloor. Hoeveel maal het die lewe my nie die afgelope tyd geklap nie – male sonder tal amper kestamper van my Hero se voete af; maar Goddank het Hy my elke keer betyds weer gevang. Hoe my geloof in die toekoms stadig begin vervaag het; weggekalwe is. Hoe my gesondheid die afgelope tyd vir my skewebek trek. Ek’t nog altyd die Mexican Standoff gewen; maar hierdie keer is ek nie so seker nie. Wat bly oor vir Liewe Jesus se GhwarriegatQueen? Ek’s stoksiel alleen. My kinders is….almal is by my Hero in die Hemel en my….my man; ek weet nie…..Sal ek hom ooit weer sien? Sy stem weer hoor?Sy arms om my voel? Watse lewe wag vir my vorentoe – alleen en besig om dood te gaan….Tensy ‘n wonderwerk gebeur?!! En toe onthou ek skielik sommer uit die bloute (al lê die nag swart rondom-om my) uit daai droom wat Katjie soveel jare terug van my gehad het. Toemaar, Bokkie my babie; jy hoef nie te sug of jou oë te rol nie – ek gaan jou nie daarmee verveel nie:-) Daai droom van my op die Ghwarriegat met die rubbish wat aanhou val rondom my; bo-oor my; totdat net die rou lap aarde van die Ghwarriegat sigbaar was…….Vergun my net Katjie se laaste woorde, blief: “En dis toe….. “Talitha Cumi!” daai Stem met allie Glory en Compassion vani Rock of Ages, enne toet sy daai vuuroog kjind gesien….. ‘n Klein ou bondeltjie se hanne om die base vani Old Rugged Cross. Haar se hanne stukkend gebaklei. Maar die Liewe Djesus het haar aangeraak; nes soos vi ou Jairus se meisietjiekjind en sy’t onmiddelik opgestaan. Trane nog op haar se wange en daai oge se binnekantoe brand, ma die Djere Djesus het soes ‘n coat of armour oor haar gekom lê en Fireworks (dis hoe sy my genoem het) se hele lyf was propvol Gees gecharge! Nes seewater in haar se are; daai meisieskjind vrek mos behoorlik ori see – so het die Holy Ghost binne-in haar geloep…. Daai het jou intuition somme vi djou gesê.” So……. Ek’t ‘nkeuse – draai om en loop vir altyd weg van my geliefde ou Ghwarriegat af. Loop sommer in my malle maai in; of. Of, ek bly en ek wag vir die bekende klank van die Stem van daai Man met Sy Vuurvlam oë en Sy spierewit, forse Arabierse reisieperd. …..Talitha Cumi! Stadig draai ek terug en gaan op my bekend ou boomstomp sit. Hierdie solitiare aand is myne. Die Ghwarriegat word trallies om my siel, koud en bang. Tog warm en veilig, so ontsettend veilig. EK IS TUIS! En terwyl ek wag sal ek solank my swaard blinkvryf; want ek ken ‘n Man wat selfs blikbekers weer kan nuutmaak…….
TALITHA CUMI …. Ek sal wag!!!
Kyk mooi na jouself, liewe Bokkie my babie; en mag Talitha Cumi ook in jou hart weerklink.
©Liza Daniells
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.