Ouma Patricia
Ouma Patricia
Die lewe het haar goed geklap. Maar gaan lê was nooit in haar woordeskat.
Die dag toe haar man wegstap, moes sy alleen vir haar kinders ‘n plan maak.
Haar salon was nie juis vir hare nie. Dis daar waar manne kom kuier het, en waar Patricia haar brood verdien het.
As sy besef haar sang gaan die aand bederf, het sy sommer haar stoute dansies uitgehaal.
Meer as een keer het sy voor die hof moes verskyn.
Maar, so het die dorp vertel, selfs die regter het haar kuns waardeer.
Swaar grimering. Hare woes. Goedkoop parfuum. En altyd ‘n glimlag vir die volgende klant.
By Patricia was almal welkom.
Sy het vir haar kinders en haar kroeg geleef.
Die een het haar hart gevoed. Die ander haar huis.
Toe sy honderd en twee geword het, het ons begin wonder of sy dalk vergeet het om dood te gaan.
Toe haar geheue haar later begin los, het sy steeds bly dans… tot by haar graf.
© Ryno du Plessis
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.