Jongste aktiwiteit:

Geld praat die hardste (Goud) (1382 woorde)

Geld praat die hardste

Die Stampriet-akwifer is vir my baie meer as net ’n blou kol op ’n geologiese kaart. Dis meer as ’n gevallestudie. Dis meer as ’n hulpbron waaroor mense in raadskamers kan praat en met ’n liniaal grense kan trek of waar die Russe kan besluit wat die beste vir Namibië se mense is. Dit het ook duidelik geword dat ons eie regering nie betroubaar is nie.

Ons boer daar. Dit is ons water waarmee hulle speel. Ons s’n en honderde duisende ander mense s’n.

Dit is die water waarmee ons koffie maak. Die water wat uit ’n boorgat tot in ’n krip loop wanneer ’n skaap daaruit drink. Die water waarmee kinders se pap gemaak word. Dis water wat plase, dorpe en ’n stuk dorre aarde bewoonbaar maak.

Nou moet ons oor uraan praat. Oor geld en oor ontwikkeling. Oor die moontlikheid om suur ondergronds in ’n formasie van miljoene jare in te pomp om uraan uit die gesteente te loog.

Ek sukkel om te verstaan wanneer ons so gewoond geraak het aan die taal van geld dat ons opgehou het om bang te wees vir woorde soos suur, uraan en drinkwater in dieselfde gesprek.

Die voorgestelde metode staan bekend as in-situ loging. In eenvoudige taal: die uraan word nie deur ’n groot oopgroefmyn uitgehaal nie. ’n Chemiese oplossing word ondergronds gebruik om dit uit die erts los te maak, waarna die uraanhoudende vloeistof uitgepomp word. Daardie uraanhoudende vloeistof is ons water.

Op papier klink dit na ’n netjiese en gesonde praktyk. Die probleem is dat daar onder
daardie einste papier water lê. Skoon, heilige drinkwater.

Die Stampriet Akwifer Sisteem strek oor Namibië, Botswana en Suid-Afrika. UNESCO beskryf dit as die enigste permanente en betroubare waterbron vir die plaaslike bevolking oor ’n gebied van ongeveer 87 000 vierkante kilometer.

Lees dit weer.

Die enigste permanente en betroubare waterbron. Nie een van tien nie. Nie een van vyf nie. Die enigste. Tog word daar ernstig gedebatteer oor hoeveel risiko aanvaarbaar is. Hoe kan enige mens met ’n brein vir een sekonde dink dat daar enigsins iets debatteerbaar is?

Dis hier waar my bloed begin kook, want hulle vra die verkeerde vraag. Die vraag behoort te wees: Wie het die reg om daardie risiko namens almal ná hulle te neem? Die mense wat vandag die somme maak, gaan waarskynlik nie oor vyftig jaar daar woon nie. Maatskappye onttrek, beleggers verkoop aandele, direkteure tree af, politikusse verlaat hulle ampte en myne sluit. Daar kom egter ’n nageslag waaraan gedink moet word.

Voor ons egter by die nageslag kom, wat van die huidige geslag wat daar ’n lewe probeer maak? ’n Lewe wat reeds uitdagend is weens droogtes. Dus, wat van die boere? Wat van die gemeenskappe wat nog altyd daardie stuk aarde huis genoem het? Hulle kan nie hulle akwifer oppak en saamvat nie. ’n Gemsbok kan nie na ’n vergadering gaan en beswaar aanteken nie. Die kinders van vandag kan nie oor dertig jaar ’n kraan oopdraai en terugkom na 2026 en die besluit verander nie. Hulle gaan vra waarom ons gedink het die risiko was die geld werd, want die A-geklassifiseerde water wat diep uit die maag van ons Kalahari kom, is dan nou kleurlose, reuklose en smaaklose gif?

Dít is wat my naar van woede maak. Ons praat oor natuurlike hulpbronne asof alles ’n prys het. Hoeveel is uraan werd? Hoeveel werk kan geskep word? Hoeveel beleggings (en koeverte onder die tafel deur) kan ingebring word? Hoeveel leë beloftes en omkoop-pakkies kan uitgedeel word?

Nou goed, kom ons praat nou oor geld. Wat kos ’n akwifer? Gee my ’n bedrag. Wat kos genoeg drinkwater vir mense en diere vir die volgende honderd jaar? Wat kos die Kalahari? Wat kos dit om vir ’n kind te kan sê: drink maar? Watter bedrag sal genoeg wees daarvoor?

Daar en dan behoort die sakrekenaars stil te raak. Ons kan baie dinge bereken en herbou. Paaie kan herstel word, huise herbou word, heinings weer gespan word en kraglyne vervang word, maar waar koop ons ’n nuwe akwifer? Waar bestel jy miljoene jare se geologie? Waar kry jy ’n nuwe ondergrondse waterreservoir wanneer die enigste een onder jou voete nie meer veilig is nie?

Dit is waarom ek keelvol is vir die woord ontwikkeling wanneer dit gebruik word asof dit ’n towerwoord is wat elke risiko aanvaarbaar maak.

Ek is ’n boervrou uit ’n droë wêreld. Ons plaas val ook in die area wat bedreig word. Ek weet baie goed wat water werd is. Ek het gesien wat droogte kan doen. Ek het dit gesien en gevoel en voel dit steeds elke dag. Ek is ’n boervrou wat my boerman en ons plaas moes verlaat om meer as ’n duisend kilometer ver weg te gaan werk omdat die droogte ons kele afgesny het. Ek weet hoe ’n mens na die lug kyk wanneer die boorgate leeg raak. Hoe jy somme maak met diere wat jy liefhet. Hoe jy bid tot jy bloei vir reën en ook hoe ’n windpomp wat noord kyk en ritmies klop, mooier kan klink as enige musiek.

Daarom verstaan ek iets wat die Russe en ons regering met hulle balansstate nooit sal nie. Water se waarde begin waar geld ophou.

Ons is geneig om te dink besoedeling is iets vreeslik dramaties. ’n Dooie rivier. Vis wat op die oppervlak dryf. Bruin water wat uit ’n kraan kom. Grondwater kan egter bedrieglik wees. Dit lê ver weg van jou oog. Ons sien nie hoe dit beweeg nie. Dit is ook die rede waarom ons versigtiger daarmee moet wees, nie roekeloser nie.

Daar is natuurlik ’n ander kant aan die argument. Die maatskappy sê die projek sal volgens internasionale veiligheidstandaarde ontwikkel word, dat monitering deel van die proses is en dat besluite op wetenskaplike feite gegrond word, maar net omdat hulle dit sê, maak dit nie die waarheid nie. Hulle verbreek klaar die reëls en regulasies. Hulle boor dieper as wat hulle mag, seël nie die gate reg nie en boor meer as wat toegelaat word op die permitte. Hulle lieg en bedrieg en koop om. Hulle vlieg kruis en dwars oor ons plase met hommeltuie en swaai dik pakke note voor arm gemeenskappe rond.

Ons kan luister wanneer die wetenskap praat, maar dan moet ons na ál die wetenskap luister. Ook na die waarskuwings van migrasie tussen boorgate en formasies. Na die langtermynrisiko. Ons moet ook dink aan die moontlikheid dat iets dalk op ’n model werk, maar dan nie onder die grond presies volgens die model optree nie. Hierdie eksperiment het geen “undo”-knoppie nie.

Water verstaan buitendien niks van politiek nie. Dit weet nie waar Namibië ophou en Botswana begin nie. Dit ken nie die grens van Suid-Afrika nie. Dit weet nie wie die lisensie uitgereik het, wie die myn besit of wie die wins ontvang nie.

Onder die Kalahari beweeg water volgens geologie, druk, breuke, gesteente en tyd. Nie volgens landsgrense nie. Daarom behoort hierdie water aan iets groter as ons huidige honger na geld.

Ons hou dit eintlik net in bewaring vir die mense wat ná ons kom, soos die mense voor ons dit vir ons gedoen het.

Wat my die meeste ontstel is dat ons geslag so maklik praat oor die reg om hulpbronne te ontgin, maar so min oor die plig om iets ongeskonde na te laat.

Ons boer só dat ons niks verniel nie. Ons beskadig niks nie, oorbewei nie die veld nie en sorg dat niks uitgeroei word nie, ongeag van hoe swaar ons kry. Ons leef die opdrag uit van bewoon, bewerk en bewaar, en ek sal bitter graag wil hê dat mense wat ná ons kom, steeds hulle hande sonder vrees onder die water kan hou. Ek wil hê daar moet nog vee by ’n krip staan en wild by ’n watergat.

Daar is ’n waarheid wat ’n mens vinnig in ’n droë land leer: Jy kan nie geld drink nie.

Wanneer die laaste vergadering verdaag het, die laaste kontrak geteken is en die laaste dollar verdien is, sal daar steeds net een vraag oorbly: Is die water skoon? As die antwoord eendag nee is, gaan dit bitter min saak maak wie destyds reg was.

Geld kan baie hard praat, maar in ’n droë land behoort die geluid van water altyd harder te wees. Altyd.

© Hester Steenkamp, 2026




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed