mega en mikro
soms is jy die magtige weskus-see
die mega-mens van branders en sout
met ‘n stem wat die stilte breek soos golwe teen rots
jou drome is wyd, ongetem en uitermate groot
soos die suidwesterwind wat die duine verskuif
’n reus wat die lewe heeltyd wil uitdaag
en in jou ontembare, lewenskragtige loop
is daar niks wat jou gees of jou moed kan vertraag
ek ken egter ook jou stille binneste
sagte spore wat jy agterlaat op die duin
die manier hoe jy buk vir ’n brose mosselskulp
die sagte mis wat saans om jou oë kom tuis raak
jy is in die rooi flitse wat saans in die kaggelvuur glim
in die warmte van jou hand as die seekoue knyp—
die fynste, klein stukkies van jou heilsaamheid
wat jou warmte diep in my hart kom neerlê
jy hoef nie altyd die stormsee te wees nie
die duine bied skuiling waar die winde gaan lê
tussen jou grootsheid en die fynste korrel sand
is dit die rustige weskus wat ons liefde neerlê
© Tearlach.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.