Adieu mon amour
Adieu mon amour
In die maag van staal
kyk ek deur spieëls
na koringvelde,
omgeploegde lande
jy dra ‘n strooihoed;
daar is belofte in sonlig
wat deur vaalgrys spriete kruip,
die landskap streel
jy lig jou rok met beide hande,
skarrel om uit die reën te kom
en bestel warm koffie
by Café Charbon
ek vee slierte uit jou oë
en proe nartjies en koffie op jou tong:
jy glimlag speels
en voor jy in die nag verdwyn,
fluister jy teen my lippe:
“Adieu mon amour.”
Die trein stoom voort
deur koringlande –
ek sien jou nie meer nie.
© Ernst Fernando dos Santos
* Café Charbon – Straatkafee in Parys
* Adieu mon amour– ‘Totsiens my lief’
4 Kommentare
-
Inkmoderator
Lieflike vers. Storieverse beïndruk my voortdurend omdat dit so eg en eie is aan die digter se ervaring. Woorde op papier, deur ervaring, jok skraps. Baie dankie vir jou bydrae. IM
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die INK gedenkbundel projek