Bakkievissers
Dromerig sit en tuur ek oor die see nou dag op die Walvisbaai seiljagklub se stoep. Ek hou die voëls se manewales dop; seeswaeltjies wat met vinnige swenk- en duikslag ‘n vissie uit die water opraap, die ou pelikaan wat dromerig, soos ek, oor die water tuur, dalk ‘n middagslapie vat en die golfies wat luiweg op die beskutte baaitjie uitspoel. Af en toe stuur ‘n kleinerige motorboot sommer op die strand uit en word verder strand-op gesleep tot die volgende dag wanneer hulle weer uitgaan om te soek vir ‘n ietsie vir die pan.
Dit laat my dink aan weskusdorpies waar ons destyds tydens vakansies die visserskuite, “bakkies”, ingewag het, vol gelaai met vis en kreef en jy sommer direk by hulle kon koop wat hulle gou-gou vir jou skoongemaak het, reg vir die pot of die pan. En ek dink hoe ek dit hier mis, ‘n romantiek wat seker ook nie meer aan die kaapse weskus bestaan nie met dié dat die visbron met mag en mening beskerm moet word teen stropers en die ál hoe groter aanvraag aan voedsel uit die see.
Groot my verwondering to drie “bakkies” inkom, laag in die water met blinklyfvissies, ‘n bedryf wat toe tóg nog hier in Walvisbaai bestaan, jy moet net op die regte tyd op die regte plek wees! Ek hou hulle dop en ek sien dis rugbreekwerk. Die houers is swaar en die vis is baie. Ek wonder of dit ‘n alledaagse gebeurtenis is, dié bakkies vol vis. Sonder om té nuuskierig te klink probeer ons verneem, want dié visvangery het nou nogal ‘n sensitiewe saak geword met dié dat die strandhengelaar beperk word tot hoeveelhede en vangplekke.
Nee, sê die kelnerin, dis die eerste keer wat sy dít sien, maar ek vermoed sy het vandag eers daar begin. Ons kan koop sê sy, N$1.00 ‘n vissie, en hulle loop haal elkeen 20 vissies in plastieksakkies vir N$20.00.
Ek stuur vir Mias om te loop verneem. Hy is immers die een met die kamera wat moet fotos neem van hierdie ongewone gesig. Nee, sê een van die vissers, dis harders en hulle vang dit net hier anderkant Pelikaanpunt op die oop see met nette. Ons kan nie die nette sien nie, seker begrawe onder die vragte vissies, maar dit kan beslis nie te groot wees nie te oordeel aan die grootte van die bakkies.
Ek hou van die prentjie, dit is ‘n tipiese weskustoneel en iets wat ek nog nooit hier gesien het nie. My verbeelding gaan op loop en ek sien hoe die manne op ‘n groot skool afkom, nette uitgooi, intrek, leegmaak, die proses herhaal tot die drie bootjies té vol is om weer te gooi. Dan weer op land alles oorskep in houers vir verspreiding en die bootjies uitwas. Dit alles vir ‘n bestaansloon van van N$1.00 ‘n harder.
“Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur” haal Mias aan uit Uys Krige se pragtige gedig, “Ken jy die see Meneer?”.
Ja, dink ek, ons neem alles so asof vanselfsprekend, ons gaan koop ons vis in die winkel of beter nog, in die restaurant waar dit klaar gaar aan jou voorgesit word sonder dat ons twee keer dink watter pad dit geloop het om op jou bord te kom; met hoeveel moeite en lewensgevaar ‘n skuit vol vis gevang is, hoe eenvoudig die vissers se hulpmiddels is – dan kla ons nog die vis is duur, maar ek is seker al is hulle hoe moeg, voel hulle tevrede want hulle het werk, hulle het ‘n paar dollar gemaak vandag en hulle gesinne en ‘n klompie ander het kos om vanaand te eet.
Maar die nuuskierigheid wil my nie los nie, ek wil meer weet van hierdie bedryf…is dit ooit wettig? Ek gaan Google en die spinnekopweb gooi vir my ‘n artikel uit, gedateer Februarie 2014 van ‘n gesoute nuusman van die kus. Soos ek, het hy seker ook gewonder. Die “bakkievissers” is ‘n wettige bestaansbedryf in Walvisbaai en die manne het lisensie. Hoewel ‘n primitiewe bedryf, te oordeel aan die skamel skuitjies en harde lyfwerk, skep dit werk vir ‘n klompie plaaslike bestaansvissers en voorsien ‘n bekostigbare maal aan Walvisbaai se armer inwoners wat saam met mieliemeel of mahango (oftewel manna, ja daardie kos waarvan die Bybel praat) gaargemaak word. ‘n Gedeelte word aan die visfabrieke gelewer vir verpakking en verspreiding na die noorde.
En ek verwonder my weer aan die vrygewigheid van die natuur, hoe dit voorsien aan mens en dier en alles verder af in die voedselketting. Hoe alles in ‘n oneindige spiraal beweeg, elkeen sy deel kry op sy tyd. Soos ‘n groot wind seker lank gelede ‘n mahangoland in noord-Afrika getref het en die ryp manna hoog die lug in gedra het en oor ‘n groepie verhongerde Israeliete in die wildernis laat neerreën het.
So loop die natuur vandag nog in siklusse, voorsien waar sy kan en maak met natuurverskynsels reg wat ons mensdom beskadig, tot ons eendag net te veel skade aangerig het en moeder aarde met ‘n skud van haar skouers hierdie lastigheid afskud en lewe dalk weer vanuit ‘n primitiewe stadium van vooraf begin ontwikkel.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.