
BALLADE VAN ‘N KIND
Voorwoord: Die lewe plaas so baie druk op vandag se ouers dat dit onbewustelik oorspoel na die kinders toe – dit is waaroor hierdie gedig gaan
Hoekom is Pa vandag so kwaad
was dit die mense by die werk
of dalk net ek?
Hoekom glimlag Pa nie vandag soos gister nie
hoekom het Pa daai lelike woorde
by die bankman se deur gebruik
was dit ek?
Het Pa gesien ek het vanoggend
die wasgoed in die bad gewas,
my hande seer en koud;
Hoekom bly Pa so kwaad of was dit alweer net ek?
Het Pa gesien ek het die stoep gevee vanoggend,
het Pa gesien die honde se beddegoed hang op die draad;
Hoekom bly pa so kwaad of was dit ek?
Het Pa gaan kyk,
Pa se bed is opgemaak,
is Pa nog kwaad of is dit ek?
Het Pa gesien
die ketel kook die hele oggend al op die stoof,
‘n lekker koppie koffie Pa sal ruik;
Hoekom kwaad Pa, is dit alweer ek?
Ek het Pa se kos in die warmoond gebêre
Pa se gunsteling sous
en twee sny broodjies met melk op die kas;
Is pa nog kwaad of is dit ek?
Ek wou die matte in die sitkamer gaan stofsuig
maar Pa het vergeet om die krag te gaan betaal,
…ek sal môre maar die borsel en die skeppie vat.
Ek sal nou die wasgoed gaan afhaal
en die skottelgoed gaan was
seepgoed is daar nog genoeg;
Is Pa nog kwaad of is dit ek?
Ek sal later Pa kom toemaak wanneer Pa slaap
en die oorskietkos in die honde se bakke leegmaak
die deure sluit en in my bed gaan klim
en bly wonder
was Pa se kwaadrede miskien dalk ek?
4 Kommentare
-
-
Evelyn van der Merwe
Ek stem saam dat ons nie meer stilstaan en waarlik luister en deel met ons kinders nie. Die lewe is te gejaagd en gekompliseerd of is dit net ek?
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels claasen
Louie hierdie is een van die best5e werke wat ek in n lang tyd gelees het