Elmarie Nienaber Van Kampen – PROSA
Lees meer oor Elmarie Nienaber Van Kampen
September 2023 – OOP projek
2.
Afrikaans práát met my
320 woorde
Myne. Ja, mýne! Mý Afrikaans.
Soos ‘n baba oor sy bersie en ‘n hondjie oor sy been. Dít is hoe ek voel oor my Afrikaans. Ek waak jaloers oor my moedertaal wanneer en praat en wanneer ek skryf. Perfekte woordeboek en sprelreël-Afrikaans gebruik ek beslis nie, maar ek beledig nie my taal, toegewyde oud-Afrikaansonderwysers óf voorouers deur te praat en skryf in die hedendaagse sms-taal nie. Ek gaan nie “saam iemand” iewers heen nie en ek laat nie al wat ‘n lidwoord of voorsetsel lui-lui weg in my gesprekke en skrywes nie. Ek stel my dus ten doel om die taal waarin ek daagliks kommunikeer, mooi op te pas en mense wat dit nie doen nie, liggies te betig. Ek is al in my lewe ‘n taalsnob genoem, omdat ek iemand reggehelp het. Aanvanklik was ek diep geaffronteer én bekommerd oor hierdie ongevraagde titel wat aan my toegedig is. Later het ek dit vergeet en verder gepraat en gestry saam met my mede taalsnobs om ons Afrikaans te beskerm.
Nie alleen praat, dink en skryf ek in Afrikaans nie, maar my Afrikaans praat ook met mý!
Ek hoor haar in my alledaagse handel en wandel. Sy praat met my deur die pasgebore lammetjie se dom ogies. Sy maak my hart week wanneer ek ‘n vet babawangetjie streel en wanneer ek die skugter vertroue in ‘n dier na wie ek uitreik, sien. Wanneer ek opkyk na die majestieuse berge, saamgeskraap deur twee Vaderhande, roep my Afrikaans my toe vanaf die hoogste pieke. Sy eggo deur die klowe, koggel die swewende arend en lag klokhelder tussen die branders en rotse. Lig ek my oë na die horison, fluisterroep sy en kan ek my vingers oor my sleutelbord laat sak en haar boodskap neerpen. Haar strelende stem noem my naam wanneer ‘n donsveer onverwags sy lêplek op my lessenaar kry en waar ‘n doudruppel diamant-mooi hang net buite my venster.
Afrikaans is my moedertaal, my erfenis, my woordvriendin…sy is mý Afrikaans.
Elmarie Nienaber van Kampen
Maart 2025 – OOP projek
3.Vlegsels 365 woorde
Ek en my sibbes het onlangs ons ouerhuis gaan leegmaak, nadat my ma ook oorlede is. Ek het in ‘n ander wêreld inbeweeg soos ons die een na die ander bekende voorwerp, foto en speelding ontdek het. As volwassenes, het almal van ons die meeste van die goed in ons kindertyd laas gesien en hanteer. Ons was dus ook op ‘n nostalgiese reis, as sulks.
Met ‘n bakkievrag ma-se-goed en my baba-album onder my arm het ek later by die huis aangekom en my aandpligte vinnig afgehandel. Daarna het ek gaan sit en my ou foto album oopgeslaan
My swart-en-wit babafoto’s, waarna ek bitter lanklaas gekyk het, het my geroer op ‘n ander vlak as vorige kere. Dit is dalk omdat ek raak aan sestig, wie weet?
Dit was en is steeds vreemd om aan myself te dink as ‘n brose baba, om te besef dat ek pap en weerloos en gedagteloos was. Soos ek ouer geword het, het my menswees begin ontwikkel, maar ek kan dit nie tree vir tree onthou nie. Dis asof ek maar sommer net vanself, ék geword het.
Nog iets wat my ma al die jare gebêre het, is ‘n vlegsel van my hare. Sy het my lang, blonde vlegsel laat afsny iewers in my Gr 1-jaar en dit sorgvuldig bo in haar kas gebêre. Die dag van die groot skoonmaak, het ek dié vlegsel gesoek, later koorsagtig, maar nie gevind nie. Ek wou vat en ruik aan die hare, dit koester teen my wang, die sysagtheid daarvan tussen my vingers voel. Dit sou my nader aan die dogtertjie-ek laat voel het as die foto’s. Dit was helaas nêrens te vinde nie en om die een of ander rede is daar nou ‘n klein-klein leegtetjie iewers hier binne my. Dalk wou ek dat my vlegsel alles waarvoor ‘n dogtertjie-vlegsel vir my staan, weer aan my terug besorg: onskuld, vreugde, sorgeloosheid, geluk en eindelose vertroue in die lewe?
Telkens wanneer ek net alleen wil wees met my gedagtes oor my lewe, vat ek my baba album en gaan nestel iewers. Ek het vrede gemaak daarmee dat die vlegsel en alles wat dit vir my vergestalt, vir altyd verlore is vir my.
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2025
OKTOBER 2025 – OOP PROJEK
2.Oumaland (Met so skeutjie fantasie) 409 woorde
Daar is ‘n plek…’n land, waar al die ongebore kindertjies woon. In hierdie land is daar net laggies en liefde, dimpels en rosige wangetjies. Hier heers harmonie, vrede en bowenal vreugde en veiligheid. Hierdie plek se naam is Oumaland.
Wanneer ‘n baba uit Oumaland geroep word om in die lewe gebore te word, begin daardie baba se ouma drome droom en planne maak. Sy deel gevraagde en ongevraagde raad uit aan die aanstaande ouers en begin haar huis summier baba-vriendelik inrig vir die dag wat haar kleinkind kan rondkruip en speel.
Op die dag van die geboorte,trek sy vir haar baie mooi aan en gaan wag geduldig in die kraamsaal se wagkamer vir die nuus dat haar kleinkind die lewenslig aanskou het. Dan haas sy haar nader om kennis te maak met háár bondeltjie uit Oumaland.
Ek is ook ‘n ouma en ek onthou nog hoe heerlik dit was om met elke kuier te kon sien hoe die kleine baba-bondeltjies met rasse skrede groei.
Ek het reikhalsend daarna uitgesien om te beleef hoe my kleinkinders hardlopend en kaalvoet so “Ouma! Ouma!” by die huis instorm elke keer wanneer hulle kom kuier, mekaar in die rede val om te vertel van iets wat by die huis, die kerk of die skool gebeur het. Na hoe ek oor en oor moet kyk hoe vinnig hulle om die boom op die grasperk hardloop, esse met hulle fietse gooi en net daarna blitsvinnig eiers uit die lêhokke gaan haal. Ek het uitgesien en dit gebeur nét so… ek leef my beste ouma-lewe voluit.
Nou begin ek, sonder om die tyd om te wens, uitsien daarna om my kleinseuns as tieners te ervaar. Om te sien hoe hulle met hulle tienerseunskind-lywe uit die motor rank en my kom groet. Nie groet met ‘n stram kopknik of verveelde skuinsdruk of afgetrokke glimlag omdat dit cool is nie. Nee…ek weet hulle sal my steeds spontaan, met wydoop arms, warm seunskinddrukke en ‘n innige warm “Hallo Ouma” groet. Wanneer hulle huis toe gaan, sal dit steeds wees met breë glimlagte deur die motorruit en ‘n “Bye Ouma, lief vir Ouma!” terwyl ons vir mekaar soentjies blaas soos hulle deur die moorhek verdwyn.
Ek weet dit sal so wees, want hulle word goed en mooi en onbedorwe grootgemaak. En ek is so bly dat hulle uit Oumaland na die regte lewe, na my toe gekom het.
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2025