Wilma Heinlein
September 2018 – Spyse vir die siel projek
2.Voedsel vir my siel
Ek kyk om my heen met vaal, moeë oë. Vadertjie tog, alles is vaal. Daar is net klein bossies, vuurwarm klippe en vaal gras, so kort die sprinkane moet op hul kniee staan om iets geeet te kry. Ek mis iets, maar ek besef nie wat dit is nie. Ek kyk na die son wat alles om my dood brand.
‘n Motor kom aangejaag en ek koes vir die stofbolle wat aangeborrel kom. Nee, hemel, hier sal ek wraggies doodgaan. Ek proe dan die stof op my tong. Stadig stap ek terug huistoe. As ek gedink het dit gaan koeler wees in die huis, het ek my deeglik misgis.
“Is daar bietjie koeldrank in die yskas, Ma?” wil my jongste weet.
“Gaan kyk self in die yskas. Ek is te moeg en warm.”
Die waaier ‘tjiert, tjiert’ voort. Nie dat die effense wind enige verligting bring nie. Soos ‘n sak patats vlei ek my neer op die warm sitkamer bank. Langs my staan die skotteltjie met koue water en waslap. Die waslap kry sy lêplek op my natgeswete voorkop.
“O aarde nee, hier sal ek vergaan van die hitte. Die Karoo is nie vir sussies nie en beslis ook nie vir my nie. Wat het ons besiel om hierheen te kom?” draai die verwyte in my kop rond.
“Ma! Ma, daars nie meer ys in die yskas nie!” roep Kleinboet en val op sy eie bank neer.
“Daar sal nie ys wees nie, dis alles gesmelt. Wag tot vanaand voordat jy vra vir ys.”
Brom ek die woorde met toe oë. Wie kan enigsins praat as dit so bedompig warm is. Nee, ons sal ‘n plan moet maak om hier weg te kom. Ek voel om my vingerpunte weg te druk in my ore so skreeu die sonbesies. Waar kom hulle in elke geval vandaan? Kry hulle nie sonsteek van so in die son sit en skree nie?
Die Teenwoordigheid is ons genadig. Die goeie nuus kom die volgende dag in die vorm van ‘n baie belangrike telefoon oproep. Die beste nuus wat ek nog ooit gehoor het. Hoe goed die nuus is, besef ek nie nou al nie.
“Julle moet terug kom Bosveld toe. Ons het ‘n werksgeleentheid vir jou man. Laat hy my vanaand terug skakel, asseblief.”
Die aarde is momenteel weer op sy voete en vir ‘n paar sekondes vergeet ek van die hitte. Ek spring op en af van vreugde om net die volgende oomblik soos ‘n uitgediende waslap op die bed neer te val.
Binne twee weke is ek opgepak en reg om die Karoo stof van my voete af te skud. Die vervoerwa kom saggies ingery om die meubels op te laai. Ek laat ‘n silwerskoon huis agter. Nie ‘n stoffie te bespeur nie. Vir oulaas plaas ek die sleutel onder die deur se matjie en klim in die motor sonder om een keer terug te kyk.
By Kimberly begin dit reën. Ons moet langs die pad stop so hard reën dit. My siel roer in my binneste. Laat die nag kom ons by ons bestemming aan. Die lug ruik skoon en ‘n verfrissende briesie waai.
Die oggend maak ek my oë oop in die paradys. My oë vier fees. In my binneste gaan my siel wyd oop en neem die voedsel in. Dis groen. Daar is groot, hoë bome. Die gras is groen en die luggie heerlik.
Soos ‘n pro omhels ek die een boom na die ander. Dis wat ek gemis het. Ek is nie ‘n Karoo bossie nie maar ‘n grasgroen graspol, ‘n groot boom wat die wind toelaat om deur my blare te ruis.
My oë glinster van lewenslus. Weg is die moeë vrou wat wou doodgaan van die hitte. Noudat my siel weer kos gekry het, sien ek vir enigiets kans. Al die eer aan ons Koning wat die natuur vir ons gegee het om te geniet.
©Wilma Heinlein