Elize Awona Pucillo
Lees meer oor Elize Awona Pucillo
BRONSKLAS
Januarie 2025 – OOP projek
3.Rebelse held
Gewapend met vaste geloof en moraal
was die stryd vir jou land, jou volk en taal.
Jou stem teen onreg en vreemde gesag,
verraad lê wagtend in die politieke aanslag.
Die roepstem van ‘n nasie; ‘n vryheid bevel,
die omvangryke 1914 rebellie, intens en fel.
‘n Volk gebroke en deur oorlog verskeur,
hoop vasgevang in jou bloed se offergeur.
By Nooitgedacht se omsingelde broeder-vloed,
gloei jou oë met deurdringende strydersgloed
en in die nag val jou vryheid, jou lot is hoogverraad.
Jou opoffering is tog geen misdaad.
Voor die krygshof staan jy onwrikbaar in jou reg –
jou gees bly onoorwinlik – sterk en ingevleg.
Getrouheid lê vasgenestel in jou boere hart,
die geveg is verby, jou mense gevul met smart.
Die lug hang swaar met Smuts se venynige oordeel
‘n oomblik van stilte; ‘n hanskakie het kom steel.
Die salvo se skote het jou hart deurboor
onder die Engelse kroon word jy vermoor.
Jopie Fourie, jou nalatenskap en opregte stryd
is nou in die Afrikaner se geskiedenis in geskryf.
Die simbool van vryheid teen ‘n hoë prys betaal.
Ons sal nooit ophou veg vir ons land en taal!
© Elize Awona Pucillo
JULIE 2025 – Skaduwee van tyd projek
1.Stil-stil terug
In die hoek van ou herinneringe se kamer,
tuimel die sonlig stil deur die kantgordyn
en ek staan tussen die skadu’s van gister,
terwyl tyd soos ou klanke wegkwyn.
Die grasperk waar ek vir ure gelê het,
daar het die wolke hul stories klaar vertel,
want daai plek is nou met ander se drome bedek
en my kinderstem het stil-stil ontwortel.
Ek het geleef in ‘n wêreld sonder tyd se las,
my vuilvoetdae het vinnig verbygewaai
omdat die ure vol nuwe ontdekkings was
en die oomblikke is in my geheue gelaai.
Gister se kind sit nog steeds binne my
en kyk terug met ‘n verlangende vraag;
waar is die modderkoninkryke van klei
en my vergete wense se sagte klaag?
Tyd staan nou stil wanneer ek dink,
en wanneer onthou sy venster oopmaak,
en my kinderstem fluister stil-stil terug.
© Elize Awona Pucillo
2.Asemloos
Die siel wag soos ‘n naelloper;
gefokus, kalm en geduldig
vir die afset skoot
na die ewigheidspoort
tyd vou in soos ‘n hemelse boek
en tussen twee halwe woorde se stilte
hang ‘n asem –
die laaste een
stadig stap ons deur die skeur van tyd
oor die vloer van verganklikheid
is dít die einde,
of net die begin?
Awona
OKTOBER 2025 – OOP PROJEK
1.Wete besef – Italiaanse sonnet
Daar is ‘n hartseer wat saggies groei,
‘n weemoed wat fluister in stille begrip
dat drome stof is wat deur vingers glip,
dat geluk ‘n sug is in die nag se vloei,
die wêreld is nie ‘n groot avontuur
maar voetspore wat verlore raak
en gebroke oomblikke sonder spraak
wat donker denke verf op ‘n skurwe muur.
Liefde is nie ‘n helder, rein sprokie
maar ‘n vlam wat flikker in koue wind
‘n ster wat verskiet voor ‘n wens kon maak,
in hierdie wete lê ‘n eensame ink strokie
wat afsydigheid en eensaamheid verbind
en ek myself vind in die lewe se wrede kaak.
Awona
3.Stil in beweging
Tussen droesem en droom
ossilleer my gees
op ‘n see van donkerte
onder ‘n firmament so breed.
Op ou perkament teken ek
skewe lyne van die reis
om die boesem van die lewe
te navigeer met wysheid.
Die nag se omhelsing is stil
en ek dryf weg in tyd
waar sterre soos antieke letters
lig verskaf en stories skryf.
Elke tree ‘n druppel
wat in oneindigheid verdwyn,
soos ek geluidloos in myself draai
en steeds verder wegraak.
Awona
SILWERKLAS