
Blomtyd (silwer)
Al sou ek ook hoe hard probeer
om dié seisoen se kraakvars fleur
tussen blaaie van ‘n modeboek
in ‘n formele spykerhak
en eenkleur aandrok vas te keer
sou sy my elke keer verras
met nuwe skeppings uit haar kas
blombont haar skouerlose rok
groen loofgevlegte skoen
pienk pruilmond perskebloeiselsoen
op kaleidoskoop blokkieskombers
skryf sy ‘n volkleur liefdesvers
bo-oor die winterlyf van hom
waaruit haar skatervreugde kom
bekoor hom met die geure fyn
van keurtjieblom en roosmaryn
dans hom van sy voete af
erg onbevange, lekker laf
ja, lente is n fraai koket
wat hope lewensvreugde het!
©️Elize Kruger
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir September 2023 – OOP projek