Jongste aktiwiteit:

BLOUKLIP SE BOODSKAP

BLOUKLIP SE BOODSKAP

Geskryf deur Fanus Strydom

2968 woorde

 

Vandag, presies agtien jaar gelede, het Lukas Witbooi se pa Willem die bloublink klip oor sy pasgebore seun se hart laat hang. Almal het daardie dag hier op die einste wal van die Groot Rivier gesien hoe die klip vir ʼn oomblik stil bo die kind se hartjie bly hang het, voordat dit stadig begin  aan-en-af flikker en klop het in reëlmaat met die kind se eie hartklop. Vir ʼn oomblik was die mense stomgeslaan deur die feit dat Willem toe tóg die waarheid moes gepraat het oor die klip se andersoortige toorkrag, veral toe hulle die magiese kleurespel daarvan oor die stil, donker water met hulle eie oë gesien dans het daardie maanligaand.

 

Nou lê Lukas uitgestrek op die naat van sy rug en bak in die son op die einste, plat klipbank waar hy ingesweer is die aand. Hy luister ingedagte na die rustige gekabbel van die kalm water om hom. Hy het vroegdag al sy ganse lyf ingesmeer met bokvet vir die gemoedelike oggendson om die mahoniebruin grein van sy jonkmansvel dieper in sy donker blinklyf in te bak. Op sy borsbeen,  presies bokant sy hart,  voel hy die blinkblou klip raak stelselmatig warmer in die son se welkome helderheid. Toe hy saggies daaroor vryf kan hy sweer hy voel sy hart mis ʼn klopslag of twee, asof die klip direk met sy hart praat. Hy snak liggies na sy asem. Sy pa het hom van vroegkind af al geleer van die klip se onverstaanbare krag en hy het stelselmatig begin gewoond raak daaraan. Maar die klip se andersoortige geklop teen sy bors het nogsteeds vir hom vreemd gevoel en elke keer  ʼn rilling teen sy ruggraat afgestuur.

Eendag en op die regte tyd, het sy pa gesê, sal hy weldra tog die klip se taal verstaan en sal hy weet wat om daarmee te doen. Tot dan moes hy net geduldig wag en solank alles leer wat hy kan van die natuur en die diere hier langs die Groot Rivier.

Iewers stroom-af roep ʼn visarendmannetjie na sy maat en Lukas vergeet vir ʼn oomblik van die klip om sy nek. Met sy oë op skrefies getrek begin hy instinktiewelik soek na die ander voël iewers in die helder blou hemel bo sy kop. Voordat die voël vir ʼn tweede keer roep onder langs die rivier spoor hy die bekende swart-en-witgevlerkte spikkel op vêr in die lug bo hom. Hy fokus sy blik intens daarop en volg die ylingse spikkel-voël op haar moeitelose sweefvlug al met die lugstroom langs. Al hoe laer en laer in langsame sirkels, totdat hy haar spierwit kop duidelik kan sien waar sy dit agteroor gooi oor haar rug,  in antwoord op haar maat se roep hier onder langs die rivier. Sekondes later arriveer die bekende antwoordroep dan hoorbaar by Lukas en weet hy die jag gaan enige oomblik begin. Hy kyk stroom-af en sien net betyds hoe die mannetjie ook geruisloos opstyg vanuit sy boomstomp-uitkykpunt langs die rivier af om sy eie opwaartse spiraal te begin. Iewers in die spieëlgladde waters voor hom weet Lukas dryf daar ʼn vetgevoerde geelbek, reeds hulpeloos gehipnotiseerd deur die onweerstaanbare spiraalvlug van die twee visarende, al hoe nader na die water se oppervlak. Nou is dit net ʼn kwessie van tyd voordat, op presies die regte oomblik, die hulpelose vis sy blinklyf bo die water uit sal steek en die arendwyfie hom moeiteloos uit sy watergraf op sal raap. Lukas vestig solank sy blik op presies die plek waar hy weet die vangslag uit gaan speel. Hy het die ritueel al soveel male dopgehou hier langs die rivier, dat hy sonder moeite weet waar die wyfie se uitgestrekte kloue die water in ʼn oogwink oop gaan klief om die vis op te raap, maar tog bly hy steeds verwonderd oor die bekoorlike spiraaldans van die arendpaar. Iets moes hulle egter die skrik op die lyf gejaag het, want meteens laat vaar hulle hulle gesamentlike jagdans en kies vlerkswiepend koers rivier-af. Watervalle se kant toe. Lukas lê terug en sluit sy oë teen die helder sonlig. Kort voor lank oorval ʼn diep slaap  hom en droom hy die vreemdste droom…

 

Hy sweef meteens moeiteloos oor die water saam met die twee arende. Tussen hulle en so naby hy kan amper aan hulle vat as hy wil. Hy kan sien hoe die wind die klein, wit veertjies bo hulle groot, geel bekke heen-en-weer piets en as hulle hulle koppe draai, dan sien hy wat hulle sien. Saam peil hulle vinnig stroom-af oppad na die stomende watervalle toe. Dan kom iets van vooraf oor die water aangesweef na hulle toe. Stroom-op van die watervalle se kant af en teen die wind in. Geruisloos en helder-blink, maar polsend vinnig soos ʼn flikkerende ligbal oor die staalblou water. Die ligbal peil reg op hulle af. Die twee arende kyk na hom waar hy tussen hulle sweef en knipoog gelyktydig vir hom met twee geel, songevlekte oë. Hy kan sweer hulle glimlag vir hom, asof hulle vir hom iets wil sê, maar hy kan nie hoor wat nie.  Toe die polsende lig ʼn paar meter voor hom oor die water tot stilstand kom, deins die twee arende meteens swiepend aan weerskante daarvan verby en verdwyn buite sig stroom-af. Skielik hang hy alleen, asof versteen in tyd, voor die polsende ligbal. Teen sy bors begin die blouwit klip nou warm klop en flikker in pas met die polsende ligbal bo die water. Sy hart begin wild en onreëlmatig klop in sy bors. Hy probeer wegkom van die polsende lig af, maar die ding trek hom in. Hy het geen verweer, óf wilskrag, om daarvan af weg te kom nie en voel hoe die polsende lig hom totaal omgewe en verblind met glimmende, glinsterende reënboogkleure…

Die volgende oomblik stap hy op ʼn vreemde strand met ragfyn sand soos fyngemaalde meel en ʼn koelblou, kalm see langs hom. ʼn Heerlike koel seebries waai liggies van die see se kant af en streel sagkens oor sy sonbruin vel. ʼn Onverstaanbare begeerte om te gaan swem oorweldig hom en hy stap blindelings in die heerlike, asuurblou water in. Dieper en dieper die see in totdat die water uiteindelik bo sy kop toemaak en die son spieëlagtig bo die wateroppervlak begin dans en vervaag. Sonder om te bekommer oor asemhaal of suurstofnood stap hy al met die seebodem langs. Verby reuse seewierwoude en ontelbare skole blinklyf visse van alle soorte. Die heeltyd voel hy die blouklip pols teen sy hart en volg hy die rigting wat dit vir hom aandui. Aan die agterkant van ʼn reuse rotsgestalte vind hy hom meteens in die middel van ʼn perfekte sirkel-opening diep op die seebodem. Verweerde rotsformasies van ʼn lank-vergete, antieke stad omsirkel die onderwater amfiteater en troon meters, nee kilometers bo sy kop uit, toe hy tot in die middel van die sirkel stap. Teen sy bors klop die klip meteens wild en gloei polsend rooi. Hy stop en kyk op. Vêr bo hom verdonker die verwaterde sonlig stadig maar seker soos wat een of ander reuse dier, of vis afgeswem kom na hom toe. Gevolg deur nog een en nog een. Kort voor lank sirkel tien reuse walvisse stadig om hom en so naby dat hy die pupille van hulle hartseer pieringoë duidelik kan sien. Saam met die walvisse kom honderde dolfyne. Hulle speel en duikel hipnotiserend in-en-uit tussen die rots-ruïnes deur en dans los en vas in groepe van vyf, dan tien, dan twee en dan weer vyf. Al hoe nader in ʼn malende sirkel om Lukas totdat die spiraal-maalstroom hom om-en-om laat tol in die sand. Meteens word alles doodstil en die onderwater sandwolk sak stadig op die seevloer om sy enkels neer. Vanuit die dowwe ligkol vêr bo sy kop daal ʼn donker skaduwee stadig van bo af neer en kom staan reg voor hom. Die half-mens/ half-vis wese het groot, groen oë en ʼn wye visagtige mond. Dit staan vir ʼn oomblik roerloos voor Lukas en tuur intens na die blou klip om sy nek. Lukas voel die reaksie in die klip en toe hy afkyk daarna sien hy hoe dit verander na dieselfde smaraggroen kleur as die oë van die vreemde wese voor hom. Hy wil sy hande oor sy blouklip toevou om dit te beskerm, maar sy arms hang lam langs sy sye af en hy staan onbeweeglik en hulpeloos voor die vreemde vis-mens. Tog, besef hy in sy droom, is hy gladnie bang nie. Eerder onkeerbaar nuuskierig. Dan, sonder om ʼn geluid te maak, kommunikeer die wese telepaties met Lukas en dra aan hom die afgryslikste boodskap oor…

 

Op die wal van die Groot Rivier skrik Lukas wakker vanuit sy nagmerrie-slaap. Papnat gesweet en met die dors wat hortend brand in sy keel, probeer hy regop kom, maar die kloppende pyn in sy kop druk hom teen die klipbank terug. Hy bly vir ʼn oomblik so lê met sy hande oor sy brandende gesig, want waar daar netnou nog ʼn heerlike oggendsonnetjie oor hom uitgehang het, brand daar nou ʼn kokende  bal vuur in die bedompige lug bo hom en verblind hom onmiddellik toe hy daarteen inkyk. Hy vryf die trane en die tydelike blindheid uit sy oë uit en kyk weer versigtig van agter gebakte hande teen die geelwit hemel in bo hom, opsoek na die visarende van vroeër. Sy oog vang ʼn pikswart spikkel tussen die glinsterende hittedeinings en hy sug verlig, dankbaar dat die visarende nog daar is.

“Dan het ek nie so lank geslaap nie.” prewel hy droëmond en kom stadig orent tot ʼn sitposisie. Maar  sy oog vang ʼn tweede spikkel hoog in die lug bo hom … dan nog een en nóg een.

“Aasvoëls…?”  sê-vra hy verbaas terwyl hy die al-hoe-groterwordende sirkel stadig sien afspiraal ondertoe. Eers dan tref die oorweldigende stank hom. En die doodse stilte. Behalwe vir die vlymskerp geskril van die sonbesies…

“Die rivier!”

Lukas steier verskrik orent en strompel oor die vuurwarm klippe na die rivier toe. Of eerder na waar die rivier veronderstel is om te wees. Waar die water ʼn uur gelede nog blink-blou en wyd tussen die groengebosde walle deurgegly het, is daar nou net ʼn karige stroompie vol slikgroen slym en modderige skuim hier en daar te siene tussen die witgekalkte, ontblote rotse. So ver as wat hy kan sien lê duisende verrottende viskarkasse in die kokende son op die hardgebakte, gekraakte modderbodem waar die rivier vroeër was. Met een hand voor sy mond en neus om die wolke vlieë en muggies weg te keer, strompel hy verskrik tussen die stinkende poele deur opsoek na lewe en rede vir die slagting.

“Waar’s die water heen…?” vra hy geskok en kyk verbaas stroom-op se kant toe (of wat netnou nog stroom-op was!), berg se rigting en na die ruie reënwoudklowe.

Toe Lukas die swartgebrande hange van Platberg in die verte gewaar en die vuilgrys rookwolke oor die reënwoud uit sien borrel begin sy bene outomaties met hom hardloop in die rigting van die vuur. En na die kraal met sy mense aan die voet van die brandende berg…

“Pa, Ma!”

Hy klap en stoei teen die uitgebrande bosse en takke in sy pad en elke hier en daar lê ʼn verkoolde dierkarkas tussen die swartgebrande klippe. ʼn Skilpad,  ’n Rietbokkleintjie met oopgesperde oë…

Dan doem die donker klipwal meteens duiselingwekkend en onheilspellend hoog voor hom op, asof vanuit nêrens.

“Wat de…?”

Lukas versteen in sy spore en stap versigtig nader aan die growwe klipmuur in die rivierbedding voor hom. Toe hy daaraan vat voel die grofgekapte klippe koud en klam onder sy bewende vingers. Hy vind haastig vastrapplek teen die growwe klipwand en klouter halsoorkop teen die klipwal uit tot bo. Toe hy uiteindelik oor die rant van die wal uitrys val hy amper agteroor van skok. Voor hom uitgestrek lê die enorme dam onheilspellend stil en bleekwit in die rokerige lig. Die hele vallei is onder water en van die kraal en sy mense is daar geen teken meer nie.

“Lukas?!”

Die skielike stem agter hom laat hom byna sy balans verloor en hy tuimel amper vooroor die vreemde, stil water in.

“Koos..?”

Koos Patat is sy beste vriend en lewenslange jagmakker, maar die Koos wat nou hier voor hom onder die wal op die uitgebrande grond staan, is nie sy Koos nie. Hy is brandmaer en vooroor gebuig. Sy oë peul half by sy skedel uit en die verwilderde kyk in hulle maak vir Lukas bang.

“Wat gaan aan met jou?” vra Lukas en wys terselfdertyd na die stil, grys watermassa agter hom oor die wal. “Waar’s die rivier…en die stat?!”

“Waar was jy, Lukas?”

Koos Patat kyk met vêr-af oë op na Lukas en waai nie eers die vlieë weg wat om sy gebarsde lippe saamkoek nie.

“Ek het aan die slaap geraak…”

Lukas wys na die plat klip in die droë sandbedding waar die rivier netnou nog sterk geloop het langs hom toe hy op sy rug gaan lê het.

“Lukas,” val Koos hom stadig in die rede “jy was weg vir twee jaar…het net spoorloos verdwyn. Al wat ons gekry het was jou knapsak daar op die klip langs die rivier waar jy dit gelos het.”

Lukas sien sy gehawende Springbokvelknapsak oor Koos Patat se maer skouerknop hang en hy klouter haastig teen die klipmuur af en kom staan in die warm sand voor Koos. Hy pluk die knapsak van sy benerige skouers af.

“Jy’s bleddie mal, man. Ek het aan die slaap geraak…gedroom. Dis al!”

Koos Patat bly net kyk na Lukas met geelwit uitpeuloë.

“Waar’s my pa en ma? En die mense…?!” Lukas wys verskrik met ʼn onseker hand na die afgebrande veld om hulle.

“Hulle is dood, Lukas…almal dood.”

Koos Patat kry ʼn hartseer kyk in sy uitpeuloë en wys na die aasvoëls wat ver bo hulle koppe in die blinkwit lug rondsirkel.

Lukas stamp vir Koos hard teen sy benerige bors. “Wat bedoel jy dood?!”

Koos steier sonder weerstand op onseker bene en val stadig agteroor. Toe hy op sy sitvlak in die warm sand te lande kom, begin hy vir Lukas vertel van die dag toe hy sy knapsak daar langs die rivier sien lê het…

Hy vertel vir Lukas hoe die Bleekvelle kort daarna met waens en osse volgelaai met swaar masjinerie en toerusting in die vallei opgedaag het. Hoe hulle die klipkranse langs die rivier met vreemde, vuurkerse oop laat bars het met oorverdowende geraas.

“ Soos donderweer en bliksemstrale,” sê Koos en wys met ʼn benerige arm bo sy kop.

Hy vertel hoe die mense van die stat oorval deur vrees op vlug geslaan het die bosse in. Meeste van die mans en seuns is gou ingehaal deur die Bleekvelle en op die plek gevange geneem en in rye met rieme agter die perde vasgemaak. Hulle is op ʼn drafstap teruggedwing vallei toe agter die perderuiters aan met skietende gewere en swepe wat oor hulle kaal rûe bly klap het, terwyl die verskrikte vrouens en kinders agter hulle die bosse ingevlug het. Vir twee, langs jare het hulle soos slawe gewerk om die dam se wal te bou.

“Vir besproeiing…”.

Koos Patat en staar net stil voor hom uit na waar die rivier eens op ʼn tyd voor hulle verby gestroom het.

“Be-wat?!” wil Lukas ontsteld weet.

“Besproeiing,” sê Koos weer die vreemde woord en skud sy kop stadig heen en weer, terwyl hy wys in die rigting van die damwal agter hulle. “Die Bleekvelle het die bosse begin afbrand en die grond begin omploeg met hulle osse en vreemde trekmasjiene. Toe het hulle leivore en keerwalle begin uitlê vir die slawe om uit te kap tussen die kliprante deur. Om die water mee uit te keer uit die dam uit. Glo om druiwestokke te plant vir die Hollanders in die Kaap…”

 

Koos praat nou omsamehangend, asof hy nie eers meer bewus is van Lukas voor hom nie.

“Hoe is Pa dood?” val Lukas hom in die rede.

“Hy het hom dood gewerk. Die swaar sakke vol klippe het net te veel geword vir hom. Hy het net eendag neergeval onder die gewig.”

Koos wys met ʼn bewerige hand in die rigting van die rantjie. “Sy kruis staan daar anderkant tussen die Kokerbome…”

“En Ma…?” wil Lukas saggies weet, te bang om regtig te weet wat met haar gebeur het.

“Sy’t haar dood getreur, ” antwoord Koos stadig.  “…Oor jou wat so spoorloos en sonder woord loop staan en verdwyn het.”

Lukas steier terug met sy hand voor sy verskrikte mond.

 

Toe het hy daardie dag uit die warm sand uit opgespring en al gillend weggevlug van Koos Patat en sy uitpeuloë af. En van sy uitgemoorde en gestorwe mense af. Hy het al vallende langs die droë rivierloop afgestrompel watervalle se kant toe. Na die plek waar hy die blouwit lig sien roep het na hom daardie oggend nog …

 

Niemand het hom ooit weer lewendig gesien nie, maar party sweer hulle sien hom party aande, altyd  met volmaan, op-en-af loop op die dam se wal terwyl hy oor die stil water voor hom uitkyk, asof hy soek na iets of iemand.

Dan hoor hulle hom roep na ʼn vreemde “visman” of iets en iets prewel van ʼn blouwit lig wat hom ingesluk en weggevat het watervalle toe… see toe. En hoor hulle hom kla van sy vreemde nagmerriedroom daar langs die plek waar die rivier nog vanoggend geloop het.

En, so sweer die mense, terwyl hy so op-en-af loop op die wal, pols die einste bloublink klip aan ʼn dassieleerriempie nogsteeds om sy nek in die helder maanlig en flikker saam met die bang geklop van hulle eie ontstelde harte waar hulle hom van agter die bosse uit dophou…

 

© Fanus Strydom

September 2023




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed