BONSAIBOOMPIES – INTEGRALE DEEL VAN DIE MIKRO-KOSMOS? – {SILWER} –
Om bogenoemde vraag vanuit ’n Christelike gesigshoek behoorlik te kan beredeneer, moet ons eers kyk na wat die rentmeesterskap taak is wat God die mens opgelê het.
In Genesis 1:28 gee God aan die mens opdrag om Sy skepping, (en dit sluit die mikro- asook die makro-kosmos in), te:-
• ‘onderwerp’ en daaroor te ‘heers’. Dít impliseer dat die mens die skepping, binne die raamwerk van sy rentmeesterskap, met gesag moet onderwerp aan sy heerskappy. (Wat ’n geweldige groot taak lê God hier aan die mens op! Faal of slaag die mens hierin? Kyk maar bietjie rondom jou en oordeel self.)
In Genesis 2:15 gee God aan die mens opdrag om Sy skepping, (en dit sluit weereens die mikro- asook die makro-kosmos in), te:-
• ‘bewerk’ en te ‘bewaak’. Dít impliseer om met volgehoue entoesiasme, nougesette versorging en verantwoordelikheid Sy skepping, wat kosbaar is, te beskerm.
Die vraag is nou: Wat is hierdie mikro-kosmos wat onder die mens se rentmeesterskap sorteer? Waarna verwys ons as ons van die mikro-kosmos praat? In ’n neutedop is die mikro-kosmos ’n miniatuur weergawe van makro biologiese ekosisteme en/of sosiale strukture, wat selfstandig funksioneer. Wanneer ons verwys na die mikro-kosmos binne die raamwerk van hierdie artikel, verwys ons na bonsaiboompies, daar hulle kleiner weergawes is van die bome wat ons in die natuur vind.
Kan ons nou teen hierdie agtergrond redeneer dat bonsaiboompies ’n integrale deel van die mikro-kosmos van God se skepping is? Daarom, ’n lewende simbool vir die simbiose van die natuur, asook die kreatiwiteit van die mens se gees. God het immers volgens die Bybel die mens geskape met ’n kreatiewe ondersoekende gees.
In sy alledaagse handel en wandel is die mens gewikkel in die stryd om balans en harmonie in sy denke te orden. Soos wat Joubert in sy boek ‘Die groot Gedagte’ daarop wys hou die menslike oog van orde. Daarom is die menslike oog voortdurend op soek na prentjies wat by die orde van sy brein inpas. Die uiterste vorm hiervan is ’n voortdurende strewe na perfeksionisme, dít net terloops.
Die antieke Oosterse kunsvorm van bonsai, tesame met die kulturele betekenis daarvan, het grense en kulture oorskry. Dít het tot gevolg gehad dat die invloed van Zen-Boeddhisme daarmee saam na Westerse lande gebring is.
Gevolglik het hierdie Oosterse kunsvorm in die harte kom kruip van menige liefhebber van miniatuurboompies. Tereg verwys Pieter Laubcher na bonsai in sy boek oor bonsai as ’n ‘kuns in die kleine’.
Binne die Oosterse filosofiese denke word daar met die verbouing van bonsai gepoog om harmonieuse balans van opponerende kragte en die geestelike onderlinge verbondenheid met die natuur te bewerkstellig. Sodoende word die strewe, volgens hulle, na skoonheid en wysheid ondervang. Die deurgaanse versorging van bonsaiboompies, oftewel die sikliese versorging daarvan, simboliseer vir die aanhangers van Oosterse Zen-Boeddhisme, geluk en voorspoed asook ’n lang lewe, binne die ewige siklus van lewe, dood en wedergeboorte. Laasgenoemde weerspieël dan ook die Chinese konsep van yin en yang. In ’n neutedop is die konsep van yin en yang, ‘n siklus van teenoorgestelde, maar onderlinge verbonde selfbestendigheid. Die diepere betekenis van yin en yang is vir doeleindes van hierdie artikel nie ter sprake nie, daar dit buite die skopus van hierdie artikel geleë is. Kan ons dus hierin die siening, oftewel die geloof in reïnkarnasie regverdig? Indien wel, op welke wyse harmoniseer laasgemelde met God se opdrag van rentmeesterskap?
Vir die Chinese is bonsai byvoorbeeld die simbool van hul kulturele erfenis, waarin ook hul diepe eerbied vir die natuur verweef is. Kan ons rentmeesterskap, soos wat ons dit vanuit ’n Christelike perspektief verstaan, hierby inlees? Kyk die Chinese dalk vanuit ’n ander gesigshoek na die natuur en rentmeesterskap?
Globaal gesien is bonsai ’n kunsvorm wat tydelike en ruimtelike grense oorskry. In die proses word die essensie van die Oosterse filosofiese nuanses en artistieke bemeestering van bonsai, asook die menslike ervaring daardeur tot eenheid saamgeweef.
Die kweek van bonsai as kuns vereis deurlopende aandag aan detail. Daarom is geduld en deursettingsvermoë van kardinale belang. Dít opsigself, is ’n weerspieëling van die menslike vermoë tot toewyding. Laasgemelde is dan ook ’n essensiële vereiste vir effektiewe rentmeesterskap.
Die vraag is of die betrokke boom, wat as ’n selfstandige entiteit in die natuur funksioneer, nie nou sy ‘selfstandigheid’ verloor as gevolg van die mens se ‘ingryping’, deur dit as bonsaiboom te kweek of uit die natuur te haal en as bonsaiboom op te lei nie? Anders gestel, haal die mens nie nou ’n boom wat God in die makro-kosmos geplaas het uit die makro-kosmos en verdwerg dit dan om in die mikro-kosmos te funksioneer as entiteit wat ten volle van die mens vir sy voortbestaan afhanklik is nie? Moet die kweek van bonsaibome, hetsy deur middel van saad, of die verdwerging van groot bome uit die natuur, gesien word, soos voormeld as sprekende bewys van die mens se kreatiwiteit? Of as die mens se vertolking van sy opdrag van ‘onderwerp’ en ‘heers’ daaroor, binne die breë raamwerk van sy opgelegte rentmeesterskap?
Die kuns om miniatuurbome, bekend as penjing, te kweek het weer sy oorsprong in antieke China. Hierdie kunsvorm het as ’n samesmelting van Taoïstiese en Boeddhistiese filosofieë, te voorskyn gekom.
Binne laasgemelde geloofsdenke is die doelbewuste manipulasie van die natuur gesien as ‘n manier om geestelike balans en harmonie te bewerkstellig. Hoe moet hierdie ‘doelbewuste manipulasie van die natuur’, vertolk word? As ’n manier om die natuur, by name die makro-kosmos, te beheer, deur ’n sogenaamde ‘geestelike balans en harmonie te probeer bewerkstellig’? Is dít rentmeesterskap soos wat God dit bedoel het binne die parameters van Genesis 1:28 en Genesis 2:15, soos voormeld? Is die konsep van beheer en manipulasie versoenbaar oftewel sinonieme begrippe?
In sy boek ‘Bemeester Bonsai’, huldig Pieter Loubser die mening dat die materiële wêreld van glas en beton gevul met kunsmatighede, die hindernis is tussen die Westerling en die natuur. Dit is dan ook volgens hom, die rede waarom die Westerling wat die kuns van bonsai beoefen, dit ‘nie maklik’ sal bemeester binne die denkprosesse van Zen-Boeddhisme nie. Gevolglik sal die Westerse bonsai-kunstenaar, indien hy bonsai wil beoefen binne die Zen-Boeddhistiese denkwyse ‘om die natuur in die kleine te herskep’, weg moet breek van sy bestaande instinktiewe lewenswyse. Hierdie ‘herskep in die kleine’, (mikro-kosmos), behoort vertolk te word as ’n spieëlbeeld van dit wat God in die makro-kosmos geskep en geplaas het, dan nie?
Die deursnee bonsai-kweker of bonsai-versamelaar, in veral Westerse lande, is nie eers bewus van die Oosters geloofskonnotasie van Boeddhisme en Taoïstme, wat daar aan bonsaiboompies geheg word nie. ‘Dis net vir my mooi’, is die opmerking wat jy bykans deurgaans by Christene kry wanneer bonsaiboompies die onderwerp van bespreking is.
Deur bonsaiboompies as stokperdjie te kweek, het ek as Christen intens bewus geraak van my taak as rentmeester van God se skepping op aarde wat die bewerking en bewaring van die ekologie betref.
Bykans al die Christen bonsai-kwekers waarmee ek gesels het in my navorsing om hierdie artikel te kan skryf, het bevestig dat hulle ‘n dieper waardering vir die intrinsieke waarde van die natuur, en spesifiek die mikro-kosmos, het. Voorts het hulle ook bevestig dat hulle tot die besef gekom het dat daar ’n onderlinge verbondenheid van alle lewende wesens is, waarin die mens as rentmeester van God, vooropstaan.
Eerbied vir die makro-kosmos, sê hulle, word weerspieël in die mikro-kosmos deur die ‘rustige, kontemplatiewe atmosfeer wat die kuns van bonsai omring.’ Daardeur word daar ’n diepe gevoel van balans en harmonie teweeggebring by bonsai-kwekers en die beoefening daarvan as kuns, synde uiting van die talent wat God aan die bonsai-kweker gegee het.
Dus kan ons tot die gevolgtrekking kom dat die mens deur bonsai te kweek simboliseer dat hy omonwonde oor die vermoë beskik om as rentmeester van God se skepping in harmonie met die natuur en meer spesifiek die mikro-kosmos, te leef. Daardeur word die mens dan ook meer bewus van die delikate balans van ons ekosisteem waaroor God hom as rentmeester aangestel het. Die kweek en oplei van bonsaiboompies word as’t ware ’n ‘metafoor’ vir die strewe na balans en harmonie op die bonsai-kweker se lewensuitkyk.
Ten slotte word daar ’n artistieke konnotasie aan bonsaiboompies geheg daar dit ’n spieëlbeeld van bome in die natuur, (makro-kosmos), is, wat in miniatuur, (mikro-kosmos), ‘geskep’ word. Ek kan dit nie beter stel as wat ’n toonaangewende geleerde en praktisyn van Chinese Penjing, ene Dr Li, dit stel in Zhao Qingquan se boek: Penjin, wat handel oor Die Chinese kuns van Bonsai:
‘Binne die domein van bonsai-verbouing word artistieke uitdrukking in ingewikkelde, doelbewuste gebare gedistilleer, terwyl meesterlike hande die boom se miniatuurvorm lok en vorm in ‘n lewende, asemhalende kunswerk.
Elke versigtig gesnoeide tak, elke fynbedrade kurwe en elke noukeurig versorgde blaar dien as ‘n verklaring van die ambagsman se vaardigheid en toewyding.
Die bonsaiboom word ‘n doek waarop die kunstenaar ‘n genuanseerde verhaal van tekstuur, vorm en balans skilder.
Soos die boom groei en ontwikkel, so ook die kunstenaar se visie, wat aanpas by die organiese ritmes van die natuurlike wêreld.
Die bonsai word ‘n dinamiese, drie-dimensionele beeldhouwerk, waar elke element noukeurig gekalibreer word om ‘n harmonieuse geheel te skep.
Die kunstenaar se kwashale word vervang deur snoeiskêre, aangesien die boom se essensie gedistilleer word in ‘n mikro-kosmos van elegansie en verfyning.’
Kan ons nou met reg sê dat hierdie miniatuurwêreld van bonsai ’n integrale deel van die mikro-kosmos is?
—————————————oo00oo————————————
© Pieter Mostert
VOETNOTAS
• Die Hebreeuse woord ‘kabash’, wat met ‘onderwerp’ vertaal is in Gen 1:28, het in konteks van die skeppingsverhaal die betekenis van ‘om te onderwerp’, en te ‘onderhou’.
• Die Hebreeuse woord ‘radah’, wat as ‘heers’ vertaal is in Gen 1:28, het in konteks van die skeppingsverhaal die betekenis van die uitoefening van gesag of beheer, in die konteks van bestuur oftewel rentmeesterskap.
• Die Hebreeuse woord ‘shamar’, wat in Gen 2:15, as ‘bewaak’ vertaal is, het in konteks van die skeppingsverhaal die betekenis van ‘om op te pas’ of ‘wag te hou oor’.
• Die woord ‘simbiose’, is saamgestel uit twee Griekse woorde naamlik, ‘syn’ wat saamwees beteken en ‘bios’ wat lewe beteken. Dus beteken die woord simbiose letterlik ‘saamlewe’ met verwysing na ‘enige direkte en intieme saamleefverhouding tussen twee organismes van verskillende spesies’.
BRONNELYS
• Die Bybel 1953 vertaling. Bybelgenootskap van Suid- Afrika, Roggelbaai, Kaapstad.
• Joubert, G. 1998. Die Groot Gedagte. Tafelberg-Uitgewers Bpk. Kaapstad.
• Loubser, Pieter. 1993. Bemeester Bonsai. Delta Boeke (Edms. Bpk), Parklands
• Loubser, Pieter. 2008 Bonsai: Kuns in die Kleine: Griffel Media.
• Webb, M. De Villiers, M. Du J.J. & Du Toit, P. 1983 Verklarende Biologiewoordeboek: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Beperk, Bloemfontein.
• Zhao Qingquan. 2012. Penjing: Die Chinese kuns van Bonsai. Sjanghai Pers- en Uitgewersontwikkelingsmaatskappy.
• F.F. Bruce. ed. 1971. Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words. Flemming H. Revelal Company, Old Tappan, New Jersey.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2025 - OOP projek