Jongste aktiwiteit:

Vaderskap

Brons

Vaderskap

Vaderskap begin al baie lank voor ‘n kind se geboorte. Daardie dag toe jy as man jou keuse gemaak het om ‘n lewensmaat te neem, was dit nie net ter wille van seks nie, want dan is die verhouding gewaarborg om te misluk. Met die sluiting van daardie verbintenis het jy geweet dat vaderskap sou volg, dat jy vir jou seun of dogter, of albei of selfs meer as een van elk, die voorbeeld van onvoorwaardelike liefde en aanvaarding sou wees. Jy het nie voorwaardes gehad nie. Of jou kind gesond of siek, normaal of gestremd, geniaal of minder slim sou wees, was nie onderhandel nie. Selfs die geslag was onbelangrik. Al wat saakgemaak het, was die voorreg om ‘n pa te mag wees. Jy het daardie kind of kinders sien groei, sien foute maak, vermaan, gedissiplineer, maar altyd in liefde en sou hom of haar of hulle nooit verwerp. Selfs diep teleurstellings sou jy aanvaar, al het dit seergemaak. En deur siekte, deur eksamens en deur krisisse het jy hulle bygestaan. Jy het hulle op die lewe voorberei, soms harder gewerk en oortyd ingesit, sodat hulle meer kon hê. En hulle het groot geword. En verantwoordelik, al het dit soms vir jou gevoel of hulle nooit daar gaan uitkom nie.

Jy het vir hulle gebid, saam. met hulle gebid en jy het hulle aan die Here voorgestel en gehoop en vertrou dat hulle hullewenspad saam met hom sal loop.

Maar vaderskap beteken ook om te laat gaan, amper soos die arend wat die kleintjie uit die nes skop. Om dalk nooit weer te sien, soos toe ek my seun moes begrawe, ‘n seer wat net ‘n ouer kan verstaan. Of dalk is die laat gaan oorsee. In ‘n ander familie in. Soms die hartseer dat daardie kind kies om die verhouding te beeindig. Ook’ n seer wat net ‘n ouer sal verstaan.

Maar vaderskap is meer. Ek dink aan die talle vaderlose kinders, die voorreg hulle ontneem. Die voorreg wat ek kon hê om ook vir hulle vader te wees. Ook hulle kon ek sien groei, sien foute maak, vermaan, dissiplineer, maar altyd in liefde en sou hulle ook nooit verwerp of afskryf, selfs ten spyte van diep teleurstellings al het dit seergemaak. En deur siekte, deur eksamens en deur krisisse het ek hulle bygestaan. Ek het hulle op die lewe voorberei, soms harder gewerk en oortyd ingesit, sodat hulle meer kon hê. En hulle het groot geword. En verantwoordelik, al het dit soms vir my gevoel of hulle nooit daar gaan uitkom nie.

Ek het vir hulle gebid, saam met hulle gebid en het hulle aan die Here voorgestel en gehoop en vertrou dat hulle hul lewenspad saam met hom sal loop.

Ook daar, nog eintlik meer, het vaderskap beteken om te laat gaan, om dalk nooit weer te sien of van te hoor. Want hulle huis is skielik nie meer hulle huis nie. Sommige het kontak bly behou. Ander het stil geraak en ek wonder oor hulle. En hulle is in ‘n ander familie in. Soms was daar die hartseer dat daardie kind gekies het om die verhouding te beeindig, want dit was nooit dieselfde nie, nie vir hulle nie. Dit was nooit ‘ n biologiese band nie, nooit werklik hulle tuiste nie, maar vaderskap stel nie voorwaardes nie. Vir my is dit biologies genoeg.

En dan is daar daardie spesiale stuk vaderskap, die vaderskap van wedersydse keuse. Die vaderlose seun wat in my hart kom. nesskrop. Die vaderlose seun wat my as vader aanneem. En ek vir hom. My onvoorwaardelike vaderskap. Die voorreg wat ek kan hê om ook vir hom vader te wees, om hom te sien groei, te sien lag, te sien huil en te sien foute maak. Die seun wat ek, soos my eie, ook vermaan, dissiplineer, en met vaderlike liefde ook nooit verwerp of afskryf nie, selfs ten spyte van diep teleurstellings. En deur siekte, deur eksamens en deur krisisse, deur teleurstellings wil ek hom ook bystaan. Ek wil hom ook op die lewe voorberei, soms meer van myself gee sodat hy meer kan hê.

Ek bid vir hom, saam met hom en tree vir hom in, want hy is in alle opsigte my seun. Maar ek weet eendag sal ek hom ook moet laat gaan.

©️Henn




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed