Jongste aktiwiteit:

OUMA SKOP DIE EMMER ASSEBLIEF (Silwer)

Tema: `n Kerskomedie

Klein Johantjie kuier vir die Kersvakansie by sy oupa op die plaas. Die Saterdagoggend gaan hy saam met Oupa dorp toe. Op pad Koöperasie toe steek Johantjie skielik vas.
Kyk! Oupa! Kyk daardie mooi fiets’, sê hy blinkoog van opgewondenheid. ‘Oupa, koop asseblief vir my daardie fiets vir Kersfees. ‘Ag toe O-u-p-a, asseblief O-u-p-a!’, neul Johantjie.
Nie vandag nie my seun’, sê Oupa beslis.
Johantjie laat hom egter nie so maklik ontmoedig nie.
‘Maar wanneer dan O-u-p-a! Dis dan een van die dae Kersfees, Oupa?’, sê Johantjie traanoog.
‘Eendag wanneer jou ouma die emmer geskop het, my seun’, sê sy Oupa tot groot vermaak van die fietswinkeleienaar.
Johantjie het elke dag aan Oupa se ‘belofte’ gesit en herkou. Die dag voor Oukersaand kon hy nie meer uithou nie. Hy vat ’n emmer en hardloop na Ouma toe waar sy besig is om die Kersete voor te berei.
‘O-u-m-a! sê hy op ’n smekende toon. ’Oupa het belowe as Ouma die emmer skop, koop hy vir my ’n fiets.’
Ouma kyk geskok op en dink … die blikslaer van ’n ou man. Hoe kan hy so iets vir die kind sê?
‘Skop asseblief die emmer, O-u-m-a, ag toe asseblief O-u-m-a, sodat ek daardie fiets kan kry, asseblief O-u-m-a!’, neul Johantjie voort.
Terwyl sy haarself regruk glimlag sy vir Johantjie en skop die emmer dat hy daar trek.
Oukersaand kry Johantjie sy fiets. Nogal ’n spoggerige rooie met ’n valhelm daarby. Van Ouma se emmerskoppery het net ’n blou toon oorgebly.
——————————ooo000ooo—————————
©Pieter Mostert
[Silwer]
[Woordtelling = 249]

 

 

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed