By Botrivier lê ‘n spikkelveer
O Botrivier ek sien jou soms
so lê in die wind se waai
met jou meeue wat in swerms
oor jou strandmeer swenk en swaai.
Die mis rol uit die suide in
om oor valleie te kom hang
en in dynserige beelde
word jou skoonheid vasgevang.
Langs jou donker oewerwaters
lê die skuite stil gestrand –
ek verbeel my nou hul kleure,
o hoe wit skakeer jou sand.
Ek onthou die slingerpaadjies
(daardie wolke voer mens mee)
verby duine, riete, bosse –
oor ‘n houtbrug na die see.
Sal ek dan immer wonder;
waar kom die hunkering vandaan –
is dit die sonlig oor jou dale,
of hoe jou berge net daar staan?
O Botrivier, ek sien nog soms
in my geestesoë jou meer
en tussen opdrifsels, naas vleiland
– jou tarentaal se spikkelveer.
© Carma Shaw
27 April 2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.