Dankbaarheid bly
Eensklaps is alles waarna uitgesien is, iets van die verlede. Kersfees. Oujaar. Nuwejaar. Droomverlore vakansies langs goue strande.
Die skole het vandag begin. Dit beteken redelike chaos. Ook waarskynlik ’n nuwe roetine, of dat daar van voor af by die ou roetine ingeval moet word. Die meeste mense wat met verlof was, is terug by die werk. Diegene wat nie met verlof was nie, is steeds by die werk.
Die seesand en plaasgrond is afgeskud en afgewas. Die heerlike sonbruin begin selfs effens verbleik. Kosbare herinneringe is op sosiale media met vriende, familie en enigiemand wat wou weet, gedeel.
Nie almal het egter dieselfde soort herinnering aan die einde-van-die-jaarroesemoes nie.
Daar is mense wat finansieel en fisiek swaarkry.
Vir hulle het die feestyd nie opwindende betekenis nie. Daar word opgesien na Kersdag omdat hulle nie ’n spesiale gereg kan eet of iets besonders kan doen nie. Hul familielede is ver. Van hulle het nie familie nie.
Hulle het skaars van Kersdag herstel of hulle moet Nuwejaarsdag te bowe kom. Die bietjie moed wat hulle bymekaar geskraap het, word weer platgevee.
Gesels jy met die mense rondom jou, getuig hulle van ’n feestelike feestyd en oor mense wie se hande en hart oopgegaan het om die tyd ook vir húlle spesiaal te maak.
Daar was mense wat kospakkies afgegee het of moeite met ’n spesiale geskenkie gedoen het; mense wat verby die blink en plastiekagtigheid van ’n kommersiële feestyd gekyk het en die ware betekenis raakgesien het, ongeag kultuur en geloof.
Dan is dít wat mense onthou – die uitreik na mense wat minder as hulle het.
http://www.netwerk24.com/ZA/Noordkaap/Nuus/sonbruin-verdof-dankbaarheid-bly-20170110
2 Kommentare
-
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die INK gedenkbundel projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Altyd so lekker om Karin se werk te lees