Jongste aktiwiteit:

Die lewe is ‘n reis

Die lewe is ‘n reis

Die lewe is ‘n reis, ‘n reis wat ek onderneem in verskillende fases van my lewe.
As ek terugdink aan my voorskoolse kinderjare voel dit of dit die belangrikse reis in my lewe was – dit is die fase wat die meeste impak op die res van my lewe gemaak het want dis waar ek ‘n persepsie van myself, my geliefdes en my omgewing gevorm is.
Dit is waar die grondslag gelê is vir my liefde vir my gesinslede, die plaas en die natuur en waar ek ‘n gewete ontwikkel het. Ek onthou so goed die liefdevolle rol wat my ma gespeel het om nie net pleisters op seerplekke te plak nie, maar ook my siel gepleister het met haar sagte manier van liefde gee en betig. Sy het my laat besef al is ek hoe belangrik vir haar, is ek nie die spil waarom alles draai nie, maar dat ek ander se behoeftes ook in ag moet neem.
Dis waar my pa my geleer het dat ek vir my omgewing moet omgee en nie plastieksakke rondstrooi nie want skape vrek as hulle dit eet. En ek dink die grootste lewensles wat my pa my geleer het is jy gee nie op nie. Hy het altyd vir my gesê daar is nie ‘n woord soos “kannie” nie. En dan het ek maar weer probeer tot ek iets reggekry het.

Pa, vandag verlang ek na die plaas
en na die tye toe ek laas
saam met pa kon kraal toe stap
om koeie te gaan melk
van die nuwe kalf se bies te tap
en hanslammers te voer

ek kry die reuk van kraalmis
en die water in die dam
as dit uitloop in die leivoor
waar ons erdwurms kon vang
die geur van vars lusern
en die soetdoring se gom

ek sou weer saam met pa
wou gaan waatlemoene pluk
goudgeel ryp spanspek
en groenmielies vir my ma
met die soet geur van die grond
ai, ek verlang na pa

ek wil weer een keer ná die reen
in die blou jeep saam met pa
op modderpaadjies ry
en deur waterpoele plas
die bergpas op in donkiegear
op soek na salie en rabas

pa’t my van die veld geleer
van droogtes en van reën
saam het ons die sterre getel
en stories opgemaak
“enigiets is moontlik
as jy in jouself kan glo”

pa, in jou hart was jy ewig kind
met jou gedagtes in die wind
en die lag in jou oë
as iewers die reën uitsak
jou stem sal ek vir altyd hoor
jy’s die hartklop in my oor

My ouma se liefde vir blomme en tuinmaak het op my ‘n blywende indruk gemaak en ek onthou veelkleurige fyn blommetjies met waterdruppels op, en die jakobregops wat ons geplant het ten spyte van ‘n harde wêreld met brak grond en brak water. Die reuk van nat grond, die geluid van kabbelende water en die spit van die graaf laat my vandag nog terugdink aan heerlike tye wat ek saam met haar buite deurgebring het terwyl sy my van die belangrike dinge in die lewe vertel het. Sy het by my ‘n liefde vir lees gekweek en ek het saans by haar in die bed gelê terwyl sy vir my stories uit die Gebroeders Grimm gelees het. Ons was ‘n gesin waar baie gelees was en die Afrikaanse Kinderensiklopidie, al tien eksemplare van hulle, was vodde gelees voor ek die skool verlaat het. Ek besef nou eers hoe gelukkig ek was om ‘n ouma by my in die huis te kon hê in my vormingsjare.
Ou plaashuis
ek verlang na die ou plaashuis
op ‘n vlakte wyd en oop
met ‘n klipkoppie daar naby
waar die dassies vry kan loop
‘n windpomp wat al sugtend
water in die sinkdam stort
en ‘n reusegroot ou bloekomboom
waar uile in kan droom

‘n huis met ‘n wye stoep
waar smorens vroeg die rooidag roep
waar ek met koffie in die hand
kan uitkyk oor my hinterland

‘n voorhekkie wat knarsend
jou tuiskoms uitbasuin
met ‘n hond wat al die heeldag
geduldig vir jou wag

‘n houtdeur, skerm teen die wind
as reendruppels kletter op die sink
in die koolstoof brand kameeldoringhout
en my liefde gloei soos suiwer goud

Skool was ‘n reis op sy eie met sy eie waarnemings, ondervindings en lesse. Eers Daan Viljoen laerskool op Keetmanshoop waar daar nog by die koshuis met steenkool vuur gemaak is en die toilette by die skool nog longdrops was! Hier is my eerste vriendskappe buite my gesin gevorm en het ons gespeel soos ons nog daardie jare kon – bok-bok staan styf, kennetjie, klip-klip, vroteier, goed wat kinders nie meer vandag ken nie. Ai die hartseer van ‘n sub-A’tjie wat moes koshuis toe en vir wie die week teen Donderdag baie lank word. En die juffrou wat my troos met die belofte dat my pa moremiddag hier gaan wees. Die lang stort waar ons tien op ‘n slag gestort het en hard geval het tydens ons kapperjolle op ‘n seepbesmeerde vloer. Hoeveel keer het ek nie soggens die trap sit-sit afgegly in my haas om betyds by die skoolry te kom nie. Daar in die koshuis moes ons self ons sokkies was, ons kamers skoonmaak, die vloer politier en blink vryf. En dit was goed vir ons. Ek ruik vandag nog die koskamer waar ons kosmandjies met beskuit en biltong gebêre is en waar ons na middagstudie kon gaan kos uithaal om saam met ons middagkoffie te geniet.
En toe eers standerd ses in die Keetmanshoop Hoërskool en daarna Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch.
Hoe sal ek ooit die romantiek van ‘n twee dae lange treinreis vanaf Keetmanshoop na Stellenbosch vergeet. Die pragtige landskappe wat stadig verbygly – die suide van Suidwes, die Karoo se uitgestrekte vlaktes, De Aar, Matjiesfontein, die Hexriviervallei en die Boland tot jy vroegoggend Wellington se leerlooiery ruik en jy weet oorklimtyd vir Stellenbosch het aangebreek. Dit terwyl die opgewondeheid van ‘n nuwe kwartaal of skooljaar en hereniging met skoolmaats jou beetpak en die hartseer van verlange na die plaas vir eers demp.
Hier het Juffou Coetzee met al haar eienaardigehede my ook ‘n paar lewenswaarhede geleer. Een van haar geliefde sêgoed was yster slyp yster – ja ek het eers later besef watter invloed sy op my lewe gehad het. Nie dat ek met alles saamgestem het nie en steeds nie saamstem nie, maar dit het my die keuse gelaat om myne te maak wat ek wou, maar terselfdertyd my eie pad te loop. Daar het ek ‘n liefde vir klassieke musiek ontwikkel by Akama Fick, ons destydse musiekonderwyseres, ek het die voorreg gehad om Shakespeare en N.P. van wyk Louw in die HB Thom Teater en Mynhardtville opelugteater in Kaapstad te ontdek en ek het kuns leer waardeer.
Ai die mooie Stellenbosch, ek hunker vandag nog terug na die pragtige omgewing, die mooi ou geboue, die akkerbome, Eersterivier met sy kabbelende waterstroom oor die ronde spoelklippe, die pragtige berge en die kuiers by skoolmaats op wynplase in historiese huise wat na ou hout en ou boeke ruik.
Waar eike droom
Dorpstraat se afgewitte huise
(vandag meesal aansitplek vir spyse)
neem my op verre paaie
plek-plek half verwaai
in vergetelheid van tyd
die ou meulstroom vind ek nie weer
moes seker ook die knie knak
voor die aanslag van die tyd
selsfs Eersterivier is droeër
as wat ek kan onthou
my jonkweesdrome
lê windverwaaid
tussen blare onder bome
met hier en daar ‘n spatsel goud
van lank t’rug se onthou
in Stellenbosch se strate
langs Eersterivier se stroom
probeer ek na soveel jare nog
my herinnerings weer vind
– waar eike staan en droom

Toe universiteit toe aan UPE in Port Elizabeth, die vriendelike stad, die opwindendste fase in my lewe as jong volwassene en waar ek gevoel het die wêreld gaan vir my oop, daar was soveel om te ontdek. Nie dat ek die mees voorbeeldige student op die kampus was nie, daarvoor was die sosiale lewe te belangrik. Maar ek dink ek het ‘n goeie balans gehandhaaf tussen klas draf, jool, sokkies en Saterdagaand danse by die ou Minhetti Hotel by Seaview – (teen vandag seker al die stryd teen vooruitgang verloor). Ek het seker gemaak dat ek die beste van beide kry en my lewe ten volle geleef met die opwinding van jong liefde en die hartseer van liefdesteleurstellings.
Dis jammer dat hegte vriendskappe van daardie wonderlike tyd verlore moes gaan want ons moes ons eie paadjies loop, maar danksy Facebook ontdek ons weer stelselmatig mekaar.
Daarna die opwinding en eise van ‘n volwasse lewe met ‘n beroep en ‘n huwelik wat meeste jongmense gelyktydig aanpak. Mens kom te staan voor vele probleme, siekte, terugslae en staan geliefdes aan die dood af, maar natuurlik is ons daaglikse bestaan nie net negatief nie. ‘n Beroep en huwelik kan baie bevredigend wees en so was dit ook vir my.
Maar nou is ek in ‘n volgende fase – aftrede. En ek geniet elke oomblik daarvan. Ek ontdek fasette van myself wat ek maar altyd geweet het bestaan, maar wat moes terugstaan vir ‘n beroep in die proses om voorsiening te maak vir hierdie “laat” fase in my lewe. Ek begin weer al my kreatiewe fasette ontdek en uitleef. Ek probeer skilder en gaan die jaar met pottebakkery begin waarvoor ek weekliks Swakop toe moet ry, maar die begeerte is te groot om langer te ignoreer.
Toe Liesel my nou die dag vra watse beroep ek sou kies as ek dit nou weer kon doen, was my antwoord onomwonde mode-ontwerp. Ek het van kleintyd my eie klere gemaak en naaldwerk op skool gehad (nadat Juffrou Coetzee my pa aangeraai het dat ek liefs maar die wiskunde moet los en op naaldwerk konsentreer – ek sê mos sy was ‘n wyse ou dame). Ek het dit sterk oorweeg om dit verder na skool te bestudeer, maar as gevolg van ‘n gebrek aan geleenthede of kennis om te weet wat die geleenthede is, het ek daarteen besluit. Maar klere het nog altyd prentjies in my kop gemaak en ek sou wat wou gee om nuwe skeppings te ontwerp en te maak. Maar in die drukgang van die lewe het hierdie behoefte op die agtergrond getree en die naaimasjien het gestaan en verroes. Ek het dit sowaar nou die dag nog oorweeg om van die ding ontslae te raak. Tot ek nou die aand Pretville op televisie kyk en daardie vrolike rokkies weer die ou lekkerte in my wakker maak en ek terstond Swakop toe ry om vir my geblomde lap te gaan koop. Ek het my masjien afgestof, geolie, sy spanning reggesukkel en begin werk. Of moet ek liewer sê speel, want dis meer vir my soos speel, heerlik, heerlik.
En terwyl ek so sit en werk en die voëltjies hoor en krieket op die televisie luister, gaan my gedagtes weer vêr terug plaas toe – daar waar ek vakansietye my eie klere gemaak het terwyl die rustige uitsending van krieket op die radio en die piekeloë en geelvinke se gebaljaar in die bome soos ‘n kalmte in my gemoed kom lê het. En ek is volkome gelukkig en tevrede want dis of ek ‘n sirkel voltooi het. Ek is terug daar waar ek begin het, waar die lewe uitspeel in plesierige tydverdryf. Nou kan ek weer terugaan na daardie tyd en geniet wat ek toe geniet het en my kreatiwiteit speel-speel uitleef.
Nou leef ek in my eie Pretville waar elke dag vir my ‘n plesier is en die opgewondenheid oor dit wat ek alles wil doen deur my hele wese bruis – soos vonkel in sjampanje.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed